Abel se ontwaking. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Abel se ontwaking - Chris Karsten страница 5
Die jeremiades óók roetine: kroep op die bors, jig in die heup, liddoring op die kussing van die groottoon. Voordat die gesprek, voorspelbaar, verskuif tot Boet, by die koöperasie bevorder tot assistentbestuurder: veevoer; getroud met Magda, laerskool-onderwyser, en hulle drie spruite, die punt van ouma Truia se hart. Vir haar broer bel Mia selde, net op verjaardae. Vir Boet het Mia weinig te sê, en hy vir haar; geen ongedurigheid nie, net ’n weggroei van mekaar af sedert sy die N1 gevat het, haar gaan vestig het op ’n ander planeet weg van kleinburgerlike Touwsrivier.
Touwsrivier, begraafplaas van stoomlokomotiewe en haar pa.
Wanneer die spoorweghuisie vibreer van die gerammel van treine, was die oorlog later ál waaroor haar pa saans kon pieker, oor joiners en hensoppers en bittereinders, oor die Kolonie se verraad teen die Boere, tot kotsens toe, het dit vir haar gesmaak. Dit is die ding van ou mense: leef in die verlede; klou aan ou meubels en ou stories.
Die gesprek met haar ma eindig ná ’n halfuur, sy aktiveer die huis se alarm en stap met haar kleretas uit na die Toyota RAV vir haar eerste afspraak van dié Sondagmiddag in die Rainbow Tavern by Southgate.
5
Aan vierkantige houtrame is huide gespan, van dassies en molle, rotte en katte. Voor hy hulle aan die rame span, volg Abel ’n eeue oue proses om die pelse te ontvleis, te onthaar en te looi. Hy het die resep lank terug ontvang van sy e-pos-vriend in België, ’n maker en bereider van velyn wat hy verkry van die sagte vel van ongebore kalwers en lammers. Maagdeperkament. Maar sy Belgiese vriend noem dit op die Duitse benaming: Jungfernpergament. Jungfern, het hy verduidelik, en nie sonder ’n tikkie hebbelikheid nie, verwys na ’n maagd, en Jungfernhäutschen na die himen van ’n maagd. Maar dit bloot terloops, het sy vriend uit Brugge in sy e-pos gemeld.
Teen ’n muur van sy werkkamer langs die kombuis het Abel ’n werkbank vasgebout, bloot houtsparre soos dié wat vir ’n tuinpatio of dekvloer langs ’n swembad gebruik word, die werkbank so groot as ’n enkelbed op pote, en nie te hoog nie, want Abel is kort van statuur. Bokant die werkbank hang ’n sterk gloeilamp in ’n oop skerm met goeie refleksie. Die lig is nodig vir die fyn snywerk op die bank, oorgetrek met ’n plastieklaken.
Aan die voetenent ’n wasbak met net ’n koue kraan wat hy bloot met ’n swart plastiekpyp uit die kombuis herlei. Aan die koppenent ’n laaikas met instrumente. In ’n hoek ’n kas, die deur verwyder en met gaas vervang. Binne droograkke waarop sy huide en pelse lê nadat hy hulle van die spanrame verwyder het. Op die vloer tussen die rame staan die kruike, flesse, potte en emmers van verskillende groottes, van glas, erdewerk en plastiek, waarin hy sy mengsels aanmaak en sy huide piekel. Van die potte het deksels wat dig sluit om verdamping van veral die sout-en-aluin-oplossings te verhoed. Die houtvloer het hy met teëls bedek, altyd nat van die water van huide wat drup wanneer hy dit in die potte en emmers roer en uitspoel en uitlig.
Op nog ’n muurrak bottels met reinigers en preserveermiddels: terpentyn, lynolie, arseensuur, soutsuur, koeksoda, gliserien, sinksoute, medisinale alkohol, formaldehied, salisielsuur, steen-aluin. Van hierdie middels koop Abel by ’n groothandelaar wat voorrade aanhou vir die taksidermiese bedryf, soos ook die salino-meter om die sterkte van die sout-en-aluin-mengsels te toets.
Sy instrumente – die pinsette, chirurgiese naalde, else, skalpels met lemme van verskillende graderings – kry hy meestal in hardewarewinkels of apteke. Die slagtersmes van soliede staal vir kraakbeen is die beste op die mark, vervaardig deur J. Russell & Co. van die Green River Works in Turner’s Falls in Massachusetts. Die chirurgiese tange, een gekrom en een reguit, kan die bene en nek van ’n skilpad afknip, waarborg die handelaar in taksidermiese toerusting. En skêre van verskillende vorms en groottes om dunner bene, of spierweefsel en senings, te knip. Die getande looimes uitstekend om weefsel van droë huide af te skil, die gladde een vir groen vel, bedoelend nog nat en vars. Die else vir gaatjies aan die some van die huide sodat hulle styf aan die rame gespan kan word.
