Eendekuil. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eendekuil - Tryna du Toit страница 5

Eendekuil - Tryna du Toit

Скачать книгу

om perde te teel en hulle dan te verkoop nie. En Vlam, die groot blou skimmel met die wit streep soos ’n vlam op haar voorkop, was nog altyd Esther se liefling gewees.

      “As ek my prys kan kry, Koekie, sal Vlam seker vanjaar moet gaan. Jy weet ek het baie geld vir hierdie nuwe swart hings betaal en die vakansie op Hermanus het ’n groot gat in my sak gemaak. Ek wens ek kon haar vir jou gee, my kind, maar jy het al vir Dadels en Aandblom en daarmee sal jy vir eers tevrede moet wees. As dit moontlik is, sal ek haar hou tot ná die Lentetentoonstelling. Vlam sal ’n goeie advertensie vir my wees, veral as jy haar ry. Maar my eintlike hoop vir die tentoonstelling is Demetrius en as ek moet kies tussen die twee sal dit Vlam wees wat moet gaan. Demetrius kom pragtig aan; jy sal sien, hy gaan nog mooier wees as Vlam.”

      “Nooit mooier nie.”

      “Jy sal sien. Ek is elke dag meer in my skik met die vul. Ek het alreeds vir Vlam ’n koper in die oog.”

      “O, waarom moet Pappie altyd my mooiste perde verkoop?” Hy lag en sit sy arm om haar.

      “Hulle is almal vir jou mooi, Koekie, en hulle moet ook almal mooi wees. As ’n man een van Gideon Bruwer se perde gekoop het, wil ek hê hy moet voel hy het iets besonders gekry, iets wat die moeite werd was om voor te wag.”

      Byna gelyktydig sien hulle die motor se ligte in die grootpad. ’n Paar minute wag hulle en dan weet hulle dat die motor op pad is Skeerpoort toe.

      “Wie sou dit wees?” wonder Esther hardop.

      Haar vader antwoord eers nie, maar luister aandagtig.

      “Dit klink baie soos daardie ou rammelkas van ons rooikopbuurman,” sê hy stadig. “Ek wonder wat makeer?”

      Sy lag saggies.

      “Ons buurman sal baie seergemaak voel as hy hoor Pappie praat van sy geliefde motor as ’n ou rammelkas. Hy en Isak het nou die dag weer die hele ou motor uitmekaar gehaal en hulle sê daar is nie nog so ’n enjin in die hele distrik nie.”

      “Dis ook al waarvoor jou broer goed is,” brom die oubaas. “Masjinerie en boeke! Ek weet nie hoe ek ooit ’n boer van hom gaan maak nie.”

      “Waarom dan nog probeer?” vra sy sag. “Ek het mos nog ’n broer, en hulle kan tog nie albei op Skeerpoort boer nie.”

      Hy antwoord nie. Haar vraag ontstem hom meteens weer. Hy hoop nog altyd Isak sal kom boer.

      Die motor het voor die deur stilgehou en ’n man kom nou met die paadjie na die huis toe aangestap.

      “Naand, Buurman,” sê oom Gideon nog voor die jong man in die ligstreep kom, want hy het alreeds die motor herken en die rooigoue hare sien blink. “Is dit die reën wat jou hier bring?”

      “Naand, oom Gideon. Naand, Esther.”

      Hulle groet en terwyl haar hand in sy ferm greep rus, kry Esther ’n skielike gevoel van onrus. Iets is bepaald verkeerd. Sy is seker daarvan. Wat sou gebeur het? Het haar pa se beeste dalk weer in sy lusern gekom? Gespanne wag sy, sy weet nie waarvoor nie.

      Maar haar pa merk blykbaar geen onraad nie.

      “Kom binne, Buurman. Ek en Esther het net na die reën kom kyk, maar ek sien dit is nog glad nie verby nie. Het Eendekuil ook mooi reën gekry?”

      “Dit het pragtig gereën, Oom.” Die jong man se stem is swaar, sonder die lewenslus en opgeruimdheid wat ’n mens sou verwag het. “Kan ek asseblief ’n bietjie alleen met oom Gideon gesels?”

      Nou kom oom Gideon ook agter dat daar fout is.

