Jesus Christus en ons lewe in hom. Johan Malan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Jesus Christus en ons lewe in hom - Johan Malan страница 7
Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is.
– Romeine 12:4–6
Vir ’n uiteensetting van die funksies van die lede, lees ook Romeine 12:7–8 en 1 Korinthiërs 12:12–31. Beoefen jou taak en roeping slegs in die krag en onder leiding van die Heilige Gees, want ons is as lede van die liggaam van Jesus Christus almal deur een Gees deurdronge (1 Kor 12:13). Jy moet ook begryp dat die gesag van jou geestelike roeping in Christus gesetel is en dat jy op oorwinningsgrond staan wanneer jy dit beoefen. Jy moet kennis neem van wat die uitnemende grootheid van God, die Vader van die heerlikheid, se krag is vir ons wat glo. Dit is “die krag wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef 1:19–23).
Bruidegom
’n Baie persoonlike, intieme en verhewe verhouding met Christus word deur sy hoedanigheid as bruidegom moontlik gemaak. Ons is nie bestem om net diensknegte en dissipels in sy koninkryk te wees nie, maar het ’n hoë roeping om ook lede van sy bruidsgemeente te wees.
Dit bring egter meer verpligtinge vir ons mee.
Paulus wys daarop dat alle Christene hulself moet beywer om as rein maagde aan Christus voorgestel te word wanneer Hy weer kom (2 Kor 11:2). Hulle moenie vervreemd raak van die opregtheid teenoor Christus nie, maar met toewyding voorbereidings tref vir hul ontmoeting en vereniging met Hom. Hierdie geestelike voorbereidings sal verseker dat hulle op ’n waardige wyse hul rol as die bruid en latere vrou van die Lam sal kan vervul (vgl Op 19:7–8).
Koning
Omdat die Here Jesus alle mag in die hemel en op aarde het, beklee Hy ook die amp van Koning. Die nasies van die wêreld rebelleer egter in hierdie bedeling teen sy gesag. Dié toedrag van sake is te wyte aan die feit dat alle mense op aarde ’n vrye wil het ten opsigte van wie hulle wil dien. Die praktyk het bewys dat die meeste van hulle die duisternis liewer het as die lig omdat hul werke boos is (Joh 3:19). Die god van hierdie wêreld (die duiwel) het hul sinne verblind (2 Kor 4:4), daarom is die groot meerderheid van die aarde se bevolking in die mag van die Bose en leef hulle in geestelike duisternis (1 Joh 5:19).
Ons leef in ’n bose wêreld waarin Christene dikwels gehaat, onderdruk en verwerp word as gevolg van hul geloof (vgl Joh 15:18–19; 16:33; Luk 6:22–23, 26). In ’n baie werklike sin is ons vreemdelinge en bywoners in ’n wêreld wat grootliks die ware God verwerp (Heb 11:13; 1 Pet 2:11). In hierdie situasie is dit soveel te meer belangrik om waaksaam, toegewyd en standvastig in die diens van die Here te bly (1 Kor 15:58). As verlostes is ons nie onder die beheer van Satan nie, maar hy is ons vyand wat aanhoudend die ware gelowiges aanval en probeer mislei. Dit is die rede waarom ons die volle wapenrusting van God moet aantrek, sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef 6:11).
Ons is lede van ’n verborge koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie (Joh 18:36; Fil 3:20). Die Here Jesus is Koning van ons lewe en ons ervaar sy vrede in ons hart. Maar ons lewe in die wêreld word deur stryd gekenmerk (vgl Matt 10:34). Daar is konflik in ons verhoudings met wêreldlinge, want ons norme en beginsels verskil radikaal van hulle s’n.
Hierdie toestand gaan spoedig drasties verander wanneer Jesus Christus se verborge koninkryk werklik en sigbaar op aarde geopenbaar sal word by sy wederkoms aan die einde van die groot verdrukking: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op 11:15).
Uit die oogpunt van Jesus se koningskap gaan daar drie belangrike gebeurtenisse tydens sy wederkoms plaasvind:
Verdelging van die vyande van God tydens die slag van Armageddon
Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone … En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. … En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.
– Openbaring 19:11–21
Die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem
Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.
– Handelinge 15:16–17
Vestiging van die duisendjarige Vrederyk op aarde
En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.
– Miga 4:1–3
En hy (’n engel) het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie … Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
– Openbaring 20:2–3, 6
Om in die vrederyk as konings saam met Christus te regeer moet ons Hom nóú as die Lam van God aanvaar en in sy verborge koninkryk op aarde dien.
Regter
Hierdie amp van die Here Jesus is in die eerste plek ter sake vir die Christene omdat ons almal voor die regterstoel van Christus moet verskyn om loon vir ons arbeid in die Here te kry (2 Kor 5:10; vgl Rom 14:10).
Die eerste opstanding is slegs vir die gelowiges; dan kom die Hemelse Bruidegom om sy bruidsgemeente [die ware kerk van Christus] te kom haal om met Hom verenig te word (1 Thess 4:16–17). Ons eerste afspraak ná hierdie ontmoeting is voor die regterstoel (Grieks: bema). Die bema was in Bybelse tye die rostrum waarop die beoordelaars gesit het wat lourierkranse aan die oorwinnaars toegeken het by sportbyeenkomste soos die antieke Olimpiese Spele.
Wanneer gelowiges