Troukoek maak nie vet nie. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots страница 2

Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots

Скачать книгу

te raak nie.

      Sy onthou daardie dag goed. Hoe Andries met die rowe op die knieë en ’n rooi verkoueneus langs haar staan en snuif het. Hy wou nie daar wees nie, hy wou régtig nie daar wees nie. Andries was dom – hy’t die vorige jaar gedruip en daar was nie veel hoop dat hy dit dáárdie jaar sou maak nie. En arm, sies tog. Hy’t nie eens ’n pa gehad nie. Daar was net ’n loseerder in die agterste kamer, die een met die pampoenkleurige skoene en die dissipelbaard. Maar selfs Andries wat niks gehad het om oor grootkop te hê nie, wou nie eens kamma-kamma met haar trou nie.

      Dit was net hulle drie wat dié dag troue-troue gespeel het. Daar was ’n ernstige gebrek aan deelnemers om al die rolle te vertolk en Jo-Jo moes beurtelings predikant en strooimeisie wees. Sy moes van die appelkissie-preekstoel afspring om die bruid van die dag met haar wye rok van koerantpapier te help.

      “Nou moet jy my soen,” het Dixie Andries in sy pligte as bruidegom onderrig toe Jo-Jo hulle “asbint in whaaif” verklaar het. Maar hy het viervoet vasgesteek, botweg geweier om deel te wees van daardie deel van die seremonie. Sy het die tafeldoek op haar kop agtertoe geskuif en haar lippe getuit. Alles verniet.

      “Ons sal vir jou nog Wilson-toffies gee, man,” het sy taamlik desperaat beloof. Maar nie eens ’n hele hand vol lekkers kon hom sover kry om haar te soen nie.

      “Ek soen g’n ’n meisiekind nie,” het hy gesê en weggehol. Haar net daar in haar koerantpapierrok en tafeldoeksluier gelos. Toe al het haar bubbletjie gebars, toe al het sy ’n voorsmakie gekry, toe al moes sy geweet het …

      Dixie sug nog ’n slag toe sy van daardie dag onthou. Sy maak eers seker dat die voordeur agter haar toegesluit is voordat sy op die rusbank neersyg om haar suster tot orde en nugterheid te probeer roep. “Vir hoe lank gaan jy weg wees? Totdat die Australiër ’n verloofring aan jou vinger gesteek of jy hom tot voor die preekstoel gesleep het?”

      “Ja, ja, asseblief. From your lips to his ears, maar voorlopig net vir drie maande. Dis al wat ek van jou vra – om vir drie maande dinge by Bliss and Beautiful te run, dis al.”

      Dixie snak na asem. “Weet jy wát jy van my vra? Hoe kan jy so wreed wees? Vir my wat nooit weer ’n trourok voor my oë wil sien nie, vir my wat in allergiese knoppe uitslaan as ek die troumars hoor of konfetti sien? Ek sweer as ek ooit weer ’n stukkie troukoek eet, sal ek in die hospitaal beland.”

      “Dis alles in jou kop, jong. Dalk sal dit goed wees as jy daardie perd weer klim en ry.”

      “Daardie perd, my liewe suster, was ’n bedonnerde donkie en het my so hard geskop dat ek nooit weer naby een wil kom nie.”

      Sy hoor hoe Jo-Jo sug. “Die bliksem! Die propperse bliksem wat jou so lelik gedrop het! Sowaar, as ek hom in die hande kry …”

      “Sal jy tien teen een met hom trou.”

      “As Bliss and Beautiful jou troue gereël het, sou dit dalk nie in so ’n fiasko geëindig het nie,” mymer Jo-Jo.

      “Asof al Bliss and Beautiful se troues so wonderlik glad verloop!”

      “Ek weet wat ek doen.”

      “Maar nie alles verloop reg nie – as ek kan glo wat jy my al vertel het. Onthou jy die keer toe die troukar langs die pad gekaap is?”

      “Hoe moes ek weet daar was juis tóé ’n bestelling vir ’n Cadillac by die sindikaat?” Dixie hoor die veggees in haar suster se stem. “Buitendien, die bruid was net ’n paar uur laat.”

      “Met rooi oë, sonder skoene en met modderspatsels op haar trourok as ek jou reg verstaan het.”

      “ ’n Uitsondering op die reël,” sê Jo-Jo nonchalant.

