'n Lang, vreemde pad. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Lang, vreemde pad - Susanna M. Lingua страница 4

'n Lang, vreemde pad - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

nou ’n ou wat ná ses maande nog vir jou die motor se deur oophou – sal ’n redelik goeie lewensmaat wees.”

      “Wel, Engelsman ofte nie,” raak Marie nou weer ’n wysheid kwyt, “wanneer ’n man op ’n mooi manier lief en goed is vir sy ma, kan jy hom maar met ’n geruste hart vat, Estelle . . .”

      “Ja, en net by sy ma gaan kla wanneer hy jou nie goed behandel nie,” vul Linda grappig aan.

      Al vier bars heerlik uit van die lag. Met grappies en gelag bring hulle die oggend deur en pas voor middagete keer elkeen terug na haar losiesplek.

      Die volgende drie jaar het vir Elise soos ’n droom verbygevlieg. Hier waar sy heerlik ontspanne, met haar oë gesluit, sit en dink aan haar loopbaan as onderwyseres, kan sy byna nie glo dat sy reeds drie jaar in die tuig is nie. Sy dink aan Linda wat ’n jaar gelede getroud is en nou in Kaapstad woon. Marie het ses maande gelede verloof geraak, maar twee maande later die verlowing verbreek. Net sy en Estelle het nog nie hul hart aan ’n man gegee nie.

      Daar is ’n glimlag om Elise se mond terwyl sy aan Marie dink wat elke maand ’n ander kêrel op sleeptou het.

      Ek en Estelle sal bepaald twee oujongnooiens word, dink sy. Ons is in elk geval goed op pad daarheen . . .

      “Haai! Slaap jy, of is dit sommer net ’n dagdromery?” maak Estelle se vrolike stem ineens ’n einde aan Elise se somber gedagtes.

      Sy maak haar oë oop, dan sien sy hoe Estelle en Marie, elkeen met ’n yslike strandsak in die hand, in vrolike luim na haar toe aangestap kom. Sy groet hulle met ’n verwelkomende glimlag en nooi hulle om te sit.

      “Elise, my hartjie, ons het groot nuus vir jou,” sê Marie opgewonde,“maar gaan haal eers jou handdoek en baaikostuum, sodat ons koers kan kry na die naaste swembad toe . . .”

      “Wag ’n bietjie!” keer Elise versigtig. “Wat is so danig belangrik by die naaste swembad dat ons in aller yl daarheen moet haas? Ek verroer nie ’n voet hier van die stoep af voordat jy my die belangrike nuus meegedeel het nie.” Sy draai na Estelle. “Waarvan praat sy, jong?”

      “Man, ja, ons moes natuurlik eers verduidelik het,” sê Estelle en neem ’n bekende Afrikaanse tydskrif uit haar strandsak. Terwyl sy in die tydskrif rondblaai, vervolg sy ter verduideliking: “Dis die Santiago-brouery wat ’n skoonheidswedstryd ten bate van die een of ander liefdadigheidsfonds reël. Die eerste prys is ’n gratis reis na Portugal en ’n maand lange verblyf daar, plus sakgeld. Die tweede prys is ’n gratis reis na Portugal en veertien dae verblyf daar, plus sakgeld.”

      “Is daar net twee pryse?” vra Elise sonder veel belangstelling.

      “Ja, hier is die advertensie, kyk self,” sê Estelle en druk die tydskrif sonder meer onder Elise se neus. “ ’n Mens het nie eens nodig om persoonlik vir die keurders te poseer nie. Hulle vra net ’n kleurfoto en ’n inskrywingsfooi van ’n paar rand. Die wenners sal per brief in kennis gestel word, en die inskrywingsvorm kan gratis by die brouery verkry word.”

      Elise lees die advertensie vlugtig deur en gee Estelle se tyd­skrif terug.

      “Wel, wat dink jy daarvan, Elise?” vra Marie opgewonde. “Ek sê jou, as een van ons drie nie die eerste prys verower nie, is my naam nie Marie Verster nie.”

      “Het ek jou reg gehoor, Marie, het jy gesê ons drié?” Elise kyk haar snaaks aan.

      “Maar natuurlik gaan jy saam met ons aan die wedstryd deelneem, ou kammie!” sê Estelle ernstig. “Die Santiago-brouery behoort aan ’n ryk Portugees, gevolglik sal al die Portugese meisies hier in Suid-Afrika aan die wedstryd deelneem en –”

      “Presies,” val Elise haar bedaard in die rede. “Al die Portugese skoonhede sal aan die wedstryd deelneem, en die beoordelaars sal so ’n witrot soos ek nie eens raaksien nie.”

