Marico se mambas. Piet Swanepoel

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Marico se mambas - Piet Swanepoel страница 6

Marico se mambas - Piet Swanepoel

Скачать книгу

het saam met sy vriende by ’n tafeltjie plaasgeneem en die jong klomp op die dansbaan dopgehou. Een van die meisies in die geselskap het hom ná ’n rukkie gevra om met haar te dans en dit was gou duidelik dat die kêrel dansopleiding gehad het, want sy bewegings was grasieus en vol vertroue. Daarna het hy met een of twee ander meisies ook gedans, en toe, ná ’n kort pousetjie, het hy baie beleefd vir Groot Koos gevra of hy met Stienie mag dans. Dit was half onverwags. Koos het ’n oomblik na Stienie gekyk, en toe sy glimlag, na die Italianer gedraai en sy kop ja geknik. Die kêrel het galant voor Stienie gebuig en haar toe op die baan gelei.

      “Stienie, wat ’n natuurlike aanvoeling vir ritme en beweging gehad het, het met grasie oor die vloer gesweef en net gou was alle aandag op die paar gevestig. Ná die wals het die Italianer met ’n ligte buiginkie vir Koos dankie gesê en toe weer by sy vriende gaan plaasneem. Groot Koos was nie meer lus om te dans nie en was bly toe een van sy vriende vir Stienie kom vra vir die volgende dans. Sy blik het so nou en dan na die Italianer gedwaal en hy het gemerk dat die man vir Stienie dophou en dat hy vir haar glimlag as sy toevallig na sy kant toe kyk. Die Italianer moes Groot Koos se blik op hom gevoel het, want hy het skielik na hom gekyk. Groot Koos het nie weggekyk nie.

      “Die volgende Saterdag moes Groot Koos sy oom op dié se plaas langs die Vaalrivier met beeste gaan help. Die seisoen se aanteel moes gebrand en gemerk word en daarna moes die droë koeie en van die jong beeste na ’n weiplaas tien myl verder geneem word. Hy sou dus nie voor Sondag weer by die huis wees nie.

      “Stienie het die oggend saam met haar ouers dorp toe gery en terwyl hulle hul besigheid gedoen het, het sy en twee vriendinne wat sy raakgeloop het in die hoekkafee gaan tee drink. Hulle vertel toe dat ’n groep jongmense die middag by die dorpsdam gaan piekniek hou. Die twee haal Stienie oor om saam te gaan. Haar ouers het nie beswaar gehad nie, want hulle het belowe om haar die aand huis toe te bring.

      “Toe hulle by die dam aankom, merk Stienie Antonio is ook daar. Net gou is komberse onder die bome oopgesprei, piekniekmandjies uitgepak, en daar word gelag en gesels en geëet en gedrink. Daarna volg die speletjies: aljander, aljander, so deur die bos, swartvark, en nog ander gewilde pandspeletjies.

      “Antonio het by Stienie aangesluit. Hy het effens moeilik gekommunikeer, want hy het nog ’n bietjie gesukkel met die Afrikaans, maar sy vreemde aksent was vir haar pragtig. Hy was totaal anders as die jongmans wat sy geken het; effens skugter, maar tog vriendelik en sjarmant. Hy het maklik gelag en met aandag geluister wanneer sy iets vertel.

      “Ná die speletjies is daar weer op die piekniekmandjies toegesak waarna van die paartjies met bootjies op die dam gaan roei het. Ander het teen die rantjie uitgeklim of sommer net om die dam gaan stap. Antonio het met sy mooi wit tande geglimlag: ‘En wat sal ons gaan doen – ook stap of met die bote roei? In Venesië, op ’n gondola, kon ek jou toegesing het.’

      “Sy kyk skalks oor haar skouer en glimlag vir hom. Hy staan op, neem haar hand en trek haar op. Toe begin stap hy, sonder om haar hand te los, met die voetpaadjie op die oewer langs aan, terwyl hy een of ander Italiaanse liefdesliedjie saggies neurie. ’n Entjie verder is daar ’n groot rots aan die kant van die water onder ’n ou wilgerboom. Sy gaan sit op die rots. Antonio hou op neurie en kyk aandagtig na haar. Toe begin hy die Lorelei fluit.

      “Die koeël was deur die kerk. Groot Koos het gou besef dat hy sy meisie kwyt was. Oom Ben en tant Lenie het net niks gehou van die wending wat sake geneem het nie. Die Italianer was ’n uitlander en van die tyd van die Driejarige Oorlog af was uitlanders nie baie gewild nie en ook nie te vertrou nie. Hy was heeltemal te glad en sy fyn maniertjies het hulle nog meer wantrouig gemaak. Maar nou ja, Stienie het van kleins af ’n wil van haar eie gehad en het gewoonlik haar sin gekry. Die verliefde paartjie was onafskeidbaar.