      “En wat van die keer toe die bruidegom die vorige aand in sy tux by ’n ontkleeklub was vir sy bachelor’s en … enne …” Dixie giggel effens.

      “Ja, ja, ek onthou! Toe haal die arme ou die ring uit sy sak en ’n pienk panty val uit en beland oop en bloot voor die predikant se voete.”

      “En die bruid buk, tel die bewysstukkie van sy sondes tussen haar duim en voorvinger op en swaai dit voor die bruidegom se neus rond.”

      “Ek wonder of daardie huwelik nog hou …” mymer Jo-Jo.

      “Heel moontlik nie. Selfs die huwelike wat goed begin het, lê heel moontlik al aan skerwe. Die huwelik is ’n sick joke en die liefde is ’n mite. Dis waansinnig om te trou. Finish en klaar.”

      Maar Jo-Jo is nie in ’n bui vir haar gesanik nie. Jo-Jo glo aan die huwelik – of altans aan ’n behoorlike troue, ’n lekker makietie. Met ’n meters en meters wye trourok en ’n plafonhoë troukoek daarby!

      “Wat van al my suksesse?” wil sy by Dixie weet. “Ek het al heelwat paartjies hand aan hand op hul wittebrood en die horison tegemoet gestuur sonder dat die seremonie in chaos geëindig het. Wie weet, as jy in die Kaap kon trou en Bliss and Beautiful kon …”

      “Selfs nie die engele in die hemel sou my troue kon red nie, sus. Die hele affêre was van die begin af gedoem.”

      Maar tóé het sy nie so gedink nie. Sy is deur die hele toetie, het maande voor die tyd al begin beplan daaraan. Die rok was nie presies wat sy wou hê nie, die skoene ook nie, maar die troubelofte het sy in sierletters op ’n kaartjie van goeie karton uitgeskryf en gememoriseer. Vir ewig en altyd … tot die dood ons skei. Die strooimeisies, die blomme, die satynlinte, alles was daar, alles volgens tradisie.

      Wel, nie alles nie. Nie met so ’n dysfunctional family soos hare nie. Daar moes noodgedwonge ’n paar aanpassings gemaak word om Ma van Pa se keel af te hou, oom Bertie nugter te hou en Ouma aan die lewe te hou. Ook om Jo-Jo sover te kry om nie ’n scene in die kerk te maak nie en Pa en sy metgeselletjie met haar goggabeentjies te akkommodeer sonder dat daar ’n helse bohaai losbars nog voordat die konfetti gegooi word.

      Die histerie het van die begin af hoogty gevier, die spanning was voelbaar. Maar niemand sou kon raai presies hóé groot die chaos sou wees wat voorgelê het nie.

      “Wel, dis nou verby,” herinner Jo-Jo haar met ’n moedswillige sonskynstemmetjie. “En daar is nog baie waarna jy vorentoe kan uitsien.”

      “Ag pleeze!” In Dixie se stem is daar nou nie eens die flouste ou sonstraaltjie te bespeur nie. Die glas is g’n halfvol nie, die glas is léég! Die glas is, om die waarheid te sê, flenters geval. In sy maai in aan skerwe gespat.

      “Ek is siek en sat vir mense wat my met sulke clichés probeer troos oor wat gebeur het. Want daar is nottedêm ’n troos voor. It sucks! Dis al wat daaroor te sê is en klaar. So moenie vir my kom vertel daar is nog baie waarna ek kan uitsien nie.” Sy snorklag. “Soos wat miskien?”

      Jo-Jo antwoord haar nie. Wat ís daar after all te sê?

      “Of wag, ek weet,” help Dixie. “Ek hoor dit genoeg. By die predikant wat Ma ontbied het om met my te kom praat toe sy bang was ek gaan in ’n diep dam vol modderwater spring. By die tannie op die hoek wat vir my ’n aaklige ouvroutrui gebrei het sodat ek nie in my alleenheid van die koue sal verkluim nie. Selfs van ’n paar bleeding heart-vriendinne wat hulle nie in my ondergang verlekker het nie. Ek moet glo uitsien na … tarrada, tarrada … drum roll, drum roll: Die. Res. Van. My. Lewe! Asof Die. Res. Van. My. Lewe nou ewe skielik vreeslik opwindend gaan wees.” Sy haal ’n slag diep asem. “Dit was

Скачать книгу