Eerste lewe van Adamastor. André P. Brink
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Eerste lewe van Adamastor - André P. Brink страница 3
En kort ná sonuit die anderdagmôre, toe die watervoële weer begin eiers lê oor die water, het ons oop en bloot op die sand na hulle toe uitgeloop. Nou was dit die vreemdelinge wat lugtig was. Maar ons het ons pyle eenkant op die sand neergesit en melkkalbasse voor ons uitgedra en met dié het hulle toe, lyk dit, moed geskep.
Dit was net onmoontlik om oor en weer iets gepraat te kry. Ek het die indruk gekry die mense het niks soos ’n taal nie. Geluid kon hulle maak, maar sonder dat dit enigiets beteken het, skoon ’n gegerrebek van voëls. Miskien wás hulle dan tog ’n soort voël. Maar naderhand het ons darem met ons hande en so aan die beduie geraak, en hulle ook. Wat ons harte gewen het, ek sê dit reguit, was toe ’n paar van hulle omdraai na een van die eierdoppe op die sand en daaruit al die velle en messe en skep- en kapgoed loop haal wat ons die dag met die weghol op die rotse laat agterbly het. En nie net dit nie, maar hulle begin toe met ’n presentgeëry ook. Dis die mooiste blink krale, allerhande kleure, en stukke koper, en kleregoed wat ons vrouensmense laat skree het van die lag, en rook- en kougoed wat mens se kieste laat water trek het. Dan nog ’n ding waaroor ek moeilik praat, en dis ’n vuurwater wat met die sluk al mens se binnegoed behoorlik aan die brand laat slaan het, toorwater, sterker as enige gismelk of heuningbier wat jy aan kan dink.
Moeilik oor praat, sê ek, want net met die eerste sluk, toe ek gewaar hoe my mense begin te bokspring, het ek besef dis ’n gevaarlike storie dié. En des te meer toe ek later die dag agterkom daar sit nou ’n warm malligheid in al wat mens van my is. Praat kan jy met hulle praat, hulle sit lag net skreefoog teen die son, onkapabel.
Hier moet lig geloop word, het ek hulle die aand ingesê. Dit lyk alte veel na ’n sagmakery dié. As die mense môre weer met die vuurwater kom, dan drink ons nie. Enigiets anders, maar dié ding bring moeite.
Goed en wel, maar die volgende dag kom ek gou-gou agter my mense steur hulle nie aan my nie. Vroom waar ek kyk, maar as ek weer sien, dan het die vrolikheid party van hulle beet en op ’n afstand kry jy al die ruik. En toe ek my kierie onder hulle wil inlê, toe’s daar ’n gebrom soos in ’n kwaai bynes; die eerste keer ooit dat daar teen my teengepraat word. Want vir wat wil ek die lekker van hulle afhou? wil hulle weet. Dit sal julle nog agterkom, maar dan is dit te laat, sê ek.
Dié dag raak dit duidelik dat die vreemdelinge nie net tevrede is met presente gee nie: hulle wil ook hê. En eerste wat hulle wil hê, is vrou. Taal hoef mens mos nie te kan praat om dit te beduie nie, dit verstaan iedereen. As die bruidsprys reg is, het ek toegegee, goed, dan kan dit nie te veel skeel nie; maar ek kom agter party van my mense wat van die vuurwater inhet, deel sommer hul eie vroue en vrouskinders uit, verniet. Ek en ’n paar van die oueres het probeer keer, maar dit was soos skaap wat uit ’n kraal uitbreek, een-een hier, een-een daar, en voor jy jou kom kry, is dit ’n hele stroom alkante by jou verby.
Iets koddigs het ons opgelet tussen die kwaad deur. Dat die vreemde manne wat vrou gekoop het, diés eers gewas het. Nie van kop tot tone soos mens sou dink nie (en ook seker goed, want water mors mens nie sommer op ’n ding soos was nie), maar so druppeltjies-druppeltjies in die gesig, met ’n oor en oor pratery, as mens dit dan praat kan noem, asof daar boontoe met die mense van die skaduwees raad gehou word. Wat lyk na ’n naamgeëry. Asof die vroumense nie klaar naam gehad het nie: nee, elkeen moet nou kwansuis nuut naam kry. En meestal was dit Maria dit of Maria dat, vir so ver mens kon agterkom. Eers daarna is hulle met die vroumense bos toe. Toe nog die snaaksste: soos hulle terugkom, gee hulle die vroumense weer terug. Eers was ons boos, veral dié onder ons wat ’n goeie prys gekry het; maar toe kom ons agter die vreemdelinge wil nie die bruidskat terug hê nie. Elke keer as hulle ’n vroumens bos toe vat, dan betaal hulle van voor af. So sou mens kon ryk word.