      “Die oumense het mos altyd gesê: ‘As jy die pap te dik aanmaak, brand dit aan.’ Nou ja, so was dit dan ook. Toe die Italianer een Saterdag voor die deur stilhou, stap oom Ben hom tegemoet. Hy draai ook nie doekies om nie: ‘Taljaner, ek het geweet van hierdie saamboerdery vroeg en laat gaan niks goeds kom nie. Jy’t my dogter nou in die moeilikheid gebring. Nou wil ek weet, wat gaan jy daaromtrent doen?’

      “Antonio se breë glimlag is skielik weg. Hy kyk oomblikke lank vas in oom Ben se koue oë. Hy hou nie van wat hy daar sien nie. Hy kyk oor die werf. ’n Groot rooi hoenderhaan stap pronkstert voor hom verby. Oom Ben wag.

      “Dan sug die Italianer: ‘Oom Ben, dit moes nou nie gebeur het nie, dié ding. Nee, oom. Ek weet ook nou nie wat sal ons maak nie. Ek is, hoe sê julle, beloof aan ’n Italiaanse meisie van Kroonstad. Ek is Katoliek. Ek moet met haar trou. Ek weet nie, oom Ben, wat jy sal maak nie. Ek weet nie. Maar ek is jammer, hartlik jammer.’

      “‘Taljaner, luister, en luister mooi! Met jou geloof en jou gewoontes het ek niks te make nie. As jy in hierdie land ’n meisie in die moeilikheid bring, dan trou jy met haar. Fienies en klaar. Jy ry nou Kroonstad toe en jy stel dit so aan jou verloofde. Hoe jy uit daardie penarie kom, is jou saak. Met my dogter sál jy trou!’

      “Antonio skud net sy kop. Hy mik na die huis. Oom Ben stap voor hom in. Hy skud weer sy kop: ‘Die tante. Stienie. Kan ek …’

      “Oom Ben knip hom kort: ‘Ek het klaar gepraat. As ek jou weer sien, dan sê jy vir my wanneer loop die gebooie. Jy weet waar die dominee woon.’

      “Met dié draai oom Ben om en stap huis toe. Hy kyk nie weer om nie. Die Italianer skud sy kop. Dan draai hy om, klim in sy kar en ry stadig weg dorp toe. Hy ry reg deur die dorp en draai weg op die Kroonstadpad.

      “Twee dae later is hy terug in die dorp. Hy hou voor die kafee stil, maar klim nie uit nie. Twee meisies wat verbystap, herken hom. Hulle stop nie by hom nie, maar stap vinnig verby en by die kafee in. Ná ’n ruk ry hy hotel toe en bespreek ’n kamer vir die nag. Hy stap deur die sitkamer kroeg toe en gaan sit by die punt van die toonbank. Hy bestel ’n drankie by Chrisjan Muller, die kroegman. Daar is ’n paar ander kêrels ook in die kroeg, maar hy neem nie deel aan die geselskap nie. Skielik sak ’n doodse stilte in die kroeg neer. Hy kyk op. Almal kyk na die deur. Hy kyk om. Groot Koos Dempers staan die kroegdeur vol. Die Italianer sluk.

      “Koos wink vir hom met sy dik wysvinger, draai om en stap uit. Hy sluk weer en stap agterna. Sy mond voel skielik droog. Die manne in die kroeg bondel in die deur. Koos stap aan tot by die Italianer se kar en klim by die passasierskant in. Antonio klim agter die stuurwiel in. Soos oom Ben, draai Groot Koos ook nie doekies om nie: ‘Jy het my meisie afgerokkel met jou uitlandse maniertjies en nou is jy in ’n hoek. Ek is nog lief vir haar en ek glo sy vir my ook. Sy het maar net ’n bietjie die spoor byster geraak, maar nou sien sy duidelik wat jy is, dat jy haar maar net as afleiding gebruik het. Ja, ek en sy het gepraat. Ek gaan jou ’n voorstel maak. Gee vir my vyf honderd pond, dan trou ek met haar, en jy is los.’

      “Koos bly stil en kyk die Italianer ’n paar oomblikke vas in die oë. Dan klim hy uit, loop om die kar en buk af by die venster: ‘Ek sien jou môreoggend hier, tienuur. Bring die geld saam. Kontant. Vyf honderd pond.’

      “Die volgende môre was die Italianer daar, met die vyf honderd pond. ’n Week later is Groot Koos en Stienie in die konsistorie in die eg verbind. Met die vyf honderd pond het Groot Koos toe daardie sandkliphuis daar op die hoek gebou. Sewe maande later is ’n fris seuntjie gebore. Daarna is daar nog twee dogters gebore. Die seuntjie is gedoop en die gemeente het regop gesit toe sy name uitgelees word: Jakobus Petrus – Groot Koos se name!

      “Ja, en Klein Koos, soos almal hom toe noem, het groot geword, soos in GROOT – ’n blonde jong reus van byna twee meter, wat, soos jy weet, jare lank vir die dorpspan slot gespeel het, dieselfde posisie waarin Groot Koos ’n klompie jare tevore vir die Vrystaat gespeel het.”

      Ek het oopmond na tant Eysie gekyk: “Ja,

Скачать книгу