      “Wat, ’n witrot?” Marie kyk Elise verbaas aan. “Laat ek jou dit vertel, my hartjie, daardie klomp Portugese het nog nooit in hul lewe so ’n mooi nooi soos jy gesien nie. ’n Witrot . . . inderdaad! Nee, jong, gaan haal jou baaikostuum en hou op om met ons te argumenteer. Trouens, ons maak staat op jou om die eerste prys te verower.”

      “Marie het gelyk,” gee Estelle antwoord. “Die Latynse meisies gee altyd voor dat hul swartkopmeisies die mooiste ter wêreld is, maar, ou kammie, hulle het óns drie nog net nie gesien nie. Glo my, ons beskik oor alles wat ’n meisie mooi en aantreklik maak. En wie, vra ek jou, het meer persoonlikheid en sjarme as ons drie . . .? Ons sal maklik albei pryse verower, daaraan twyfel ek geen oomblik nie.”

      “Ek stem volkome saam met Estelle,” laat Marie weer hoor. ’n Guitige glimlag verskyn om haar mond toe sy vervolg: “Die een wat die eerste prys verower, moet sorg dat sy vir haar ’n ryk, aantreklike Portugese kêrel daar in die vreemde aankeer en hom vir ons kom wys.”

      “Wat, is dit ook deel van jul planne?” vra Elise droog.

      “Maar natuurlik!” antwoord Marie. “Wat anders dink jy wil ons daar gaan maak? Ek soek lankal na so ’n lang, donker ou met baie geld.”

      “Nou kyk,” sê Elise beslis, “ek is heeltemal bereid om saam met julle te gaan swem, maar vervlaks of ek ’n foto van my gaan laat neem om aan die wedstryd deel te neem. Al is ek net een en twintig jaar oud, weet ek darem waar om die streep te trek.”

      “O, nou goed,” stem Estelle vriendelik in, maar werp Marie ongemerk ’n betekenisvolle blik toe. “As jy so sterk daaroor voel, ou kammie, sal ons net foto’s van jou neem vir ons eie plesier, maar ek verseker jou dat ek en Marie elkeen ’n foto vir die wedstryd gaan instuur.”

      “Dit kan julle met my komplimente doen,” sê Elise. “Moet net nie verwag dat ek dieselfde moet doen nie. Ek het trouens nog nooit gevoel dat ek in ’n posisie is om met ander mee te ding nie. Maar as julle twee voel julle het ’n kans om die Portugese meisies uit te stof . . .”

      “Natuurlik voel ons so!” knip Marie haar vriendin se betoog teleurgesteld kort. “Eintlik voel ons so oor jóú, Elise. Jy was veronderstel om die eerste prys te verower . . . ek bedoel, ons voel oortuig daarvan dat jy wel die eerste prys sal inpalm.”

      “Luister, ou kammie,” gooi Estelle ook weer haar gewig by Marie in,“ek was drie jaar lank jou kamermaat in die koshuis, en ek weet presies hoe beskeie jy is. Maar bewys ons asseblief hierdie een guns en neem dan net vir die pret aan die wedstryd deel. Onthou, elke rand wat die brouery insamel, word aan ’n liefdadigheidsfonds geskenk. Die deelname aan die wedstryd is maar net vir die pret en . . . wel, dis tog interessant.”

      “Ag, nou toe dan maar,” swig Elise eindelik voor haar twee vriendinne se geneul. “Ek sal die geld skenk, maar meer as dit wil ek nie met die hele affêre te doen hê nie. As julle wil hê ek moet my vir die wedstryd inskryf, moet julle dit maar self doen. Ek gaan my glad nie eens moeg maak om ’n inskrywingsvorm te bekom nie en nog minder om dit in te vul.”

      “Dankie, ou kammie,” sê Estelle met ’n joviale glimlag. “Ek en Marie sal die ou sakie vir jou behartig. Laat ons net toe om ’n paar foto’s van jou in jou baaikostuum te neem.”

      “O, pragtig!” roep Marie opgewonde uit. “Kom, laat ons dadelik by die swembad foto’s gaan neem, voordat Elise straks van gedagte verander en al ons pret bederf.”

      “Ja, dit word laat, ons sal beslis nou aanstaltes moet maak om te gaan,” laat Estelle versigtig

Скачать книгу