Bella se skaduwee. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bella se skaduwee - Amelia Strydom страница 6

Bella se skaduwee - Amelia Strydom

Скачать книгу

ja. Mimi het gisteraand ’n femurfraktuur opgedoen.”

      “Wat? Haar heup? Agge nee tog!” ’n Vaal kol kom lê op Bella se maag. Sy’s versot op Mimi, Sophia se eksentrieke, wyse, warm ouma. Bella is nader aan haar as wat sy ooit aan haar bloedoumas was. “Hoe’t dit gebeur?”

      “Sy’t die femur glo eers hóór breek, toe val sy. Sy’s op die teaterlys vir elfuur.”

      Bella sak op haar hurke, haar rug teen die koelte van die gangmuur. Mimi is vier-en-tagtig. Fiks en gesond vir haar ouderdom, maar ’n heupvervanging is ’n hengse terugslag.

      O hel, en die praktyk! Dis Oktober, hul dolste, dolste maand. Wat gaan sy sonder Sophia maak? Mens skop nie opgeleide vroedvroue agter elke bos uit nie. Haar “skaduwee” is wel hier, maar hy gaan haar werklas swaarder maak eerder as verlig. Hóm sal sy soos ’n babatjie moet oppas.

      “Moet jou oor niks bekommer nie,” sê sy egter. “Neem soveel verlof as wat jy nodig het. Ek sal regkom met dokter Cameron van die Kaap. Al moet ek hom bietjie panelbeat.”

      Bella strompel sleepvoet terug woonkamer toe. In die deurkosyn steek sy vas. Markus sit op die rusbank, sy gespierde arms gedrapeer om twee miniatuurweergawes van Jacomien. Iets omtrent die prentjie gee Bella ’n knop in die keel. Dit herinner haar aan die outydse koekblik vol jêmtertjies op Mimi se yskas. Op die deksel is ’n ou foto van ’n krulkopdogtertjie omring deur donsige geel kuikens. Bella se hart kramp pynlik. Ai, Mimi …

      Gelukkig sien die drie nie hoe sy teen haar emosies baklei nie. Hul oë bly vasgenael op die platskermtelevisie waar Meryl Streep sing oor hoe sy haar dag en nag moet afsloof. Klink bekend, dink Bella. Gelukkig is sý nie desperaat genoeg om te dink ’n man gaan haar probleme oplos nie, maak nie saak hóé welaf hy is nie. Haar ma het met ’n stinkryk plastiese chirurg getrou, en toe? Ingeruil vir ’n jonger model toe sy nie ’n manlike erfgenaam kon voortbring nie. Nee dankie, sy wat Bella is, hou van haar hart soos hy is. Heel en veilig in haar eie borskas. Beslis nie in die hande van die een of ander reeksrokjagter nie …

      “En toe?” vra sy, skerper as wat sy bedoel het. Een blonde kop en twee gitswartes wip van die skrik. “Carissa, Kayla, is julle nie skool toe nie?”

      “Pappa’t gesê ons kan vandag by die huis bly,” verduidelik Carissa. “Want Boetie gaan kom.”

      “Ek hoop julle gaan soet wees en nie vir Mamma pla nie?”

      “Ons soet wees,” belowe Kayla. “Ons kyk Mamma Mia!” Sy draai haar viooltjieblou oë vol onverbloemde bewondering na Markus. “Saam oom Malkus.”

      “Dis lekker. Maar die oom moet nou kom werk. Hy kan nie sit en storie kyk nie.”

      Markus buk vooroor en fluister iets in Kayla se oor. Albei dogtertjies kraai van die lag. Bella voel hoe haar rug verstyf. Skaars twee bakstene en ’n tiekie hoog en die man het hulle klaar in die sak.

      Hy knipoog vir die kinders en volg Bella sitkamer toe. Dis ’n weelderige vertrek, behang van skilderye, maar hy stap reguit na die groot vensters en fluit sag.

      “Dis pragtig hier by julle.”

      “Hoor ek reg? ’n Kapenaar wat sê Pretoria is mooi?”

      “Natuurlik is dit ’n ander tipe mooi as daar by ons, maar dis steeds lieflik. Die koppies rondom die stad, die pers jakarandas. Sien jy nog elke jaar uit na Oktober?”

