Sarah du Pisanie Omnibus 6. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 6 - Sarah du Pisanie страница 23

Sarah du Pisanie Omnibus 6 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

      Hy kyk af in die blosende gesiggie en iets roer in hom. Hy het lus en soen die sagte mondjie en druk die bruin hare teen sy skouer vas sodat hy nie in die groot kalfie-oë hoef te kyk nie.

      Hy trek sy wenkbrou op, buk dan vinnig af en tel haar met een beweging bo-op die bankie.

      Sy trek die vars lug diep in haar longe in. “Dit gaan lekker wees, veral as die aandkoelte kom.”

      Hulle praat nie veel nie. Elsa probeer ’n paar keer om ’n gesprek aan die gang te sit, maar Hermaans reageer nie. ’n Grom of ’n kopknik is die meeste wat sy uit hom kry.

      Elsa gee later die stryd gewonne. Sy geniet maar net die vars lug na die twee dae se bedompigheid. Die stilte is egter nie hinderlik nie en in harmonie ry hulle voort.

      Dit is drukkend warm en op die gesigseinder is wit wolkies besig om saam te pak. Elsa kyk na die wolke en wonder stilweg of dit dalk binnekort gaan reën. Sy sien hoe Hermaans kort-kort bekommerd na die horison kyk en dit bevestig haar vermoede.

      “Dit lyk of dit wil reën?” vra sy.

      Hy haal sy pyp versigtig uit sy mond en skreef weer sy oë op die horison.

      “Nie binnekort nie. Daardie wolkies is te yl. Maar as hulle so begin, kan ons reën verwag.”

      “Is dit baie moeilik om met die waens te trek as dit reën?”

      “Onder normale reëntoestande is dit nie so erg nie – dit hou ’n mens net ’n bietjie op. Maar as dit kwaai reën, is daar baie probleme.”

      Hermaans draai skielik na haar. “Luister! Ek wag nog steeds vir ’n verduideliking. Wat soek jy hier? En waarheen gaan jy?”

      Die wind is vir ’n oomblik heeltemal uit Elsa se seile. Sy het nogal gedink hy aanvaar haar hier en sal haar nou saamneem.

      “Moet net nie weer ’n storie uitdink nie. Ek sal jou waaragtig oor my skoot trek en die waarheid uit jou foeter as dit nie anders kan nie.”

      “Ek wil tot by oom Gert gaan, as jy my sal saamneem, asseblief, Hermaans.”

      “Wat wil jy daar gaan maak?”

      “Hy is die enigste persoon wat ek hier in Suidwes ken, al familie wat ek het. Hy sal my help om Kurt op te spoor. En as ons nie vir Kurt kry nie, dan het ek darem ’n dak oor my kop.”

      “Jy sou ’n dak oor jou kop gehad het by die sendingstasie ook.”

      “Maar ... dit is anders. Ek moet vir Kurt kry – ek is seker daarvan hy is iewers in groot gevaar. Ek kan mos nie so handjies gevou sit en nie eens probeer om hom te soek nie.”

      “Hoekom is jy so koppig? Hoekom gaan jy nie terug en vergeet heeltemal van hom nie?”

      “Maar ek is verloof aan hom. Ek is lief vir hom!”

      “Luister nou na my, jy is net so min verlief op Kurt Strassen as wat ek op hom verlief is.”

      Elsa kyk hom eers stil aan, maar dan kom haar humorsin ongeskik na vore en begin sy lag terwyl sy hom onderlangs beloer.

      ’n Fyn glimlaggie verskyn om Hermaans se mond en hy kyk nie na haar nie, maar hou sy oë stip voor hom in die pad. Elsa se gesiggie versomber. “Maar ek is, regtig ek is ... baie lief vir hom. Hy is so ’n dierbare mens, so sag en liefdevol, ’n beter eggenoot sal ek nooit kry nie.”

      Hermaans antwoord haar nie, sy wenkbroue trek net saam en Elsa frons bekommerd.

