Die bruidseisoen. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die bruidseisoen - Helene de Kock страница
Helene de Kock
Die bruidseisoen
twee novelles:
’n Bruid vir vier seisoene Huwelik in die herfs
Human & Rousseau
1
Venesië in Januarie – die mooi waterstad op sy koudste, maar in die klein kafeetjie is dit heerlik warm.
Sanet sien die donkerkopkelner nader kom. Sy knip haar handtas oop en vroetel daarin. Met ’n bietjie gesukkel kry sy die regte bedrag beet. Vreemde geld, vreemde land. En sy is alleen. Die eerste keer in weke – of is dit jare? – is sy werklik alleen, nie soseer om te maak wat sy wil nie, maar om uitsluitlik met haarself te verkeer. En dit is nuut!
Op die ingewing van die oomblik – en omdat die kafeetjie so heerlik knus is – besluit sy om nog ’n koppie koffie te drink. Italiaanse koffie, mals en heerlik.
“Il cappucino, per favore,” bestel sy effens verleë.
“I am glad the signorina enjoys our coffee. It is a special Venetian brand,” antwoord hy haar gladweg, sy oor vinnig om haar huiwering en effense aksent op te vang.
Sy glimlag, en dit bring ’n kuiltjie in haar wang en verhelder haar donkerbruin oë. Maar sy sien betyds die vinnige emosies van die gebore Venesiër raak, en sy laat haar kop sak sodat haar blinkgeel hare vorentoe swaai.
Die kelner laat ’n stroom gefluisterde Italiaans uit waarvan sy net ’n paar woorde opvang en verstaan: “Mamma mia … perfetto … come un fiore!”
Sy sluk haar lag in, maar haar blos verraai dat sy meer Italiaans ken as wat hy gedink het.
“Perfek … soos ’n blom …” daag die betekenis van sy woorde in haar. En toe die kelner flink verdwyn om haar bestelling uit te voer, wonder sy: is dit hoekom tant Bybs so gekeer het toe sy daarop aangedring het om ’n week langer te bly?
“Maar, kind!” het die goeie tant Bybs die dag verstom gesê, haar swart ogies wyd gerek. “Wat sal my suster sê as ek haar enigste dogter sommer hier in die vreemde agterlaat? Wat is dit met jou!”
Sanet kan dit self nie verklaar nie. Dis twee maande voor haar troue met die man wat sy liefhet, en daar is geen haas in haar om terug te gaan nie! Inteendeel; dit is asof die alleenwees hierdie laaste paar dae voordat sy haarself sal gee – of verloor – opwindend soet is!
Hoe kan ’n mens jouself nou ook verloor in ’n verhouding? wonder sy skielik onrustig, ontsteld oor die gedagte wat so ongevraag en onwelkom opgeduik het. Maar sy kan dié gedagte nie vasvang en ontleed nie; hy vlug ál voor haar uit, en dit voel vir haar asof sy half verdwaas volg … tot sy voor Kallie se beeld te staan kom.
Kallie. Blonde Kallie met sy blou oë. Ryk Kallie wat aan haar alles kan gee wat sy reeds so mildelik geniet. ’n Voortsetting van haar gekoesterde lewe, gekussing deur geld en nogmaals geld …
Ek het hom lief, lief, lief! sê sy diep binne-in haar. En die liefde dring deur alles heen; dit vee rykdom weg en omvou verdriet. En dis mos nie asof ek hom nie kén nie! Dit was nog altyd net ek en Kallie. Behoefte aan iemand anders was daar nooit! Hy vul my gedagtes, my dae, my drome … en my bede? Maar sy stoot die gedagtetjie verlig weg toe die kelner haar tweede koppie koffie talmend voor haar neersit. Haar strak gesig laat hom onwillig padgee.
Die frons tussen haar wenkbroue keep dieper. Sy het drie poskaarte van Kallie ontvang in hierdie vier weke. Die laaste poskaart het twee weke gelede aangekom; ’n kleurryke sonsondergang op Mount Rushmore in die Black Hills van Suid-Dakota in Amerika.
