Eendekuil. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eendekuil - Tryna du Toit страница 11

Eendekuil - Tryna du Toit

Скачать книгу

voorsorgmaatreëls te tref.”

      “Van watter houding praat jy?” vra oom Gideon warm.

      Net so vinnig en warm kom dit terug: “Oom se onvriendelikheid en Oom se onwilligheid om te erken dat Rex, en Rex alleen, die skuldige is. Ek kan tog nie verantwoordelik gehou word vir sy sondes nie.”

      “Het jy al uitgevind hoe die hond in jou kamp gekom het?”

      “Daar is nêrens deurkruipplek nie. Ons het elke duim draad noukeurig nagegaan. Hy moes eenvoudig bo-oor gespring het. Ongelukkig het die reën alle spore vernietig. Maar dit maak nie saak hoe hy daar gekom het nie. Dis Oom se hond en Oom is verantwoordelik vir wat hy aanvang.”

      “Is dit wat jou wetsgeleerde vriende vir jou sê? Ek glo nie Rex kon bo-oor die jakkalsdraad gespring het nie. Iemand was nalatig en het die hek laat ooplê.”

      “Iemand? En aan wie dink Oom as Oom sê iemand?”

      Oom Gideon maak ’n vinnige, ongeduldige gebaar met sy hande. Dis duidelik dat sy ergernis by die oomblik hoër styg.

      “Enigiemand. Jou werkers, myne, trekarbeiders wat verbygekom het.

      “Of dalk een van die kinders?” vra Kosie onskuldig.

      Hy weet hy is moedswillig, maar sy geduld is ook op. “Esther ry dikwels daardie pad.”

      Oom Gideon ruk soos hy hom vererg.

      “Esther! My dogter ’n hek laat ooplê! Jy word nou beledigend, kêrel! My dogter het op ’n plaas grootgeword en nie in ’n stad nie, en sy het meer kennis van boerdery en verstand as baie jong snuiters wat ek ken wat met ’n bietjie boekgeleerdheid vir hulle verbeel dat hulle nou ook kan boer. Jy is nog nat agter jou ore, man. Wag nog ’n paar jaar voor jy saampraat.”

      “Sê Oom ek is nie ’n goeie boer nie?” wil die erg beledigde Kosie weet.

      “Ek sê jy is nog nat agter jou ore. Van jou boerdery weet ek niks nie.”

      “Oom weet darem dat ek goeie skaap het?” vra hy betekenisvol. “So goed soos enige in die distrik?”

      Oom Gideon praat nie en ná ’n oomblik vervolg Kosie: “En noudat ons weer by die kwessie van die skaap gekom het, sal Oom vir my sê of Oom vir my skadevergoeding gaan betaal, of nie?”

      Oom Gideon se stem is koud en snydend: “Ek was die hele tyd van plan om jou te vergoed. Jy was verniet so haastig om prokureurs toe te hardloop. Laat ek hoor op watter bedrag jy jou skade stel?”

      “As dit oom Gideon se skaap was, wat reken Oom sou die skade gewees het?”

      “Ek vra vir jou. Jy en jou prokureurs het blykbaar alles al haarfyn uitgewerk.”

      ’n Lang ruk kyk Kosie na die ouer man, dan sê hy stadig: “Vyfhonderd pond sal nie my skade dek nie …”

      “Vyfhonderd pond! Jy moet stapelgek wees as jy dink dat ek jou ’n pennie meer as honderd pond sal betaal.”

      “Honderd pond vir tagtig uitsoekooie wat binne ses weke sou lam!” Kosie lag spottend. “Liewe aarde, Oom, slagskape haal twee pond stuk!” Hy staan op en vervolg: “Ek is jammer ek het met Oom kom praat. Ek het gedink dat ons die saak soos redelike, verstandige mense kan bespreek, maar ek het blykbaar ’n groot fout gemaak. Dit sal nie weer gebeur nie. Dag, oom Gideon.”

      Oom Gideon se gesig is rooi van ergernis. Hy maak of hy nie Kosie se uitgestrekte hand sien nie en ná ’n oomblik trek Kosie dit terug.

      “Ek is jammer, oom Gideon,” sê Kosie, bitter teleurgesteld oor die wending wat sake geneem het.

      “Ek is nie jou oom Gideon nie,” snou die oubaas hom toe. “Die naam is meneer Bruwer. En in die vervolg sal ek dit waardeer as jy op ’n uitnodiging wag voor jy weer jou voete op Skeerpoort sit.”

      “Ek sal dit onthou!” Kosie is nou wit van ontsteltenis. Hy draai om en stap uit.

