Troukoek maak nie vet nie. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots страница 4

Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots

Скачать книгу

Voete bymekaar soos ’n outydse goewernante wat vir ’n werksonderhoud kom.

      Laat daar nooit van haar ma gesê word dat sy haar nie soos ’n dame gedra nie, selfs nie wanneer die woede in fyn sweetdruppeltjies op haar voorkop uitslaan nie. Wel, soort van. Haar ma praat nie soos ’n dame nie, tree nie soos ’n dame op nie en ís nie ’n dame nie. ’n Dame gee nie vir haar kinders name soos Jo-Jo en Dixie nie, en ’n dame hou haar tong in toom. Nie Ma nie. Maar sy verwag nogtans om vir een aangesien te word. En soos een behandel te word. Wel, soort van …

      Miskien, so het Dixie al dikwels gedink, as teenvoeter vir Pa se string meisies wat nie eens deur ’n blinde vir dames aangesien sal word nie.

      Haar arme ma voer ’n verlore stryd.

      Dixie wil nie vra nie, maar sy weet sy moet. Haar ma sal die saak nie laat vaar voordat die vuurspuwende berg nie behoorlik tot uitbarsting gekom het nie.

      “Was … was Pa alleen?”

      “Alleen? Was Gerhardus de Lange al ooit in sy lewe alleen? Nee! Nee, natuurlik nie. Sit en ginnegaap met ’n ou meisietjie nie veel ouer as jy nie. Seker so dertig, vyf en dertig, daar rond. Waaroor hulle gesels, weet net hy en die duiwel alleen. Kan nie oor die werk wees nie, daarvoor is daardie gesiggie te dom. Dis so ’n dikketjie dié keer, een met ’n ronde gesiggie soos ’n muurhorlosie. Nie sy gewone tipe nie.”

      “Wat ís Pa se gewone tipe?” wonder Dixie hardop.

      “Ja, nou vra jy my ’n ding. Enigiets wat borste en boude het, sou ek sê. Laas was dit ’n rooikop, hierdie enetjie het donker hare. Langerige hare. Hang op haar skouerknoppe. Krullerig. Dis nou te sê as dit nie ’n pruik is nie. Gerhardus de Lange se meisies is so vals dat ’n mens nie weet of hulle net van silikoon en nylon aanmekaargesit is nie.”

      ’n Vreemde heimwee oorval Dixie. ’n Verlange na haar pa, soos sy hom geken het voordat sy van al sy streke geweet het. Haar pa, die man wat haar nou skaam maak om sy dogter genoem te word.

      “Het hy Ma gegroet? Het julle gesels?” vra sy versigtig.

      “My groet? Sal Gerhardus my nou groet! Die vrou wat meer as dertig jaar sy hemde vir hom gestryk en sy skoene vir hom blinkgevryf het? Die vrou wat vir hom twee dogters in die wêreld gebring het en jare lank sy nonsens opgevreet het? Nee, Dixie, jou pa het dwarsdeur my gekyk, gemaak of hy my nie sien nie. Of so nie probeer voorgee dat hy my van g’n adamskant af ken nie.”

      Dixie staan op, raak aan haar ma se arm. “Ek is jammer, Ma.”

      Haar ma snork. “Jammer sal niks regmaak nie, kind, maar dankie in elk geval. ’n Mens sou dink ek moet teen dié tyd gewoond wees daaraan om my eks saam met sy nuutste poppie te sien, maar …” Haar ma snuif. “Dit maak nog elke keer seer.” Nou raak haar ma se stem tranerig. Sy slaan op haar bors. “Hier! Hier aan die binnekant huil ek nog oor die ellendeling.”

      Toe gaan Dixie maar kombuis toe om vir hulle tee te maak. Sy weet nie wat sou word van vrouens wat so deur mans vertrap word as daar nie tee in die wêreld was nie. Met ’n winkelkoekie by, besluit sy toe sy die skinkbord inneem. Sommige dae is net te trietsig om sonder ’n kalorieryke soetkoekie te oorleef.

      2

      Eers later die aand kom Dixie by haar rekenaar uit om haar e-pos te lees. Nie dat daar veel is nie. Sy is soos dryfhout eenkant toe gegooi. Die nuuskieriges het klaar hul vrae gevra, klaar die laaste druppel sensasie oor die troue wat platgeval het opgeslurp, en die res van haar vriende skaar hulle aan die bliksem se kant. Sy is persona non grata.

