Bella se skaduwee. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bella se skaduwee - Amelia Strydom страница 7

Bella se skaduwee - Amelia Strydom

Скачать книгу

inkom?”

      “Op voorwaarde dat jy net assisteer. Dan hoef ek nie my vennoot te laat kom nie.” Sy sien nie kans om hom nou al te vertel dat hierdie nie die laaste geboorte is waar hy sal moet help vang nie.

      “Natuurlik. Jy moet net sê wat ek moet doen.”

      “Nie veel nie. As ek die anterior skouer verlos, kan jy Synto spuit. Ek lê die kleintjie direk op haar bors neer. As als reg is, bly hy daar tot ná die eerste voeding.” Sy kyk vraend na hom, gaan hy dié praktyk bevraagteken? “Sodra die ou­tjie klaar gedrink het, kan jy hom ondersoek en aantrek.”

      Hy steier ’n tree agtertoe. “Aantrek?”

      “Hoekom nie? Jy’t darem een X-chromosoom, dokter, dis nie breinchirurgie nie.”

      “Ek het tien duime wanneer ek sulke dun armpies deur daai klein mousgate moet kry.”

      “En ek het blinde pasiënte wat hulle babas sonder hulp aantrek. Jy sal leer. Kom, ek wil Jacomien gaan ondersoek sodat ons weet waar ons staan.”

      Bella hou Markus se gesig fyn dop toe hy by die slaapkamer instap. Hy glimlag vriendelik vir Jacomien, maar toe hy die blou geboortebad sien, klouter sy oë byna uit hul kasse. Vrek, hier kom moeilikheid. Chrissie het haar sowaar opgesaal met een van die fools wat glo watergeboortes is gevaarlik. Hopelik hou hy sy snater tot ná die geboorte.

      Gelukkig trek Albert sy aandag af. Hy stap met ’n uitgestrekte hand nader, sy gesig blink van bewondering. “Maar my magtig, is jy nie die Markus Cameron wat vir WP gespeel het nie? Ek dag mos ek herken die naam!”

      Markus trek sy skouers kamma beskeie op. “Net vir ’n paar seisoene.”

      “Jy was agsteman, ek onthou! Jy’t twee drieë gedruk in daai naelbyt-Curriebeker-eindstryd.”

      Markus se hele aantreklike bakkies straal. Bella het geen erg aan rugby nie, maar kan nietemin nie haar oë wegskeur nie. Onse aarde, maar hy’s gorgeous as hy glimlag … Hy vang haar oog en skyn daardie einste glimlag volsterkte op haar. Haar lyf word warm en vloeibaar soos kerswas. As sy nie versigtig is nie, gaan sy begin drup tot daar net ’n poele­tjie Bella op die blokkiesvloer oorbly. ’n Idiotiese grinnik hijack haar mondhoeke.

      Fyn trap, sussie. Markus Cameron behoort al jou ingeboude panic buttons gelyk te laat skril. Is hy nie alles wat jy nie in ’n man kan verdra nie? Sjarmant. Selfversekerd. Super-sexy. Net soos … Sy ruk haar wegholgedagtes net betyds in die bek.

      “Wat het van jou geword, Cameron?” vra Albert. “Die kenners was so opgewonde oor jou, toe verdwyn jy net. Is jy beseer?”

      “So iets, ja.”

      “Vertel, maat, vertel. Wat het gebeur?”

      Markus kyk verlangend na die deur. Dan vroetel hy met die geheimsinnige rekkie om sy pols. Die atmosfeer in die kamer is dik genoeg om met ’n mes te sny.

      “Ek praat nie graag daaroor nie,” sê Markus. “Dis water onder die brug.” Sy stemtoon maak geen geheim daarvan dat hy die onderwerp as afgesluit beskou nie. Meeste mense sou dit so aanvaar, maar nie Albert nie.

      “Ag nee, man, jy’s tussen vriende. Vertel ons wat gebeur het.”

      Markus lyk of hy nie kan besluit of hy wil weghol of eerder vir Albert ’n opstopper wil gee nie. Nee, maggies, hier moet sy ingryp. Sy wil Jacomien nie aan hierdie vibe blootstel nie.

