Tydbom. Johan Marais

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tydbom - Johan Marais страница

Tydbom - Johan Marais

Скачать книгу

      

      Toe apartheid nog wet was, sluit Johan Marais as jong seun by die Suid-Afrikaanse Polisiemag aan. Dan volg ’n nagmerrierit deur ’n verwronge wêreld van geweld soos sy lewenspad deur Suidwes en die brandende townships van die Oos-Rand loop. Uiteindelik verval hy in ’n parallelle heelal van korrupsie, seks en dwelms.

      Tydbom is nie vir sissies nie. Maar vir die leser wat die spervuur kan deurstaan, wag daar ’n merkwaardige verhaal. Dit is tegelyk Marais se boetedoening en sy eie vorm van terapie - ’n hoogs persoonlike rekord van die geestelike foltering wat iemand met post-traumatiese stres beleef.

      Oor die skrywer:

      Johan Marais was ’n polisieman in die jare toe apartheid en die onluste in die townships op hul ergste was. In die sewentigerjare neem hy ook aan die Grensoorlog deel as lid van Koevoet voordat hy in die tagtigerjare by die Oos-Randse Onluste-eenheid aansluit. Hierdie is sy ware verhaal oor alles wat hy deurgemaak het en die onmenslike geweld waaraan hy blootgestel is. Marais het in die vroeë negentigs uit die polisie bedank en ’n suksesvolle skrootonderneming begin. Hy het egter aan post-traumatiese stressindroom begin ly en sy wêreld het amper in duie gestort voordat hy hulp gaan soek het.

      INHOUD

1 ’n Kroeggeveg
2 ’n Kind in ’n grootmenswêreld
3 ’n Lewe op die plotte
4 Die werklikheid begin soos ’n fliek lyk
5 Koevoet
6 Verdrinkings en rowers
7 Té veel vir té lank
8 Troukoors
9 Skroot en onluste
10 Dog eat dog
11 Pretoria en sy plesierhuise
12 Noodkreet
13 Pen en papier

      Naskrif

      Ek het geen rus of geen vrede nie, geen verposing nie, net angs.

      Job 3:26

      Baie polisiemanne is as mens totaal vernietig deur hul werk. Ek het die boek geskryf om self staande te probeer bly, maar die boek is ook vir hulle, en vir hul vrouens, kinders en familie.

      1

      ’N KROEGGEVEG

      ’N geweldige vuishou tref my van iewers aan my linkerkant op my kakebeen. Die hou is so hard dat ek grond toe gaan.

      Terwyl ek half bewusteloos lê, skop iemand my reg in my gesig. Ek hoor hoe kraak my neus toe die skoen my tref en is amper weer bewusteloos. Van waar ek lê, kan ek dofweg sien die hele ding ontaard in ’n regte kroeggeveg en almal slaan almal.

      Dis al weer sulke tyd, dink ek. Dis wéér die ou donnerse storie.

      Dit was ’n heerlike warm Saterdagaand en ek het ’n koue bier – of was dit al my sesde? – in een van Nigel se watergate sit en drink. Almal was joviaal en het ’n Curriebekerwedstryd op televisie gekyk. In hierdie klein kroegies ken almal vir almal en die hele gemeenskap weet van ’n ou se skandes of prestasies. Ek ken die plek goed, Nigel is my tuisdorp.

      My oog vang dié van ’n vrou met wie ek al op ’n paar vorige geleenthede vasgesit het en wat ek juis om daardie rede vermy. Sy kyk kort-kort in my rigting en ek besef sy skinder openlik by haar vriendin oor my. Dit pla my. ’n Paar biere later staan ek op en gaan groet haar vriendelik. Sy sê vir my in geen onduidelike taal nie ek moet fokkof en ver weg van hulle gaan sit, wat ek toe maar ewe gedwee doen. Ek gaan kla by die eienaar oor die vrou se gedrag, maar hy maak dit af as ’n kleinigheid. Hy sê ek moet ontspan – “sy is maar so,” soek altyd moeilikheid met almal.

      Heelwat later besluit ek om te verkas. Op pad uit staan sy egter vir my en wag en begin my sleg te sê. Ek het genoeg gehad. “As jy jou soos ’n man wil gedra, sal ek jou soos een behandel,” waarsku ek haar. Maar sy hou aan om my te vloek en ek verloor dit heeltemal. Ek gee haar ’n klap met die oop hand dat sy in ’n hoek op haar gat beland.

      Dit is tóé dat die vuishou my tref. Ek kom half dronkerig orent en slaan ’n fris jong man wat aan my linkerkant staan. Hy gaan ook grond toe, maar toe slaan sy pa my en ek val weer.

      Daar kom ’n effense bedaring en ek kry kans om te vra wie my in die gesig geskop het. Die ou word uitgewys en hy begin op my te vloek. Ek slaan ’n hou na hom, maar in my besopenheid en met my voos geslaande verstand mis ek. Hy kry weer ’n hou in.

      Die bloed stroom uit my neus en mond, oor my nuwe Pringle-hemp. Ek buig my skewe neus reguit, kom agter dat ek benewens ’n stukkende tand van die eerste hou en ’n seer lip en neus nie veel oorgekom het nie. Dis ’n genade dat van die mense my kom vashou en die geveg beëindig word.

      Ek ry huis toe, sluk ’n paar pyn- en slaappille en sak in ’n genadige slaap weg. Die volgende oggend klim ek baie lyfseer in die stort. Soos die water op my spuit, is dit asof my hele wêreld tot stilstand ruk. Hoekom het ek toegelaat dat gisteraand gebeur? Ek is vyftig. Wat op aarde wil ek bereik deur op my ouderdom nog só aan te gaan?

      Ek staan ’n lang ruk in die stort en probeer die skandes van die vorige aand weg was. Waar het dinge verkeerd gegaan?

      Skielik kom al die vorige kere by my op waar ek in presies dieselfde soort situasie was. As daar moeilikheid was, was ek daar. Ek het dit nie altyd bewustelik opgesoek nie, maar dit het mý altyd gevind. Ek verstaan nie wat met my lewe gebeur het nie, maar ek wil nie meer hier wees nie.

      2

      ’N KIND IN ’N GROOTMENSWÊRELD

      Waar het dit begin? Hierdie algehele verval van my menswees en my waardes tot op die vlak waar ek fisiek en geestelik nie meer die lewe in die oë kan kyk nie? As ek mooi dink, seker kleintyd al.

      Laat in 1975 sluit ek by die polisie aan en werk as studente-konstabel by die Springs-polisiestasie. Die volgende jaar is ek deel van die Januarie-inname by die Polisiekollege in Pretoria. Daar maak ek my matriek klaar, hoofsaaklik met regsvakke soos Strafreg, Wettereg, Kriminologie en Volkereg en voltooi my jaarlange polisie-opleiding. In die eerste drie maande van dié opleiding mag jy nêrens heen beweeg teen ’n stapspoed nie: Jy moet heeltyd draf, behalwe as jy van die eetsaal af kom. In dié tyd kry niemand ook verlof nie; eers daarna kry jy jou eerste naweekpas. Dan raak die tempo effens stadiger en die opleiding draagliker. Die dissipline bly egter baie streng en jy spring amper op aandag vir alles wat beweeg.

      Jy neem ook deeglik kennis van die Swart Gevaar. Jy is jonk en maklik beïnvloedbaar en dit word by jou ingeprent dat swart mense staan vir onheil, terrorisme en die Antichris. Jy word baie subtiel gebreinspoel oor die politieke kwessie in die

Скачать книгу