Skitternag vir dokter Vasti. Rykie Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skitternag vir dokter Vasti - Rykie Roux страница 6

Skitternag vir dokter Vasti - Rykie Roux

Скачать книгу

haar mooi gevormde wenkbroue hoër.

      “ ’n Jong maar baie knap narkotiseur. Verlede jaar toe ek noodwerk in Mosambiek gaan doen het, het hy uit sy eie opgedaag en gehelp. Ek gee my werk met ’n geruste hart aan hom oor. En ja, Engela, Frits is die gemaklikheid self,” sê dokter Peens.

      Vasti sug innerlik. Hoekom moet Frits juis hiernatoe kom? Hy weet mos sy werk hier, en sy het hom so mooi gevra om weg te bly van haar. Hoekom klop haar hart so vinnig by die blote gedagte dat sy hom weer gaan sien? Hoekom onthou sy nou elke erotiese droom wat sy die afgelope amperjaar oor hom gehad het?

      “Jy en Frits sal uitstekend klaarkom, Vasti,” sê dokter Peens niksvermoedend.

      “Ek gaan jou mis, oom Pierre,” sê sy.

      Sal sy en Frits ooit weer kan saamwerk? Ná wat daardie nag in die rietskerm in Mosambiek gebeur het? Sy het hom elke dag gemis, maar sy is meer vasberade as ooit om van hom af weg te bly.

      Dokter Peens staan op en kyk plegtig om hom rond. Dis die laaste keer dat hy as kollega saam met hulle tee gedrink het. Sy sal die reuk van sy ouderlingpepermente, wat sy altyd met hom sal assosieer, mis, maar ook sy menslikheid en nederigheid.

      “My viertrek staan gepak. Ek en my vrou vertrek môre Namibië toe,” sê hy en probeer dapper klink om ná soveel jare af te tree.

      “Geniet dit,” glimlag sy toe hy uitstap.

      Engela stap by die deur uit wat na die teaters lei. Die middag se teaterlys wag.

      “En wie op aarde is Frits Spies?” vra Zelda weer.

      Vasti probeer haar skouers ongeërg optrek. “Jy hoor mos: die narkotiseur wat volgende week in dokter Peens se plek inval.”

      “Ek wonder of hy môreaand by die hospitaaldinee gaan wees,” sê Zelda.

      O genugtig, sy het skoon van die dinee vergeet. Sy sal Jacques se rooi rok aantrek, besluit Vasti. Sy moet Frits probeer oortuig dat sy nog steeds lief is vir Jacques.

      “Hy begin eers volgende week amptelik werk, dalk kom hy nie,” sê sy hoopvol.

      “H-m, ek hoop tog hy daag op.”

      “Hoekom?” vra Vasti en staan op.

      “Want jy het ligpienk geword toe sy naam genoem word, en onse suster Duiwela het ook skielik rooimiere gekry.”

      Vasti skud net haar kop. Zelda is ’n gekwalifiseerde ortopediese chirurg, maar sy verkies om nie haar eie praktyk te hê nie. Sy verkies om Vasti en die ander ortopediese chirurg met operasies te assisteer terwyl haar tweelingseuntjies nog klein is en sy nie sulke lang ure wil werk nie. Zelda is ’n wonderlike dokter, maar haar blou oë is soms net te skerpsinnig en oplettend wat persoonlike sake betref. In die jaar wat hulle saamwerk, het Vasti haar leer ken as nugter en volwasse, iemand sonder komplekse en met baie goeie insig in mense.

      Dorothy Twala drafstap die teekamer binne. “Ek loop nou net vir dokter Peens raak en hy sê my Frits Spies kom in sy plek. Dis wonderlike nuus!”

      “Ken jy hom dan, Dorothy?” vra Zelda.

      “Hy het verlede jaar vir my en Vasti in Mosambiek gehelp ná die sikloon. Jy moet hom sien steke insit: tjoef-tjaf en dis klaar. Ek het gedink hy is ook ’n chirurg, maar toe is hy al die tyd ’n narkotiseur.”

      Net die noem van Mosambiek wil Vasti laat bloos. Haar brein bewaar met fotografiese presisie die beeld van Frits se glimmende grys oë toe hy daar in die rietskerm oor haar gebuig het.