Net, ek was bekommerd oor die vuurwater. Nog meer toe die vreemdelinge begin beduie hulle soek vee ook. Vrou is een ding, skaap of bok of bees weer iets anders. Ek het my mense dik aangepraat toe ons weer alleen was: ’n handjievol vee, en teen die hoogste prys, maar dan is dit genoeg. Toe kom ek die volgende dag daarop af dat ’n paar van my mense, en dit van my voorstes, Sigeb en Aob en Daghab en dié, stil-stil ’n hele stroom skaap uit die kraal afkeer strand toe; en ek sien die aanjaers die steier-steier en trap hoog, en toe ek probeer keer, wil Sigeb sommer kierie inlê. Vir hom het ek gou platgetrap, maar van die ander kon ek nie keer nie. Ek is toe alleen strand toe om met die vreemdelinge te gaan praat, as mens dit praat kan noem, en die vee terug te vra; maar daar raak hulle toe astrant met my. Een van hulle vat ’n soort ysterkierie en voor ek my kom kry, knal die donderweer hier vlak voor my dat ek gat-oor-kop agteroorslaan. Met dié het ek geweet: dié mense het met Heitsi-Eibib niks te make nie, dit was alles verneukery, hulle is van Gaunab se slag en soort, pens en pootjies uit die Swart Hemel uit.
Weer het ek die aand met my mense gepraat, dat hulle kan verstaan hier kom moeilikheid. Maar so wragtig staan van hulle toe op en sê reguit hulle luister nie meer nie: een van hulle, nogal Khoesab, van kleintyd af my maat, staan en praat met ’n hele karba vuurwater in die hand. Wat hy waar gekry het? vra ek. Dis sy saak, sê hy. Ek loop hom by en gryp die karba vas; maar toe ek my omdraai, staan daar ’n halfmaan van my mense kierie in die hand agter my asof hulle g’n stuk van my is nie. Ek wou nog die ding breek gooi teen ’n klip, toe sê Khoesab: “Gooi, dan is jy vannag self breek.” En een van die ander sê: “Gee.” Terwyl ek staan en kyk, so kwaad soos watse geitjie, vat hulle die karba en gee hom van man tot man aan, hand tot hand, en elkeen vat ’n sluk terwyl hy my vas in die oë kyk. Die volgende oggend toe lê hulle almal poot-uit en snork dat dit ’n vieslikheid is. En ek sit met die hartseer in my dat iets aan die breek is tussen ons.
So moes ek my maar tru hou, die dae daarna. ’n Paar van die ander het begin voel soos ek, maar onder die jongeres was dit moerig. En wie weet wat nog sou gebeur het, maar dis toe dat ek die vrou kry.
Vra my nou wat het ’n vrou daar op die skepe gesoek? Dié vraag het my in my later lewens baie gehinder. Nêrens kon ek ooit enige getuienis kry dat Da Gama of Cam of Dias of d’Almeida of watter ander vaarder ook al vroue op hul skepe saamgeneem of teruggebring het nie. Inteendeel, so ’n praktyk sou tog ondoenlik gewees het volgens elke denkbare sosiale, ekonomiese, morele, religieuse of pragmatiese oorweging van daardie tyd. Aan die ander kant, juis omdat sulke oorwegings bestaan het, kan mens verwag dat senhor Da Gama en sy kollegas die teenwoordigheid van vroue in hul midde bewustelik sou verswyg het selfs al was hulle daar. Dan nie? En al mag hulle vrouloos uit die mond van die Taag weggevaar het, wie sê hulle het nie soms elders vroue ingeskeep nie? – die eggenotes van predikers, skipbreukelinge of wat dies meer sy? In ieder geval is dit skaars ter sake wat die geskrifte van die geskiedenis daaroor sê. Die nugtere feit was dat daar op dié bepaalde reis, in daardie uitheemse mannegeselskap, wel ’n vrou wás. En ek het haar gekry.
Op die oggend van die sesde dag het sy uitgebroei uit ’n eier, op die branders gelê deur een van die groot watervoële