Tydbom. Johan Marais

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tydbom - Johan Marais страница 3

Tydbom - Johan Marais

Скачать книгу

doen hulle dan as gay voor, ontmoet ’n belangstellende en gaan saam na sy woonplek. Daar aangekom, rand hulle hom aan en beroof hom. So much for police protection.

      Toe ek agttien word, mag ek ook vir die eerste keer my amptelike sywapen dra en uitgaan in ’n patrollievoertuig. Dit is enige jong polisieman se droom, eers dán voel jy dat jy regte polisiewerk doen.

      Daar was in dié tyd kleinerige opstande wat voortgespruit het uit die 1976-onluste. Die metode wat aangewend is om die onluste te beheer, was om met sowat dertig polisiemanne ’n blokformasie te vorm en die onlusmakers met militêre presisie te intimideer. Ons het dit by die Polisiekollege baie goed ingeoefen, maar in die praktyk het dit nie so goed gewerk nie. In die eerste plek was daar nooit dertig polisiemanne beskikbaar wat saam die formasie kon vorm nie. Tweedens was die plekke waar dit toegepas moes word nooit van so ’n aard dat dit kón werk nie, aangesien onlusmakers jou van agter huise en skuilings met klippe bestook.

      Toe is lang plastieksambokke aan ons uitgereik en pleks van die blokformasie toepas, het ons tussen die opstandiges ingestorm en hulle uitmekaargeslaan. Dit was effektief, hoewel barbaars. Waar die sambok se punt getref het, het die vel tot op die vleis oopgeskeur. Die sambokke is ’n ruk later weens humanitêre redes teruggetrek.

      Ná ’n paar maande op patrolliediens rapporteer ek weer vir een van die vele nagskofte. Dit is in die winter. Van der Merwe, ’n ou van min of meer my ouderdom, is die aand my bestuurder. Omdat dit maar stil kan raak in die oggendure, het ons ’n draagbare FM-radio by ons om musiek te luister. Die patrollievoertuig is ’n ou groot, lomp Dodge-bakkie.

      Dié aand sit ek en probeer die FM-radio op ’n stasie kry. Van, wat maar altyd ’n bietjie windgat was, is soos gewoonlik haastig op pad na nêrens en vat elke draai met spoed. By die volgende draai vlieg die deur aan my kant oop en ek word uitgeslinger. Eers rol ek en toe begin ek te skuif. Nog voor ek behoorlik tot stilstand kan kom, staan Van reeds by my en vra: “Is jy oukei, is jy oukei?”

      Wel, ek was nie oukei nie. My ego het baie seergekry, my uniform was aan flarde. Ek was orals stukkend, en om sout in die wonde te vryf, lê die radio langs my kop en speel “Another One Bites the Dust”.

      In die kaserne het ek aksie van ’n ander aard beleef. Die menasie se hoofkok het ’n baie mooi dogter gehad. Wanneer sy van die skool af gekom het, het al daai poliesmanne se oë op steeltjies gestaan. Ek begin toe so te kuier, kuier, kuier – by die huis – want sý vertel vir my sy is agttien en in matriek. Sy lyk ook na die genuine artikel, maar al die tyd is die girl in Standerd 7 en minderjarig.

      Toe ek weer sien, jaag haar ma my met die vleisbyl oor die heining. Om te verhoed dat ek vervolg word, word ek daardie selfde nag nog vir drie maande na Ovamboland gestuur vir grensdiens.

      Ek kom sonder enige grensdiensopleiding op Oshakati aan en word in beheer geplaas van die insleep van stukkende en landmynbeskadigde voertuie. Die motorhawe is reg langs die lykshuis, en die lyke van soldate wat in polisie- en weermagoperasies sterf, kom daagliks in. Ons begin telling hou. Gou raak ek gewoond daaraan dat ’n menselewe niks werd is nie.

Tydbom14.psd

      My “wiele” in Oshakati: ’n mynbestande insleepvoertuig.

      Ná die drie maande is ek terug in Springs. Die ding met die hoofkok se dogter het afgekoel en ek hervat my werk.

      Ek word uitgeplaas om buitedienste te verrig en begin voetpatrollies stap. In twee voorvalle gedurende dié voetpatrollies is ek die slagoffer van ernstige aanrandings. Die eerste was tydens ’n poging om ’n swart man te arresteer wat in die openbaar gedrink het. Toe ek nog besig was met die arrestasie, trek ’n groep swart mans my in ’n kafee in en begin my te skop en te slaan. My neus word gebreek en terwyl ek op die grond lê, word my vuurwapen afgevat. Vier onbekende bruin mans snel my te hulp en ons kry naderhand die oorhand. Ek arresteer steeds die verdagte, maar het baie groot geskrik.