      In doodse stilte ry hulle verder.

      Vroeg namiddag, terwyl die son sommer nog hoog sit, span hulle uit.

      Elsa wip van die wa af en gaan krap in die koskis om te kyk wat hulle vanaand kan eet. Sy gaan vir hulle ’n potjie kos kook, met rys en aartappels en uie, en van die lekker vet skaapvleis wat Hermaans op Otjimbingwe gekry het.

      Hermaans fluit ’n vrolike deuntjie terwyl hy met die een span osse tydsaam afstap na die suipplek toe.

      Hy bly verbaas stil toe sy eie stem tot hom deurdring. Nou waaroor sou hy dan nou so vrolik en opgewek voel? Hy is dan nog briesend kwaad vir die klein klits, wat hom weer so om die bos gelei het. Hy skud sy groot kop effens, maar die woede waarvan hy homself wil oortuig, wil nie in hom opstoot nie en lustig hervat hy maar sy vrolike gefluit.

      Nadat sy vuur gemaak en die vleis solank opgesit het, stap sy ook maar af na die water toe. Sy wil gaan kyk of sy tog nie vanaand iewers kan bad nie. Maar die water is modderig en glad nie geskik vir dié doel nie.

      Hermaans sien haar verlangend na die water staan en kyk en weet wat sy nou die heel meeste begeer.

      Hy kom staan stil langs haar, sy oë op die pragtige span rooi afrikanerosse wat die wêreld om die water stadig tot ’n pappery trap.

      “’n Bietjie hoër op, met die rivierbedding langs, is ’n lekker fontein. Dit is net te moeilik om daar in te kom met die osse. As jy jou goed kry, dan vat ek jou met die perd soontoe om te gaan bad.”

      “O! Sal jy? Dankie, Hermaans, dit sal heerlik wees.”

      Sy spring vinnig om en verdwyn in die rigting van haar wa.

      Die handdoek word op die bedjie oopgesprei en sy draai sommer al die benodigdhede in die handdoek toe. Daar is seep, ’n waslappie, ’n borsel, asook skoon onderklere en ’n wit rokkie met fyn groen blommetjies.

      Hermaans wag al vir haar buitekant die wa. Hy lyk so groot en fors op sy perd en sy wonder bekommerd of die perd hulle albei sal kan dra. Hermaans self is seker so swaar soos twee mense.

      Ongeërg hou hy sy hand na haar uit en trek haar vinnig voor hom op die perd. Sy bloos toe sy arms om haar gaan om die leisels vas te vat.

      Dit is ’n goeie halfuur se ry voordat hulle by die fontein kom. Daar is ook nie veel beskutting nie, net ’n groterige bos naby die fontein.

      Hy help haar van die perd af en haal sy bondeltjie uit die saalsak.

      “Effens laer af maak die stroompie ’n poeletjie. Ek sal solank daar gaan bad.”

      Hy stap aan, maar vyf tree verder draai hy eers weer om en kyk bekommerd na haar. “Sal jy nie bang wees so alleen hier nie?”

      Elsa staar hom verbaas aan. “Nee, nee, ek sal nie bang wees nie.”

      “Wel, ek is net sowat honderd tree verder, gil maar as hier dalk ’n slang of ’n ding kom.”

      Haar stem is sag en haar oë is vol vertroue toe sy antwoord: “Ek sal, dankie, Hermaans.”

      Ingedagte kyk sy hom agterna. So ’n groot, ruwe man, wat vandag so onverwags ’n sagter kant van sy menswees gewys het. Dat hy nog sowaar oor haar veiligheid bekommerd kan wees, en dit nadat sy gedink het hy gaan vreeslik kwaad wees vir haar.

      Sy was haar hare en bad heerlik in die koel fonteinwater. Tydsaam trek sy aan en gaan sit op ’n klip om haar hare droog te vryf.

      Nadat sy die ergste water met die handdoek uit haar hare gevryf het, borsel sy dit in die laatmiddagsonnetjie.

Скачать книгу