      “Oukei, manne, dis genoeg. Ek duld nie rugbypraatjies in my kraamkamer nie. Verskuif jul haneparty kombuis toe en maak vir Jacomien iets om te drink. Ek moet haar ondersoek en ek kan dit nie doen terwyl daar ’n testosteroonwolk oor die kamer hang nie.”

      “Sê hulle,” lag Jacomien.

      Albert se groen oë blits onder sy woeste rooi wenkbroue, maar Markus stuur hom hand-op-die-skouer by die deur uit.

      “Was sy heelnag by ’n pasiënt dat sy vanmôre so beneuk is?” Bella hoor nie Markus se antwoord nie, vang net so skrams die woord “hormone”. Sy wil nog ’n snedige antwoord agterna roep toe Jacomien haar hand gryp.

      “Bella, hy’s ’n dish! Hoekom het jy nie gesê dis so ’n beeld van ’n man nie?”

      “Vind jy hom aantreklik?” gaap Bella, gemaak verveeld. “Kan nie sê ek het opgemerk nie. Ek was te besig om hom die leviete voor te lees oor hoe hy hom by my geboortes moet gedra.”

      “Hy’s absoluut opvreetbaar!” Jacomien se stem is skril van vervoering. “En hy’t nie ’n ring aan nie! Lucky jy wat saam met hom gaan werk.”

      “Ja, jippie.” Bella rol haar oë. “Die vooruitsig vul my met vreugde.”

      Jacomien klap haar speels teen die arm. “Wat makeer jou?” Sy lag en beduie na haar boepie. “As my situasie anders was, het ek dalk self my kanse gewaag.”

      “Jy’s stuitig! Jy kan onmoontlik nie in kraam wees as jy nog mans raaksien nie.”

      “Ek’s very pregnant, nie dood nie!”

      Met geoefende hande voel Bella aan Jacomien se boepie. “Aa, die stouterd het gedraai. Gister het hy nog posterior gelê, met sy rug teen joune. Nou lê hy net reg om uit te kom. Sy koppie is ook lekker laag.”

      Bella voel hoe Jacomien se uterus onder haar vingers verstyf. “En hier kom sowaar ’n kontraksie. Haal lekker diep asem. In … en uit. So ja, in … en weer uit.” Sy vee Jacomien se beswete voorkop met ’n waslap af. “Pragtig. Ek sluk my woorde, hoor. Jy’s beslis in kraam.”

      Toe die pyn skiet gee, doen Bella ’n inwendige ondersoek. “Ag sentimeter, Jacomien! Kan jy glo?”

      “Geen wonder dis so seer nie! Kan ek in die bad klim?”

      Bella onthou Markus se gesig toe hy die bad gesien het. Dan klik sy haar tong. Sy dinges! Hy’t haar kom skadu, nie kom rondorder nie. Sy sal hierdie bevalling doen asof sy Hoogheid nie teenwoordig is nie. Daar’s oorgenoeg navorsing wat getuig dat watergeboorte veilig is en effektiewe pynverligting bied.

      Jacomien stroop haar klere af en sak met ’n behaaglike sug in die bad.

      “Hoe voel die water? Nie te warm nie?”

      “Salig.” Jacomien lê terug sodat net haar donker kop bo die blou rand uitsteek. “Dit voel stukke beter.”

      Die mans kom die vertrek geselsend binne, elk met twee stomende bekers. Oombliklik is Bella ongemaklik. Sy is gewoond aan pa’s in die kraamkamer, maar dit pla haar dat Markus hier rondhang terwyl Jacomien kaalstert in die geboortepoel sit.

      “Ek het vir jou tee gebring, skat,” sê Albert. Jacomien beduie dat hy die beker moet neersit.

      “Jy kan nie nou drink nie! Kom vryf my rug, toe.”

      Albert sit sy beker met ’n gemartelde sug neer, maar Bella spring hom voor. As haar hande besig is, trek dit dalk haar aandag van haar irritasie af. “Drink jy gerus gou, Albert, ek sal vryf. Jou seun is amper hier. Jacomien se serviks is ag sentimeter ontsluit.”

      Albei mans kyk verbaas na Bella. “Het haar water al gebreek?” vra Albert.

      “Nee.

Скачать книгу