'n Dorp soos Silwer Streams. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos

Скачать книгу

      By die rolbalbaan is dit net mooi teetyd toe Saais van die pastorie af terugkom. Almal sit onder die veranda rondom Piet Paai se skinkborde. Saais se oë soek totdat hy vir Sannie kry. Besig om die besoekers te bedien natuurlik. As dit ook nie vir háár was nie …

      Hy sorg dat hy naby haar stelling inneem – sy moet die storie eerste hoor. Maar tot sy teleurstelling vind hy sommer met die intrapslag uit dat alles reeds uitgelek het. Wie sou dit nou hier kom uitlap het?

      Gert is reeds weer die cowboy in sy eie fliek: “Die geweldsmisdaad is al lankal hier by ons, dis ’n feit,” teem hy. “Kyk dan nou vanmôre. En intussen is hulle besig om ons te ontwapen. Iemand sal moet sê tot hiertoe en nie verder nie. Hulle gaan ons nie help nie.”

      Hulle. Gert Esterhuizen se vernaamste vyand. Sal iemand hom tog nie vandag kortvat nie! Een van die besoekers dalk?

      Maar die hoop beskaam. “Julle het geen idéé nie!” roep een van die vreemdes uit. “Hier by julle is dit nog mák, maar daar by óns, in die stád!”

      Saais herken die vestiging van die bekende patroon. Die een storie is beter as die ander. Dit troef en oortroef. Elke dorp het sy eie kampioen. Selfs ou Langjohanna Snyman het ’n eiertjie te lê – iemand het nou die dag haar tuinslang uit die voortuin gesteel.

      Hy is bly toe die spul weer baan toe gaan. Nou kan hy vir Sannie met die vuil koppies help. Hy speel nie vandag nie; die hele maand al keil die skouer hom op. Oudok skud net sy kop. “Jy sal moet laat kyk, Saais. Dis waarskynlik artritis. Ek sal vir jou ’n afspraak by ’n ortopeed maak. Jy weet, ons word nie jonger nie.”

      Oudok se gat, dink Saais. Hy het die skouer maar net ’n bietjie verlê, dis al.

      Dit is toe hy die klubhuis se agterdeur oopmaak om by die vullisblik te kom dat hy die twee gewaar. Hulle sit teen die stam van die groot seringboom, knap voor die deur. Die bene ver voor hulle uit, voete gekruis. Langs die man staan ’n plastieksak met die Spar-logo.

      “My heretjie!” kom skrik Sannie skuins agter Saais, “en wat soek hulle nou hier? Julle!” roep sy, “júlle!”

      Die twee lyk nie juis gepla nie. “You tell the lady in white,” sê die man vir die vrou.

      Die vrou sukkel orent. Met die opstaan val daar iets uit haar klere op die grond; haastig staan sy vorentoe sodat die twee mense met die wit klere dit nie moet sien nie. Iets soos ’n plat pakkie vleis of ’n groot sjokolade.

      Wat hulle nou wáár gesteel het? wonder Saais.

      Die vrou kom nader, steek van ver af haar hand uit. “Aangename kennis,” sê sy, “ek is Lorna, en daai is Frank. Ons toer bietjie.”

      Vieserig vat Saais die hand. Hy voel die skurfte van óú vuil en laat los dadelik weer. Daar kom ’n paar gilletjies van die baan se kant af – die besoekende vroumense is opgewonde. Dit gee Sannie uitkomkans. “Hulle het my nodig dáár,” sê sy en druk Saais liggies in sy rug.

      Saais knik, hy verstaan. Sy gaan natuurlik die pepersproei haal wat sy met haar saamdra. Hy het haar lankal gesê dit moet altyd deel van haar handsak se inhoud wees, saam met die lipstiffie en die klein spieëltjie en die pakkie mentlekkertjies en al die intieme ou goetertjies wat vrouens maar met hulle saamdra. Maar terwyl hy nog voor die vreemde vrou staan wie se gesels klaarblyklik nou opgedroog het, hoor hy Sannie van die veranda af roep: “Gert! Gert! Hier agter sit twee en drink! Jy moet die polisie bel!”

      Gert? Vir wat sal sy dit nou aan hóm gaan rapporteer? Hy hoor Gert se antwoord, maar kan nie uitmaak wat hy sê nie. Seker te bang om self te kom kyk. Maar Sannie laat haar nie onderkry nie: “Nee, ek help vir Saais om hulle dop te hou!” hoor hy haar. “Wil jy nie gou bel nie?”