      “The plot thickens. Dus was jy en hy verlede jaar saam in Mosambiek, Vasti,” merk Zelda op.

      “Suster Twala, as jy klaar is, sal ek graag met my teaterlys wil begin,” sê dokter Ingrid Tredoux in die deur.

      Vasti kyk onderlangs na haar. Die ys in haar persoonlikheid het tot in haar stem gekristalliseer. Van haar blonde kroontjie tot haar modelmooi bene, wat selfs vir haar as ortopeed lyk of hulle tot onder haar armholtes aanhou, laat Ingrid haar aan die sneeukoningin dink. Toe sy laat verlede jaar by Berg-en-Dal begin werk het, het Dorothy ook hier werk gekry, maar soms wonder sy of dit vir haar vriendin so lekker is, want Dorothy het by Ingrid Tredoux, algemene chirurg en verskrikker van verpleegsters, beland.

      “Ja, natuurlik, dokter, ek kom,” sê Dorothy haastig en storm uit.

      “Jy weet Duiwela sal Ingrid se buie baie beter kan hanteer as die sagte Dorothy,” sê Zelda.

      “Ek het al probeer dat hulle ruil, maar Engela kry dit altyd bewimpel om by my te bly. En sy is goed met haar werk,” sê Vasti.

      “En sy hou daarvan om te stir, daai een.”

      Vasti sug en staan op. “Ek moet seker gaan saalrondtes doen.”

      “So jy en hierdie Frits?” terg Zelda verder.

      “Ons het vier jaar lank saam gespesialiseer. Is jy nou tevrede?”

      “Jy ken hom dus baie goed.”

      “Sien jou môreaand by die dinee,” sê Vasti net voor sy uitstap.

      Die eerste mens wat Frits raaksien toe hy in die voorportaal staan en die banketsaal binneloer, is Vasti van Vuren. Fier en viets staan sy by ’n tafel, gereed om haar stoel uit te trek. Die lig in die saal is atmosfeerskeppend gedemp, maar dit verdoesel nie die glans van haar donker hare nie. Hy het haar presies drie honderd een en dertig dae gelede gesien.

      As sy net enigiets anders gedra het as dáárdie rok. Is dit ooit dieselfde rok? Natuurlik is dit. Daar is net een rok met sulke kantinsetsels op die skouers. Dis die rooi aandrok van tafsy wat Jacques vir haar gekoop het.

      Kammakastig.

      Dit was verdomp hy, Frits, wat dit uitgesoek en daarvoor betaal het. Want Jacques het nie ’n benul gehad wat haar sou pas nie, en hy wat Frits is, het in ’n grap beduie hoe wyd die kring van ’n man se hande om Vasti se middel sou wees en hoe groot die bakkies van sy hande as dit om haar borste vou.

      Jacques wou gewone blink satyn vat, maar dis sý vingers wat die tafsyrok bevoel het. Sy ma het immers al die jare om den brode klere en gordyne gemaak en hy ken lap. Jacques het soos gewoonlik nie geld gehad om vir die rok te betaal nie en hy het die geld vir sy vriend geleen. En dit weggepraat elke keer as Jacques hom wou terugbetaal, want dit het hom plesier gegee dat Vasti iets besit en dra wat hy in die geheim gekoop het.

      Dit plesier hom, ontdek hy tot sy misnoeë, nog steeds.

      Hy raak aan die skeermesrapsplek teen sy kakebeen. Wil sy met die rok te kenne gee dat Jacques nog steeds tussen hulle is?

      ’n Klomp mense skree iewers opgewonde. Hy kyk rond. Daar is ’n reuse-TV in die ingangsportaal staangemaak vir die groot wedstryd waarin die Blou Bulle speel.

      “Ag nee, ons sit aan dieselfde tafel as die VVV en AtotZ,” sê Engela Dekker hier langs hom en beduie na die lys met die tafelplasings wat teen die muur opgeplak is.

      “Van wie praat jy?” vra hy.

      “Vasti van Vuren se voorletters spel mos VVV. En glo my, as jy haar in die teater in aksie sien, sal jy sien sy is ’n vreemde vlieënde

Скачать книгу