      Die lewe, weet Dixie al teen hierdie tyd, is nie altyd regverdig nie. Jy kan skop en jy kan slaan en jy kan die klaagliedere van Jeremia die een na die ander aanhef, dit gaan nog niks verander aan die saak nie. Jy moet vat wat aan jou uitgedeel word en dit sluk. Partykeer met ’n dop in die hand, ander kere soos ’n duif wat ’n mieliepit opgepik het wat te groot vir sy keel is om af te sluk. Haar ma doen dit al ’n leeftyd lank, sy sal ook moet.

      Vanaand is dit net Jo-Jo se e-pos wat in haar inbox lê. Jo-Jo wat met haar kop smokkel en baie goed weet waar haar achilleshiel sit.

      Hoeveel langer kan jy dit daar by Ma uithou? As jy Kaap toe kom, kan jy in my woonstel bly. En jou eie baas wees.

      En, wonder Dixie sinies, gaan jy my ’n salaris betaal, een wat jy uit jou eenbeen-bruidswinkeltjie genereer? Finansiële beplanning is nie een van Jo-Jo se sterk punte nie.

      Die wins wat jy uit Bliss and Beautiful maak, indien enige, is joune, belowe Jo-Jo in haar e-pos. Sorg net dat jy af en toe ’n paaiement betaal sodat die bank nie die plek terugvat nie.

      Sy wil vir Jo-Jo bel, maar nie terwyl Ma haar kan hoor praat nie. Ma het mos x-straaloë en die ore van ’n polisiehond. Dixie weet sommer wat gaan gebeur. Ma sal ingestorm kom om te hoor of dit met ’n inbreker of met haarself is wat sy gesels. En Dixie is nie seker waaroor Ma die meeste bekommerd sal wees nie.

      Sy sal daarop aandring om ook met Jo-Jo te praat en dit sal ’n gepreek afgee wat vir niks skrik nie. Die preek sal vir Jo-Jo bedoel wees, maar sy wat Dixie is, sal ook na elke woord moet luister en met dubbele slae geslaan word. Twee vir die prys van een.

      Wanneer Jo-Jo vir Ma van haar nuutste jag-avontuur Down Under gaan vertel, weet Dixie nie, net dat sy nie naby wil wees om daardie geweeklaag te hoor nie. Nie dat Jo-Jo haar daaraan sal steur nie.

      Dixie skakel die rekenaar aan en gaan op Facebook in. Ja, sien sy, gelukkig is Jo-Jo beskikbaar om te chat.

      Met wie chat jy? tik Dixie. Jou Aussie?

      No ways. Dis al vroegoggend daar by hom. Hy’s by die werk. Nie die regte tyd …

      Vir soet woordjies nie?

      Of dirty talk nie.

      Ek wil geldsake met jou praat.

      Bliss and Beautiful se geldsake? Dis taamlik beroerd, ek moet sê. Maar as jy soms die paaiement betaal het en vir Coco iets in die hand gestop het, behoort daar ’n geldjie oor te wees vir kos en klere.

      Coco?

      My assistent.

      Wat jy wáár kry? En waarmee betaal?

      Coco is ’n sweetie-pie. Sy vra nie veel nie. ’n Bietjie mal in die kop, maar wie is nie? En die customers is gek oor haar.

      Dixie is bly om te hoor daar ís darem customers, gek ofte nie.

      En waarvan gaan jý dan leef as ek die wins vir my vat? wil sy weet.

      Van liefde en koue water, wat anders?

      Dixie weet sommer sy moet hierdie gesprek beëindig voordat sy ’n hoofpyn kry wat haar lank uit die slaap gaan hou.

      Gelukkig betaal Saamwerk Versekering my pensioenbydrae een van die dae uit. Maar ek moet Pa en Ma seker terugbetaal vir die troue. Hulle het elkeen ’n deel betaal om my getroud te kry. Nou sit hulle nog steeds met my opgeskeep. Wel, Ma in elk geval. Ek dink Pa het intussen weer van my bestaan vergeet.

      Sy hoef nie lank op reaksie te wag nie.

      Dis die bliksem wat daarvoor moet betaal, nie jý nie. Sleep hom hof toe vir troubreuk!

      Dis

Скачать книгу