      “Natuurlik! Kom ons stap sommer studeerkamer toe. Die vrou en die kinders is daar binne besig. Esther, dis koel hier buite, jy moet liewer ingaan, en vra jou ma om vir ons iets te drinke te maak.”

      “Ja, Pappie.”

      Wat het gebeur? wonder sy onrustig toe sy wegstap. Kosie lyk moeg en ongelukkig.

      Die studeerkamer het die hele dag toegestaan en ruik effens bedompig. Oom Gideon stoot die vensters oop en gaan sit op ’n stoel langs die groot lessenaar wat in die middel van die kamer staan. ’n Paar oomblikke kyk hy na die jong man voor hom, dan vra hy vriendelik: “Wat makeer, Buurman? Kan ek help?”

      Kosie aarsel. Noudat hy hier is, weet hy nie hoe om te begin nie. Dis nie ’n aangename taak wat hy het nie. Maar dis tog ook nie sy skuld nie. Hy het oom Gideon al self teen die hond gewaarsku. Hy sien die oubaas wag en stadig sê hy: “Ek het vandag groot skade gehad, oom Gideon. Rex het by die sewentig van my beste lammerooie verskeur.”

      Dis of oom Gideon eers nie mooi begryp wat hy sê nie. Rex! Esther se hond! Ongelowig en met verbasing op sy gesig kyk hy na die jong man voor hom, dan merk Kosie die rooi gloed van ergernis wat na sy gesig spoel.

      “Dis ’n gevaarlike beskuldiging om te maak, Buurman,” sê hy.

      “Ek is jammer, oom Gideon, maar ongelukkig is dit waar. Ek het vanmiddag net by die huis gekom toe ou Jonas my kom roep. Hy het na een van ons muile gesoek toe hy op die gedoente afgekom het. Die hond moes rasend gewees het. By die sewentig ooie was dood of so vermink dat ons hulle daar en dan moes keelafsny. Daar kan nog meer wees, dit het donker geword nog lank voor ons klaar was.”

      Oom Gideon staan op en maak keel skoon. Hy lyk baie ontsteld.

      “Magtig, dis ’n lelike affêre, man. Ek is verskriklik jammer. Is jy seker dat dit Rex was? En was hy alleen? Dis vir my moeilik om te glo dat een hond soveel skade kon aanrig.”

      “Daar is nie die minste twyfel nie, oom Gideon. Ek ken Rex te goed. Maar ek sal bly wees as Oom môreoggend vroeg self sal oorkom.”

      ’n Rukkie is daar stilte. Oom Gideon lyk oud en moeg. “Waar is die hond nou?” vra hy met ’n tikkie onrus in sy stem.

      “In die waenhuis op Eendekuil.”

      “Lewendig?”

      “Natuurlik nie. Ek sê vir Oom die hond was rasend en uiters gevaarlik. Hy het soos ’n besetene daar tussen die ooie te kere gegaan.”

      “Hoe laat was dit?”

      “Seker omtrent halfvier toe Jonas my kom roep het.”

      “Waarom het jy my nie eerder laat weet nie?”

      “Dit het my later bygeval dat ek dit seker moes gedoen het, maar ek het op daardie oomblik nie daaraan gedink nie. Die reën was baie naby en ek en Jonas het ons hande vol gehad. Ek kon die arme ooie nie ’n oomblik langer in hul ellende laat nie. Ek het nie eens my ander mense laat roep nie. Ek en Jonas het dwarsdeur die reën gewerk tot die donker ons later daar kom vang het. Maar die bewyse sal môre nog almal daar wees,” eindig hy grimmig.

      Die oubaas kry weer ’n kleurtjie, en hy bedwing hom met moeite. Dis ’n lelike besigheid hierdie. Hy weet nie bra wat om te sê nie. Hier is hy al die hele middag in die wolke oor die lieflike reëns wat val en die hele tyd lê en wag dié nuwe skade vir hom. Kosie is blykbaar baie seker dat dit Rex is. En dan sal hy moet regstaan vir die skade. Maar hy kan gou genoeg uitvind. Swaar en moeisaam, met ledemate wat vanaand ongewoon stram is, stap hy na die deur.

      “Esther,” roep hy, “kom ’n bietjie

Скачать книгу