Eendekuil. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eendekuil - Tryna du Toit страница 8

Eendekuil - Tryna du Toit

Скачать книгу

teruggedraai asof hy nog iets wou sê, maar hy het nie sover gekom nie. Miskien het die frons op sy jong buurman se gelaat hom laat aarsel, miskien het hy hom maar net bedink, maar hy het skielik sy perd omgetrek en op ’n vinnige galop is hy en sy dogter daar weg.

      Kwaad, omgekrap en diep teleurgesteld is Kosie terug huis toe. As Barry net hier was. Hy het hom so bitter nodig. Sal hy nie maar ’n telegram stuur en hom vra om dadelik te kom nie? Maar wat kan Barry doen? Die koeël is deur die kerk en selfs Barry kan nie weer sy ooie lewendig maak nie.

      Hy is nou meer vasbeslote as ooit tevore dat oom Gideon hom vir die skade moet vergoed. As die oubaas ’n ander houding ingeneem het, dadelik sy opregte spyt oor die voorval te kenne gegee het en aangebied het om hom vir die skade te vergoed, sou hy hom ook tegemoet gekom het. Maar nie nou nie. Oom Gideon sal sy skade ten volle vergoed, al moet hy hom ook hof toe sleep.

      Diep ingedagte lei hy sy perd terug huis toe. Hy sal dadelik werk moet maak van die saak.

      Solank Selina besig is om ontbyt klaar te maak begin hy aantrek, en ’n halfuur later is hy en Boel weer in die motor op pad dorp toe.

      Kosie hou met sy motor voor die kantore van Pienaar en Celliers, prokureurs van Saailaagte, stil. Andries Celliers is ’n oom van Barry en ook bekend as een van die knapste prokureurs in die omtrek. Kosie en klein Andries, sy seun, was vier jaar lank saam op universiteit gewees en hy het dikwels by die gesin aan huis gekom. Oom Andries sal hom kan help en hom goeie raad gee.

      Tot sy groot teleurstelling is oom Andries in die hof besig en moet hy byna ’n uur lank op hom wag. Hy gaan toe maar intussen die veearts opsoek en dié belowe om nog in die loop van die oggend Eendekuil toe te kom. Daarna sit Kosie in oom Andries se kantoor en koerant lees tot Elaine Pienaar, ’n kleinniggie van Ben Pienaar en tikster in die kantoor, vir hom ’n koppie tee bring en by hom kom sit en gesels.

      “Ek behoort glad nie eens vir jou tee te bring ná jy my so sleg behandel het nie,” verwyt sy hom glimlaggend.

      “Vandag is ek ’n kliënt en moet jy my met die nodige respek behandel,” sê hy.

      “Het jy toe mooi reën gehad?” wil sy glimlaggend weet. Elaine Pienaar is ’n aantreklike meisie van sowat drie en twintig jaar. Sy is lank en skraal gebou en het ’n pragtige vel en witgoue hare wat dadelik die aandag trek waar sy ook al gaan. Sy het op ’n klein Bolandse dorpie grootgeword en daar skoolgegaan. Haar pa het sy vroeg verloor, en ná haar ma se dood twee jaar gelede het sy ’n uitnodiging van die Pienaars om ’n paar maande by hulle te kom kuier gretig aangeneem. Die Pienaars se kinders is almal groot en uit die huis, en toe Ben se tikster besluit om te gaan trou was dit ’n uitgemaakte saak dat Elaine haar plek sou vul. Die Pienaars was goed vir haar, Ben Pienaar het haar ’n baie goeie salaris betaal, sy kon pragtig aantrek, en heel gou was sy een van die gewildste jong nooientjies op Saailaagte.

      Kosie het haar eers maar net van ver af bewonder. Hy het hard gewerk op Eendekuil en homself maar min tyd vir ontspanning gegun. Daar was ook gedurig ’n paar jong kêrels wat soos bye om ’n heuningpot om haar gedraai het en hy het nie genoeg belang gestel om mee te ding nie. Buitendien het almal gedink dat sy en jong dokter Eric Frost spoedig hul verlowing sou bekend maak. Maar dokter Frost het aangesluit en is na die Noorde, en stadigaan het die ander jong kêrels ook padgegee. Piet Lemmer het ’n aanstelling in Pretoria bekom en is baie opgewonde weg om dadelik die nuwe betrekking te aanvaar. Jan Venter van Pampoenpoort is skielik getroud met ’n jong onderwyseressie wat ’n paar maande ná Elaine na Saailaagte gekom het, en toe Kosie eendag al sy moed bymekaarskraap en haar vra om die aand saam met hom na ’n bioskoopvertoning toe te gaan, het sy geredelik ingestem.

