Eendekuil. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eendekuil - Tryna du Toit страница 10

Eendekuil - Tryna du Toit

Скачать книгу

      “Esther! Wag eers.” Sy stem is sag, byna pleitend, maar sy val hom vinnig in die rede.

      “Daar is niks om te sê nie, Kosie Niemeyer. Ons het blykbaar op ’n baie ongeleë oomblik kom groet!”

      Hy antwoord haar nie. Daar is nie net minagting in haar blik nie, daar is ook teleurstelling en verwyt. Dit is uit haar hele houding duidelik dat sy diep gekrenk voel. Hy het haar vriendskap en vertroue verbeur en daar is niks wat hy op die oomblik kan doen om dit te herwin nie. Weer lê hy sy hand op hare, maar sy ruk dit so vinnig weg dat die perd skrik en onverwags op haar agterpote staan. Byna verloor Esther haar balans en net betyds gryp Kosie die stang en dwing die perd weer af grond toe.

      Maar nou is die nooientjie eers kwaad!

      “Laat los my perd!” sê sy beledig en vererg, en die blou oë blits vuur. Maar Kosie neem geen notisie van haar nie en bring eers die perd tot bedaring. Selfs toe die perd weer met al vier pote op die grond staan, hou hy nog sy hand op die toom.

      ’n Oomblik kyk hulle in mekaar se oë, albei nou kwaad.

      “’n Mens oordeel nie jou vriende so haastig nie, Esther,” sê hy verwytend.

      “Vriende!” Daar is diep minagting in haar stem. “Weg daar voor!” Dan lig sy die sambok wat sy in haar regterhand hou. ’n Paar tellings dink hy dat sy dit op sy kop gaan laat afkom, maar hy staan nie terug nie. Skielik val die hou op die verskrikte skimmel se lies en Kosie moet gou padgee om betyds uit die perd se pad te kom.

      So ’n klein jesebel! dink hy vererg en verontwaardig terwyl hy die jong meisie agterna staar. Sy sou my wragtig omgery het as ek nie padgegee het nie. Maar deur die ergernis skemer daar tog ’n onwillige bewondering vir die onverskrokke jong meisie.

      Isak het blykbaar die geklop van die hoewe gehoor en kom by die waenhuis uit om te sien wat aangaan. Toe hy sien dat sy suster reeds op pad is, is hy sommer baie haastig. Sy groet is ook koel en Kosie voel vies en ongelukkig terwyl hy die jong seun ook agterna kyk. Dis seker die einde van sy vriendskap met die Bruwers, dink hy, en hy voel opreg jammer oor die verloop van sake.

      Hy sal oom Gideon darem gaan opsoek en probeer om hom te laat verstaan.

      Ingedagte stap hy saam met die twee mans huis toe waar oom Andries en Ben Pienaar al sit en tee drink. Oom Andries het hom ’n slaggie probeer terg met die jong dogter van Skeerpoort, maar hy het gesien dat dit Kosie nie aanstaan nie en sy tergery laat vaar.

      Net daarna is hulle almal na die ooikamp toe.

      Hoofstuk 5

      Hoofstuk 5

      Die volgende oggend vroeg is Kosie weer te perd oor na Skeerpoort toe.

      Dit is ’n lieflike, sonnige dag, heelwat koeler as die afgelope weke, en hy besef skielik dat die somer verby is.

      Vaaltyn trippel en kopspeel of hy vandag weer ’n bloedjong vulletjie is, maar Kosie se hart is swaar. Hy sien nie uit na die ontmoeting met oom Gideon nie, maar aan die ander kant durf hy nie wegbly nie. Moontlik sal oom Gideon verstaan. Hy is tog ’n verstandige en redelike man. Oom Gideon sal hom in sy posisie kan indink en sy handelswyse begryp.

      Maar oom Gideon ontvang hom koel en Kosie se moed sak. Die hartlikheid en vriendelikheid wat so kenmerkend van die oubaas was, is nie daar nie. Dit is ’n kil, ongenaakbare vreemdeling wat hier in sy plek staan.

      “Kan ek iets vir jou doen?” vra die oubaas ná hulle gegroet het. Kosie merk dat hy hom nie binnenooi nie en hy voel weer die ergerlikheid en spanning in hom oplaai. ’n Mens sal sweer al die moleste is sy skuld. Dit was ook nie so ’n vreeslike ding om na oom Andries toe te gaan nie. Hy hoef glad nie skuldig of skaam daaroor te voel nie. Hy dreig oom Gideon nie met ’n hofsaak nie. Hy het maar net raad gesoek, hy beskerm maar net sy eie belange. As oom Gideon dadelik erken het dat dit alles Rex se werk was, aangebied het om hom vir die skade, of selfs ’n deel van die skade te vergoed, sou hy nooit eens daaraan gedink het om na oom Andries toe te gaan nie.