      Die tweede geval was naby die Springs-spoorwegstasie, toe ek ’n man wou arresteer wat onwettig sit en dobbel het. Weer word ek deur ’n groep omstanders toegetakel en moet in ’n meubelwinkel skuiling soek. Dit ontaard in ’n oproer in die kleine toe die mense begin om die winkel se ruite stukkend te gooi. Ek ontbied per telefoon hulp (ons het daardie jare nog nie tweerigtingradio’s gebruik nie) en is regtig baie benoud. My kollegas kom net betyds daar aan.

      In my buitedienste-periode sien ek ’n motorongeluk in Vlakfonteinweg tussen Springs en Dunnotar wat tot vandag toe by my spook. Ek was in daardie stadium nog nooit as ’n polisieman op ’n ongelukstoneel nie, al was dit nie die eerste keer dat ek ’n ongeluk gesien het nie. My destydse wyksersant het my by die toneel afgelaai en beveel om dit op te meet en die dossier te open.

      ’n Twintigsitplekbus en ’n passasiersmotor was in ’n kop-aan-kop-botsing. Orals lê lyke en beseerdes. Altwee die insittendes van die motor is dood en sit in hul motor vasgekeer. Die passasiers van die bus was lede van ’n kerkorkes wat op pad terug was van ’n optrede iewers. Die busbestuurder se bene is vergruis en hy is vasgekeer. Die arme man word aanmekaar flou van die intense pyn. Vir bykans ’n uur lank gee hy kort-kort sulke verskriklike gille. Die brandweer het hom heelwat later bevry nadat ’n plaaslike dokter hom verdoof het.

      Ek het hom in die hospitaal gaan besoek om sy verklaring af te neem. Sy bene kon darem gered word, maar dit was erg vermink. Dít was my motorongeluk-vuurdoop. Onlangs het ’n vriend van my, wat saam met my by die Onluste-eenheid diens gedoen het, op presies dieselfde draai in ’n kop-aan-kop-botsing gesterf. Ek gebruik hierdie pad ook baie en wanneer ek daar ry, hoor ek altyd weer die busbestuurder se gille.

      Skaars ’n week ná hierdie ongeluk word ons uitgeroep na Springs se spoorwegstasie. ’n Man is tussen twee treintrokke vasgedruk. Met ons aankoms sien ons dat die skakels wat die trokke aan mekaar verbind dwarsdeur sy rug en maag steek. Hy leef nog, maar wanneer die brandweer hom bevry deur die treintrokke van mekaar af te haak, sterf hy oombliklik.

      3

      ’N LEWE OP DIE PLOTTE

      Ek het my verstand gekry op ’n plot in die woongebied Rand Collieries in Brakpan. Op die plot het my pa ’n gemengde boerdery gehad – onder meer ’n spul ganse. Ek was altyd maar effens versigtig vir dié lot en het gehardloop as hulle naby my was, want daar was so ’n aggressiewe mannetjiesgans wat my altyd bestorm het. Ek was seker so drie jaar oud toe die gans my eendag aan die totterman beetgekry het. Om die een of ander rede was ek sonder ’n broek en die gans het gegryp.

      Ek skreeu en hol, met die gans agterna, en ek hardloop reguit in ’n oop rioolput in. My ma het die hele affêre staan en dophou, my met lang vingers daar uitgetrek en met ’n tuinslang afgespuit.

      Waarom vertel ek dié storie? Ek dink dit is omdat episodes uit my kinderdae altyd ook by my opkom wanneer ek probeer vasstel waar my lewe verkeerd geloop het. Ek kan byvoorbeeld glad nie onthou dat my pa my ooit vasgehou, op sy skoot getel, gesoen of sommer net sy hand deur my hare getrek het nie. Hy het geen belangstelling in my skoolwerk getoon nie en nooit van my sportbyeenkomste bygewoon nie. Selfs toe ek later in landloop en marathons begin presteer het, het hy my nooit kom aanmoedig nie. Ek was vir hom maar net ’n ekstra mond wat hy moes voed en ’n ekstra stel hande wat op die plaas kon werk. Dis by my ma dat ek troos en liefde gekry het.

      Kort nadat die gansmannetjie my beetgekry het, moet my pa die plot verkoop en ons gaan woon by my oupa, wat ’n melkboer in Witpoortjie naby Brakpan was. My oupa was ’n stoere ou Ossewa Brandwag-lid, baie streng maar regverdig.

      Naby

Скачать книгу