      Steeds hoor hy nie wat Gert sê nie, maar dis nie lank nie, toe staan Sannie weer by hom. So half agter hom, asof sy by hom kom skuil. Hy hoor hoe haar asem jaag.

      Intussen het die man onder die boom ook nou opgestaan. Lank en maer en vuil. Hy buk en tel die pakkie op wat die vrou laat val het. Dit verdwyn in die Spar-sak.

      “Hulle is onskadelik, Sannie,” stel Saais haar fluisterend gerus. Maar toe hoor hy ou Gert se hinkstap in die klubhuis, en dan die harde klop teen die kombuisie se ruit. “Haai! Hoei!” skree Gert, “dis nie ’n sjebien dié nie!”

      Toe verskyn hy langs Sannie. Saais hoor hoe hard hy asemhaal, die ou suurstofdief. “My kwit, Sannie!” hyg Gert. “Dis dan wit mense! Vir wat sê jy nie so nie?” Hy druk verby Saais. “Goeiemôre, mense, kan ek julle help?”

      Die vrou tree weer vorentoe, hand uitgestrek. “Môre, môre,” groet sy entoesiasties. “Kyk dan nou so, Frank. Al hierdie mense dra wit klere.” Sy pomp Gert se hand. “Real life angels, all of them. Jy’t nog never so iets.”

      “Tell your angel how he can help,” sê die man kortaf.

      Sy skud haar kop en klap met haar tong in Gert se rigting. “Meneer moet hom maar verskoon, ons is deur diepe waters hierdie laaste.” Sy hou haar hand voor haar oë en snuif. “Diepe waters.”

      Saais sien hoe sy deur haar vingers na Gert loer. Kansvatter. Maar die engel is natuurlik te onnosel om dit agter te kom.

      “Anyways, die misdadigers regeer mos hierdie land. Kômmin skelms. Wat alles vat …” Haar stem breek.

      ’n Gesoute aktrise, dink Saais, nie sonder bewondering nie. En sy slaan die presiese noot om Gert se simpatie te wen. “Alles, Meneer,” sê sy. “Hulle steel ál ons.” Nou snik sy. “Geld, klere, alles. Hulle steel tot van arm mense soos ons. Kyk!” Sy hou haar hande voor haar uit, palms na bo. “Hulle het ons kaal gemaak, Meneer. Ons is nou so arm soos … soos ou Jonas van die Bybel.” Sy huil sulke láng hie-hie-geluide.

      Dit is te veel vir Gert Esterhuizen. Hy draai terug na sy twee klubmaats toe. Wat nou? beduie sy opgetrekte skouers.

      Sannie sê net: “Haai, siestog, ja.” En toe glip sy by die kombuis in en kom dadelik terug met een van Piet Paai se skinkborde, die kleefplastiek nog styf daaroor getrek. Dit is deel van die middagete-borg wat Gert beding het. “Ons kan dié seker afstaan,” sê sy, “ek meen, ons Christelike plig, en als … Of hoe, Gert, jy moet maar sê, jy is tog … ek meen, jy het tog …?”

      Voor Gert enigiets kan sê, het die vrou reeds die skinkbord beet. Bietjie vir bietjie trek sy dit uit Sannie se hand uit.

      Die man het sy wit plastieksak in die hand; hy wil loop. “Lorna, tell your friends they can go back to heaven now.” Hy beduie na Gert. “Unless this archangel here can organise me a dop.”

      Dit gee die deurslag. “Vat terug daai kos, Sannie!” skree Gert en begin retireer. “Ons het niks vir julle nie. Julle moet liewerster loop. Ek bel die polisie!” dreig hy uitasem.

      “Wat van ’n ou twintig randjies?” probeer Lorna nog.

      Frank is reeds ’n ent weg, hy leun met sy hand teen die groot boom. “Come on, Lorna, this heaven has no place for devils like us,” sê hy.

      Sy ignoreer hom. “’n Ietsie om te drink, meisie?” roep sy agter Sannie aan wat nou met die skinkbord langs Gert staan. “Coke is ôk oukei,” sê sy vir die opgeblase Gert.

      Maar onder die seringboom het Frank reeds sy rug gedraai, hy is nou besig

Скачать книгу