Die Tyd van die kombi's. Koos Kombuis
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Tyd van die kombi's - Koos Kombuis страница 11
Hulle was geleë hoog op in ’n baie ou gebou in die middestad van Kaapstad; om daar uit te kom, moes ’n mens ’n hele paar verdiepings opry in ’n raserige ou hysbak. Die eerste ding wat jy gehoor het wanneer jy op die boonste verdieping uitstap, was die gekoer van die duiwe.
Om by hul kantore in te stap was soos ’n toneel uit The Hunger. Die kamers was donker, met hoë plafonne, en tussen die boekrakke en lessenaars was groot oop spasies. Agter vuil vensterruite was die duiwe besig. Hulle was voortdurend besig om al koerend op te styg en te land.
Daar was iets intens ouwêrelds en literêr aan die hele situasie; terwyl ek en Dineke by haar lessenaar gesit het, besig met die samestelling van my eksperimenele roman Somer II (die roman wat ek in Valerie se woonstel geskryf het), of terwyl ek en Gerry oor publikasiedatums sit en gesels het in die kantoor langsaan, sou die duiwe heeltyd fladder en skrop en raas buite op die vensterbanke.
Ek was dol daaroor om tyd daar deur te bring. Dit was as-of net ek van hulle geweet het.
Terwyl sommige skrywers Perskor soos die plaag vermy het en nooit eens oorweeg het om in te loer by hul Kaapse kantoor nie, was dit asof hierdie wonderlike plek my geheim was. Hierdie onontdekte hoekie van Afrikaanse letterkunde was die een plek waar ek werklik tuis gevoel het.
Daar was altyd koffie aan die prut. Daar was byna altyd iemand om my dadelik te sien, sonder ’n afspraak. Selfs die enkele kere dat hulle my nie onmiddellik te woord kon staan nie, kon ek wag by een van die groot hoë vensters en die duiwe dophou waar hulle veg vir ’n sitplekkie op die nou lysie so hoog bo die strate van die stad, en daar kon ek staan, en ek kon droom …
Ja, ek kon drome droom van al die boeke wat ek nog wou skryf, en publiseer, en hoe beroemd ek sou word …
Gerry het met ’n kierie geloop, en hy was moers eksentriek, maar ek kan aan geen ander uitgewery dink wat bereid sou wees om ’n kans te vat met ’n boek soos Somer II nie.
Tot vandag glo ek dat as Gerry nie destyds geïnteresseerd was in daai manuskrip nie, ek nie vandag ’n loopbaan as ernstige skrywer sou gehad het nie. (Het ek so ’n loopbaan? Die punt is debatteerbaar.)
En, soos die gode dit wou hê, was Dineke net omtrent die enigste editor in die ganse Afrikaanse uitgewerswese wat kans gesien het om so ’n boek aan te pak.
Vir ’n wyle dus was die Kaapse kantore van Perskor my geestelike tuiste, my heiligdom, die plek waar ek die advies en leiding ontvang het waarna ek my lewe lank al gesmag het, die plek waar my literêre loopbaan solank begin vorm aanneem het (terwyl ek gewag het vir Shifty Records om met my ooreen te kom op ’n datum om my album op te neem). Dit was amper te goed om waar te wees.
Tot vandag toe, wanneer ek terugdink aan daardie wonderlike maande toe ons gewerk het aan Somer II, is dit asof ek in my agterkop die gekoer en die gefladder van die duiwe kan hoor.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.