      “Kan ek iets vir jou doen, kêrel?” herhaal die oubaas toe hy nie dadelik praat nie.

      Oom Gideon is vanoggend in ’n verkeerde bui. Hy is ongelukkig en ontsteld oor die besigheid met Rex. Dit sal hom ’n mooi sommetjie kos, dit kan hy sien. Veral noudat die verbrande jong snuiter die prokureurs, die veearts en die polisie ook bygesleep het. Dis ’n wonder dat hy nie die predikant en die magistraat ook gevra het om die partytjie by te woon nie. En dis ook nie al waaroor hy omgekrap is nie. Die gemis van die kinders, en veral Esther, is altyd die eerste paar dae ná hulle weg is byna onhoudbaar. Die huis is so vreeslik leeg en stil, hy kan dit glad nie daar uithou nie. En by die stalle is dit nie veel beter nie. Later is dit of hy hul afwesigheid ’n bietjie meer gewoond raak, weer versoen raak met die gedagte dat dit onvermydelik is. Daarby het hy en Isak gistermiddag nog byna ’n hewige uitval gehad oor die vakke wat Isak op universiteit wil neem, met die gevolg dat hy vannag byna nie ’n oog toegemaak het nie.

      Maar Kosie verkeer in salige onkunde wat hierdie dinge betref. Hy is net bewus van oom Gideon se onvriendelikheid en botheid, en toe hy sy vraag herhaal, antwoord Kosie: “Ek het maar sommer oorgery dat ons ’n bietjie kan gesels. Ek soek nie moeilikheid nie, Oom. Ons was nog altyd goeie bure en ek is seker dat ons die besigheid maklik kan skik en nog goeie vriende kan bly.”

      Oom Gideon brom iets onhoorbaars, maar nooi darem die jong man om saam met hom na sy studeerkamer te kom. Toe hulle sit, vra Kosie reguit: “Dink Oom nog daar was ander honde saam met Rex gewees?”

      Oom Gideon aarsel. Hy kyk na die ernstige, aantreklike jong gesig voor hom, die lewendige rooigoue hare wat tintel van energie en blakende gesondheid, en hyself voel moeg en oud. Stadig sê hy: “Dis vir my moeilik om te glo dat Rex alleen soveel skade kon aanrig.”

      Kosie voel sy gesigspiere trek saam. Wat moet ’n mens met so ’n koppige ou man maak?

      “Die veearts sê dis heeltemal moontlik, veral vir so ’n groot, sterk hond soos Rex.”

      Hy sien oom Gideon se gesig word donker by die noem van die veearts. Met afkeer sê die oubaas: “Jy praat van vriendskap, Buurman. Is dit om jou vriendskap en welwillendheid te betoon dat jy dadelik na die prokureurs en die polisie toe gehardloop het?”

      Kosie bloos vererg. Hy voel verleë en ongemaklik onder die skerp, deurdringende blik van Esther se pa, en hy voel vies omdat hy verleë is. Maar hy kyk die oubaas reguit in die oë en sê warm en beslis: “Ek het nie na oom Andries toe gegaan om ’n saak teen oom Gideon te maak nie. Ek het by hom gaan raad soek omdat die man na wie ek altyd gaan as ek raad nodig het, nie hier is nie. Ek is ’n jong boer en die verlies van die ooie is vir my ’n ontsettende skade. Ek wou graag met oom Andries daaroor praat; maar as ’n vriend, nie as ’n prokureur nie.”

      “Dis gerieflik as ’n mens sulke vriende het,” antwoord oom Gideon sarkasties, en Kosie byt op sy tande. “En Ben Pienaar? En die veearts? En die polisie? Ook almal vriende?”

      Kosie sluk swaar, maar hy bedwing hom nog.

      “Konstabel Gerber het vanself gekom, ek het hom beslis nie ontbied nie. Ek weet nie eens waar hy van die voorval te hore gekom het nie. Meneer Pienaar het bloot uit nuuskierigheid saam met oom Andries gekom. Die veearts het ek ontbied omdat ek gehoop het dat hy nog van die skaap sal kan red.”

      “Was dit sy idee dat julle die hond se maag moet uitsny?”

      “Ek kan nie onthou

Скачать книгу