      ’n Lang ruk kyk oom Gideon die jong ruiter agterna, dan neem hy sy hoed en kierie en stap tuin toe.

      Tant Lenie verskyn op die stoep met die koffie wat sy gou gaan maak het toe sy die besoeker gewaar het, maar tot haar teleurstelling en ontsteltenis sien sy dat hy alreeds weer weg is. Sy roep na haar man, maar hy maak of hy haar nie hoor nie en stap vinnig aan. Met ’n sug draai sy om en stap weer met die koffie terug kombuis toe. Sy skuif die koffiekan nader aan die stoof waar dit warm kan bly en gaan sit by die kombuistafel om maar solank haar koffie te drink.

      Lenie Opperman is byna een en twintig jaar gelede getroud met Gideon Bruwer, ’n man byna tien jaar ouer as sy. Hy was destyds ’n fluks, vooruitstrewende jong boer met groot planne en ideale vir die toekoms; sy ’n baie jong onderwyseressie wat net begin skoolhou het. Gideon het byna met die eerste oogopslag op die mooi jong meisie verlief geraak en dit het hom ook nie lank geneem om haar sy vrou te maak en haar plaas toe te bring nie.

      Sy dorpsnooientjie, het hy haar altyd tergend genoem, veral in die begin toe sy nog nie so handig en vinnig was met al die werkies wat van ’n plaasvrou verwag word nie. Maar sy het vasgebyt en deurgedruk, en hoewel Gideon vandag nog soms van sy dorpsnooi praat, weet sy dat dit ’n liefkosing is en dat hy haar lange jare al as ’n knap, noulettende huisvrou waardeer.

      Haar gesondheid het die afgelope jare heelwat te wense oorgelaat en dit het inspanning gekos om haar plek in die huis vol te staan. Sy kla nie veel nie, maar fyn plooitjies het al vinniger hul verskyning op haar gesig gemaak, en selfs die lang vakansie by die see het nie veel gedoen om haar beter te laat voel nie.

      Sy voel nou baie bekommerd. Gideon het seker weer met sy jong buurman woorde gehad, dink sy. Hy kan soms tog so hardkoppig, so verkeerd en onverstandig wees, en hy is altyd prikkelbaarder net ná die kinders terug skool en universiteit toe is. Sy het al geleer om dan maar versigtig en geduldig met hom te werk. Maar dit sou Kosie nie weet nie. Kosie voel natuurlik ongelukkig en ontsteld oor die verlies van sy skape en as Gideon verkeerd en ontegemoetkomend is, kan dit maklik op ’n rusie uitloop. En harde woorde tussen hulle sal die saak tog geensins verbeter nie. Netnou-netnou is daar nog ’n hofsaak, maar sy hoop tog dat Gideon nie so onverstandig sal wees nie.

      Die spulletjie sal Gideon seker ’n paar honderd pond kos, dink sy bekommerd. En dit kom nou op ’n baie slegte tyd. Hy het nou net weer daardie duur perd so bitter teen haar sin gekoop. Maar Gideon kan nou eenvoudig nie ’n mooi perd weerstaan nie, en daardie swart vierjaaroud-volbloedhings is seker een van die mooistes wat sy nog gesien het. As sy planne verwesenlik word, sal hy seker nog goed geld maak met die perde. Dit is net dat sy nie dink dis nou die regte tyd om dit te waag nie. Hy het ’n moeilike tydjie agter die rug. Hy het ’n hele klompie skape verloor met die droogte, dit het geld gekos om die vee die laaste maande te voer, hulle het twee kinders op universiteit, ’n derde op kosskool, en altyd kom daar maar nuwe uitgawes by. Haar gesondheid wil maar nie verbeter nie en Dokter wil hê sy moet sonder versuim ’n spesialis in Kaapstad gaan raadpleeg. Hy vrees dat ’n ernstige operasie nodig is. Sy het Gideon nog nie daarvan vertel nie, sy het gewag tot die kinders almal weer terug is op skool en universiteit, maar veel langer kan sy nie so aangaan nie. Die lewe is eenvoudig nie die moeite werd as ’n mens altyd siek en moeg voel nie.

      Sy is ook bekommerd oor Isak. Hy het nou ingestem om die landboukursus te volg, maar sy weet dis net om sy pa te behaag dat hy dit doen. Sy hart is nie in die boerdery nie. Hy smag daarna om ’n kursus in ingenieurswese te volg, maar nee, daarvan wil Gideon nie hoor nie. Isak moet

Скачать книгу