      Daarna het hy haar dikwels uitgeneem. Oom Ben-hulle het hom af en toe genooi om daar by hulle te kom eet en hy en Elaine het ’n paar maal saam gaan dans. Soms het hulle saam tennis gespeel, maar verder as vriendskap het dit nie by hulle gekom nie. Hy het van die mooi blonde Elaine gehou en haar geselskap geniet, maar terug op Eendekuil het hy haar gou weer vergeet.

      Terwyl hulle nou sit en tee drink, hou hy haar ongemerk dop, en soos altyd wanneer hy by haar is, word hy getref deur haar skoonheid. Sy is seker die mooiste meisie wat hy nog ooit gesien het, dink hy. Opgewek vertel sy hom die verhaal van die rolprent waarnatoe hy haar sou geneem het.

      “Jy kan baie spyt wees dat jy dit gemis het, Kosie. Dis een van die beste prente wat ons vir ’n lang ruk gehad het.”

      Hy glimlag.

      “Ek is bly jy het toe tog gegaan. Nou is jy mos nie meer vir my kwaad nie, is jy? Ek sal Saterdagaand spesiaal inkom om jou bioskoop toe te neem.”

      “En sê nou dit reën weer?”

      Hy lag.

      “Dié keer kan dit maar reën, ek sal sorg dat ek hier is.”

      “Ek sal eers sien of ek saam met jou sal gaan,” sê sy. “Bel my weer môreoggend, dan sal ek definitief kan sê.”

      Maar die gekskeerdery vlot vandag nie so goed soos gewoonlik nie, en telkemale kyk Kosie op sy horlosie. Hy bly gespanne, ontstig en haastig om weer terug op die plaas te kom. Hy wil ook daar wees as die veearts aankom. Elaine kom gou agter dat sy nie sy volle aandag het nie en effens gesteurd staan sy op.

      “Dit lyk my ek verveel jou. Ek sal maar my werk gaan doen,” verwyt sy kom.

      Dadelik spring hy op en gaan na haar toe.

      “Vergewe my, Elaine. Maar ek het groot ergernis en skade gehad en ek voel bekommerd. Ek moet dadelik weer terug plaas toe, daarom dat ek so haastig en ongeduldig is dat oom Andries moet kom.”

      Sy is nou die ene belangstelling.

      “Ek is jammer om dit te hoor, Kosie. Wat het gebeur?”

      Hy aarsel ’n oomblik, dan sê hy: “Hou dit vir eers dig, Elaine, maar ’n hond van oom Gideon Bruwer van Skeerpoort het by die tagtig van my beste lammerooie doodgebyt.”

      “Kosie! Wat ’n skade!” roep sy uit. Hy kan sien sy wil baie graag nog meer weet, maar hy skud sy kop.

      “Nee, later vertel ek jou alles. Gaan doen nou maar jou werk, ek sal hier vir oom Andries wag. En Saterdagaand gaan ons bioskoop toe, nè?”

      Sy staan nog voor hom, onwillig om te gaan, dan draai sy stadig om. Sy weet sommer dit sal nie help om nou verder te lol nie.

      “Goed,” willig sy in. “Kom vroeg, dan speel ons eers tennis.”

      “Ek sal sien. Ek sal jou bel,” belowe hy.

      Sy was skaars terug in die algemene kantoor of Andries Celliers maak sy verskyning.

      Die Celliers-gesin was ook met die Desembervakansie by die see en oom Andries lyk gesond en bruingebrand. Barry trek nogal sterk op sy oom Andries, dink Kosie weer. Albei is lank en donker en hulle het dieselfde gelaatstrekke en dieselfde warm glinstering in die bruin oë.

      Oom Andries is gewoonlik vol grappies, maar hy sien dat Kosie vanmôre gespanne is en vra hom dadelik om te sit.

      “Wat hoor jy van Barry-hulle?” verneem hy vriendelik. “Wanneer kom hulle huis toe?”

      “Dit gaan goed en hulle kuier nog baie lekker. Ongelukkig weet ek glad nie wanneer hulle huis toe kom nie.”

      “Ongelukkig?”

      Kosie

Скачать книгу