      Die vraag is vreemd intiem. Dit roer iets binne Bella. Vir ’n oomblik kyk sy met ander oë na Markus Cameron, dieper as die modelmooi verpakking wat haar so ontstem. En sy hou heeltemal te veel van wat sy sien …

      “Die stad lyk pragtig in haar pers kleed, ja. Net jammer ons kry nie veel tyd om haar te bewonder nie. Oktober vang ons bybies dat dit klap.”

      “Dis my besigste maande ook. Die babas wat oor die fees­tyd gemaak is.”

      “Dis ’n moeilike tyd om weg te wees van jou praktyk. Dalk moes jy liewer in die winter gekom het?”

      “Ons wou die mentorskappe juis so reël. Help nie ons doen al die moeite en sien net drie of vier vroedvroubevallings nie.”

      Haar hart vermurwe effens. Sy’t nooit aan sy pasiënte gedink nie. “Was jou ma’s baie ontsteld?”

      Hy leun vooroor en rus sy hande op die breë vensterbank. “Party was bitter teleurgesteld, ja. Veral my infertiliteits­pasiënte. Sommige probeer al jare om swanger te raak. Dis jammer om daai bevallings nou mis te loop.”

      “Dalk moet jy elke Vrydag terug vlieg,” stel sy voor. Sy sal wel oor naweke iemand kry om haar te assisteer. “Jy kan mos ’n klomp keisers só inpas?”

      Hy gaan sit op die vensterbank en kruis sy arms voor sy bors. “Jy neem sommer aan dat ek dít as ’n geldige rede vir snitte sal beskou. Het jy ’n hekel in alle gynies, of net in my?”

      Bella wil wegkyk, maar sy onstuimige oë hou hare gevange. Is haar vooroordeel só duidelik? Sy sal harder moet probeer om hoflik te wees. Hy kan nie help dat hy só lyk nie. Ook nie dat hy ’n swetterjoel van haar knoppies gelyk druk nie.

      “Ek het maar net aangeneem, um, aangesien jy die eerste gynie is wat aan die mentorskap deelneem …”

      Hy lag vreugdeloos. “Dat my keisersneesyfer veel te wense oorlaat?”

      “So iets, ja.”

      “Ek verseker jou dis nie die geval nie. Ek speel proefkonyn omdat ek ’n vyf-agste pos by die mediese fakulteit het. Ons beplan om binnekort al die kliniese assistente te laat mentor. As ek die eerste beurt neem, kan ek solank enige kreukels uitstryk.”

      Hy’s ’n dosent? ’n Vlaag mislikheid stoot in Bella se keel op. Hoekom het Chrissie haar nie gesê nie? Skielik onthou sy die halfvergete e-pos in haar inbox. Sy’t nooit die aanhegsel oopgemaak nie. Pleks sy haar huiswerk gedoen en Markus se CV deurgekyk het. Dan het sy minstens geweet hoe lank hy al by die fakulteit is …

      “Nog iets waaroor jy wonder?”

      Sy vra sommer die eerste ding wat in haar kop kom, enig­iets om die gesprek van die universiteit weg te lei. “Wat ís jou keisersneesyfer?”

      Hy glimlag stram, druk sy hande in sy broeksakke. “So sewentig persent.”

      Sy wil wegdraai om haar triomfantelike glimlag te verberg, maar is te stadig.

      “Hei, jy kan nie die syfer in ’n vakuum beoordeel nie. Ek werk met hoërisikogevalle, onthou. Ek het ’n infertiliteitskliniek, ek werk –”

      “Aargh, moet net nie vir my sê jy werk met ‘kosbare’ babas nie! Alle babas is kosbaar en ek pes die implikasie dat daar graderings is op grond van hoe lank ouers probeer het om swanger te raak.”

      “Sal jy seblief ophou om woorde in my mond te lê?” Hy leun terug en kruis een lang been oor die ander. “Ek wou sê dat ek met ma’s werk wat reeds gekompliseerde swangerskappe het. Hul geboortes lewer noodwendig meer probleme op.”

      “Ek’s seker jy’t goeie redes.” Sy grys oë vernou, asof hy probeer besluit of sy sarkasties is. “Juis daarom kan ek nie sien hoe hierdie program enigiets vir jou, of vir

Скачать книгу