Op hierdie Sondagoggend is Abel met die pels van ’n springhaas besig. Hy het die haas drie aande tevore geskiet. Die hase en dassies kom uit die veld op soek na kos in die vergane groentetuine. Maklike prooi en Abel geniet sy jaguitstappies in die tuine. Op sy werkbank het hy die haas dieselfde aand afgeslag. Hy het die skalpel gebruik vir die eerste fyn snitte, daarna die Russell-mes om die hipodermis van die skelet los te kry.
Dit is noodsaaklik, het Abel geleer, om ’n groen pels so gou moontlik te bewerk voordat bloed te hard in are begin stol. Fyn geaarde bloedvate aan ’n droë vel verleen wel soms ’n besonderse tekstuur aan die eindproduk, maar die yster in bloedplasma het uiteindelik ’n bederwende invloed op die raklewe van die vel. Die doel is juis om die finale produk permanent teen skimmel en muf en bakteriese aftakeling te beskerm.
Die afgeslagte haaspels het vir twee dae in pekelwater gelê. Daarna het hy dit afgespoel en oorgeplaas in ’n plastiekemmer met ’n mengsel van lymwater en aluin wat hy deurlopend kom roer het sodat dit die vel en pels deeglik deurweek om selle en sagter weefsel af te breek, soos die vet en haarfollikels.
Abel bevoel en toets die pels se hare en toe dit in klosse aan sy kort vingers loskom, keer hy die emmer met die haaspels in die wasbak uit en spoel die slymerige vel deeglik onder die lopende water van die kraan af. Hierna span hy die pels, hare onder, oor ’n dikkerige PVC-pyp en gebruik ’n stomp stopmes om al die vet, weefsel, huidare, kliere en spiermembrane aan die vleiskant af te skraap. Dit is ’n tydsame proses, maar hy is nie haastig nie. Hy het al, in die jare wat hy geleer het om sy huide te looi, agtergekom dat hierdie stadium van die proses ’n belangrike voorbereiding is vir die uiteindelike gehalte van ’n saggebreide vel. As hy hierdie vleiskant nie egalig skoonskraap nie, ontstaan verhardings in die vel, en dit deug nie wanneer jy die sagte vel uiteindelik in jou hande troetel en vou en frommel nie.
Nadat hy aan die vleiskant klaar is, spoel hy weer die vel onder die kraan af, en terug by die PVC-pyp begin hy opnuut skraap, dié keer met die looimes aan die harekant. Tydsaam skraap hy nie net die oorblywende hare af nie, maar ook die epidermislagie, versigtig om nie dun dele van die dermis te beskadig nie. Hy verwyder die porieë, haarwortels, vetkliere en alle omliggende weefsel. Ook hierdie proses vereis deeglike skraping.
Abel geniet sy stokperdjie en neurie sag saam met die vioolklanke. Hy het ’n luidspreker teen die plafon van sy werkkamer aangebring sodat hy na Paganini kan luister wanneer hy met sy huide besig is.
Die vel is glibberig in sy hande toe hy dit in ’n flou water-en-asyn-bad uitwas om van die los hare en epidermisselle ontslae te raak en die normale pH te herstel. Hy span dit styf aan ’n houtraam om te laat droog word. Die spanning is nodig sodat die vel nie te hard word terwyl dit uitdroog nie.
Buite aan die voet van ’n houttrap wat aan die kant van die huis na die tweede verdieping oplei, gaan steek hy die vleisbraaivuur aan en keer na die werkkamer terug. Hy voel aan die ander velle aan die spanrame, betas hulle met sy gevoelige vingers, stryk oor die oppervlakke, en kry ’n gedroogde dassievel, klaar met puimsteen glad geskuur.
Die paar kilogram se vars beesbreins wat hy by die abattoir in City Deep gaan koop het, het hy in leë plastiekbakkies vir margarien van vyf honderd gram elk verpak vir die vriesgedeelte van sy yskas. Een so ’n pakkie ontvries hy nou in sy mikrogolf en gooi die inhoud by warm water in sy elektriese versapper. Hy meet ook ’n paar gram gliserol by en skakel die versapper aan. Die dik slykmengsel, die kleur van vars salm, keer hy in ’n plastiekskottel uit. Hy week die dassievel vlugtig in water en begin die breinmengsel met sy vingers in die huid invryf. Hierdie is die heel belangrikste deel van die