Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten страница 2
“Hy’t nie in die kroeg ’n dop gaan drink en na die kaalgatte aan die pale gekyk nie?”
“Nee. Hy’t gevra vir ’n kamer ver van die musiek en kroeglawaai af. Gesê hy’s siek, soek stilte.”
“Kamer by die brandtrap, om ongesiens te kom en gaan,” sê die konstabel.
“Sal jy hom kan beskryf vir ’n identikit?” vra die sersant. “Vir as forensies iets in die kamer kry wat op ’n misdaad dui.”
“Wat van al die bloed?” sê Rabie moedeloos. “Is dit nie onwettig nie?”
“Dis nie ’n misdaad om te probeer selfmoord pleeg nie. Om in die bad te gaan sit en jou polse te sny nie.” Die sersant betrag opnuut die teëls. “Ja, dit kan die bloed teen die mure verklaar. Miskien het hy ’n stil plek kom soek om ’n einde te maak aan sy lewe. Skuld, egskeiding, ongeneeslike siekte, wie weet?”
“Waar’s sy lyk dan?”
“Dalk het hy halfpad besluit hy wil tóg nie selfmoord pleeg nie. Dis nie ongewoon dat mense met selfmoordneigings hulle bedink nie.” Die sersant draai na die konstabel. “Forensies op pad?”
“Ek’t gebel, sê hulle sal oor ’n uur of twee hier wees. Dalk eers later, sodra hulle klaar is by die toneel in Judith’s Paarl.”
Rabie gooi sy hande in die lug. “Nóg twee ure! Hy kan al in Timboektoe sit!”
“Hei, meneer Saadi, weet jy hoeveel moorde word elke dag in hierdie land gepleeg? Weet jy hoe oorwerk polisiemanne is? Gaan kry die lint in die kar, konstabel. Seël die deur.”
Die sersant draai terug na Rabie. “Niemand mag hier inkom nie. Dit kan ’n paar dae vat voor forensies die uitslae kry. Tot dan word dit as ’n misdaadtoneel beskou. Dis al ná twaalf, wat’s op jou spyskaart? Wat van iets te ete terwyl die konstabel sy werk doen? Jy kan my van jou gas vertel, van meneer Formal . . .”
“Fomalhaut.”
“Is hy ’n Hollander?”
“Praat Afrikaans.”
“En jý, meneer Saadi? Watse aksent is dit?”
“Ek’s ’n Suid-Afrikaner, hier gebore – ou Marymount in Kensington. My pa het ná die Slag van al-Malkiyya hier in Suid-Afrika aangekom, in ’48. Het sy been teen die Israeli’s verloor. Hy’t hierdie hotel begin. By die huis praat ons Libanees. Dis waar my pa vandaan kom, Baalbek.”
“So jy’s ’n Arabier?”
“Wat de hel maak dit saak, sersant? Wat’s jy?”
“Sersant Mfundisi, dis wie ek is, amaZoeloe. En saam met my is konstabel Xala, amaXhosa. Wat het jy gesê is vandag op jou spyskaart?”
“Dis nie die Ritz nie, sersant, dis die Sleep Inn in Bez Valley. Ons het ’n kroegete beskikbaar, met koue vatbier.”
“Dié meneer Formalhaut, het hy vir jou siek gelyk toe hy die kamer kom huur het? Ek bedoel, was hy bleek, koorsig . . . of het hy net gesê hy’s siek en jy’t hom geglo?”
“Hoe sal ek weet of hy koorsig was, ’n koorspen in sy gat opdruk? Hy’t wonde van ’n ongeluk gehad, hy’t siek gelyk.”
“Watse wonde?”
“Hande en gesig vol snye, klomp pleisters opgeplak, een oog byna toegeswel. Ek’t nog gesê dit lyk of hy in ’n treinongeluk was. Toe sê hy: ‘Snaaks dat jy dit sê, dit wás ’n ongeluk met ’n trein, daardie spooroorgang naby Magaliesburg. Kar het net gaan staan en stol.’ Gesê hy soek ’n kamer vir twee maande, betaal vooruit.”
“Plus die deposito.”
“Plus die deposito.”
“Hoe oud skat jy hom?”
“Miskien al vyftig. Gesê hy’s van die Kaap. Hy is in die antiekwarebesigheid, ry rond en koop ou meubels en goed.”
“En jy’t in sy ID-boek gesien sy van is Formal . . .”
“Fomalhaut. Dis soos hy dit in die register geskryf het, soos ek die kwitansie aan hom uitgemaak het.”
“Die naam stem ooreen met sy ID-boek, sy foto daarby?”
“Uhm . . . nie eintlik nie.”
“Nie eintlik nie? Hoe meen jy?”
“Sersant, ek kyk nie na elke gas se ID-boek nie. Hoe kan jy die goed vertrou? Hoe kan jy vir elkeen sê wys my jou ID? Die gaste wat my kamers huur . . .”
“Jy bedoel die eskorts en paaldansers met name soos Candy en Mandy en Randy en Sandy . . . Ja, ek sien wat jy meen. Hulle wil nie eintlik hê dit moet uitkom hulle’s eintlik Barendiena of Fransiena nie, nè? Watter man wil kyk hoe ’n Fransiena aan ’n paal swaai, haar kaal Koekemoer-stert vir die wêreld uitstal? Hoe’t meneer Fomalhaut die pleisters oor sy gesig geplak as hy ’n baard laat groei het?”
“Hy’t nie die nag met ’n baard hier aangekom nie. Hy’t die baard hier laat groei.”
“So, jy’t hom tog soms gesien? O ja, ek sal ’n hamburger vat, met kaas en tjips. En baie uie, goed gebraai.”
Rabie bel sy kok, dan volg hy die sersant by die deur uit. Hy kyk hoe konstabel Xala die deur toetrek en die slot en handvatsel met geel polisielint verseël. Hy merk ook hoe sersant Mfundisi sy groot kop agteroor skarnier, nekrolle oor die kraag van sy hemp, sy blik op die kameralens hoog teen die muur langs die brandtrap. Die kameralens bied ’n uitsig op die hele gang, tot by die hysbak se deure.
“Konstabel, bring ’n stoel,” roep die sersant oor sy skouer.
“Ek’t die deur nou net verseël, sersant.”
“Maak oop en bring ’n stoel, jy kan dit weer verseël, daar’s genoeg lint. Of betaal jy self vir die lint?”
“Ek’t die CCTV laas jaar laat insit,” sê Rabie. “Nadat ’n gas in haar kamer gemolesteer is. Op elke vloer, ook een in die kroeg. ’n Mens weet nooit wat ’n dronkie alles kan aanvang nie, en môre ontken hy alles, sê hy was nie gisteraand in die Sleep Inn nie. Jy weet hoe dit is, sersant? Nou’t ek bewyse, op kamera.”
“Klim op, konstabel,” sê sersant Mfundisi. “Kan jy daai lens bykom?”
Die konstabel staan op sy tone op die stoel, strek sy vingers uit. “Ja, dit lyk soos ou verf, sersant. Die lens is toe met swart spuitverf, soos daai wat hulle vir graffiti gebruik.”
“So gedink,” sê die sersant. “Soek jy ook ’n hamburger, konstabel?” Hy draai na Rabie. “Nog ’n hamburger. Wanneer het jy laas na dié kamera op jou monitor gekyk?”
“Uhm . . . laas week?”
“En dit het toe gewerk? Jy kon na hierdie gang kyk, na gaste in en uit by jou eskorts se kamers sodat jy kommissie kan eis?”