“’n Wonderlike gesig, Sanet,” het hy geskryf. “Jy wonder seker wat maak ek hier. Ag, jong, Mammie-hulle is so besig by die ambassade dat ek my begin verveel het. Washington se partytjies amuseer my nie meer nie en ek en ’n klomp jonges het toe die pad gevat. Ons slaap vanaand in Cody. Môre gaan ons Rodeo bekyk. Dan mik ons Yellowstone Park toe, warm bronne en so. Stuur jou briewe ambassade toe. Liefde – Kallie.” Geen woord oor hul komende huwelik nie.
Dit was twee weke gelede. Nie dat sy omgee nie. Sy weet presies hoe styf dit in ’n ambassade kan wees, en Kallie was nog nooit lief vir reëls en regulasies nie. Sy was nog altyd die een wat haar met gemak aan reëls kon hou, wat kon insien waarom daar reëls is. Veral as eerstejaar op Tukkies het sy geen begeerte gehad om “uit te breek” nie (Kallie se uitdrukking). Hy was toe al twee jaar lank daar en bekend as een van Boekenhout se voorste “droogmakers”. Tog was hy by owerheid en onderdaan ewe gewild.
“Kallie sal selfs die voëls uit die bome kan toor!” het tant Bybs dikwels droog opgemerk. En dit is presies wat Kallie daardie aand gedoen het. Sou hy dit nog onthou? kriewel dit binne-in haar. Dit was een van die baie kere dat hy gedoen het net wat hy wou …
Hulle was op ’n studentepiekniek by Die Hoekie, met warm son en koel water, braaivleis en bier en koeldrank vir die meisies wat nie bier drink nie. Sanet het ook koeldrank verkies. Sommer maar omdat sy nie juis in ’n toegeeflike bui was nie.
“Net één bier!” het Kallie gesoebat. “Net een, my ding, sal jou rêrig niks maak nie!” Kallie, derde jaar regte – só seker van wat sál en wat nié sal nie! Maar dit was vir haar niks nuuts nie. Sy het hom al te lank geken.
“Kallie,” het sy koud gesê, “moenie met my lol nie!”
Hy het lank doodstil na haar gekyk. Toe het hy die onoopgemaakte blikkie bier op ’n klip neergesit, haar vingers wat sy beskermend om haar koeldrankglas geklamp het, sag losgemaak, die glas ook neergesit en haar dig teen hom aangetrek. Sy was dankbaar oor die digte struik tussen hulle en die ander pretmakers.
“My bene wil onder my ingee as jy so kwaai na my kyk!” het hy steeds lughartig gesê, want Kallie word nie maklik ernstig nie. Maar toe het sy tergery tog vinnig uitgerafel. Hy het haar stywer teen hom vasgedruk en in haar oor gesê: “Nee, met jou sal ek nooit lol nie, want met jou gaan ek trou! Hoor jy my?” Toe het hy haar gesoen, al op die kroontjie van haar sagte hare.
Sy het stokstyf gestaan van skone skrik. Die onverwagte aankondiging uit Kallie se mond was skielik te veel vir haar.
Tog, toe hy haar ken ná ’n rukkie lig omdat sy niks sê nie, vind sy haar stem: “Ja, ek hoor, maar … jy het dan nog nooit daarvan gepraat nie!”
Hy het begin lag, ineens weer die ou Kallie, meester van homself.
“Omdat ek nog nooit daaraan gedink het nie!”
So is Kallie ook: eerlik tot in sy siel toe. ’n Reguit mens omdat hy sê wat hy dink en voel. Die eerste wat sal erken dat hy verkeerd was – as hy betrap sou word.
Sanet glimlag: ’n klein glimlaggie van suiwer genot wat saam met die ryk koffie haar hele wese verwarm en ’n vlam van verlange aansteek, sodat sy skielik spyt is oor die verwardheid wat haar laat besluit het om ’n week langer te bly. En sy dink aan tant Bybs se woorde toe sy haar met ’n taxiboot tot by die Santa Lucia-stasie geneem het, waarvandaan sy per trein na Rome gereis het.
“Ag, kind, ek kon nog verstaan het toe jy ook ’n bietjie wou wegkom toe Kallie ’n ruk lank by sy ma-hulle wou wees voor jul troue, maar is dit nou rêrig nodig dat jy alleen hier agterbly? Hoekom vlieg jy nie liewer Washington toe en kuier saam met Kallie dáár nie? ’n Mooi meisie so alleen op ’n vreemde plek was nog altyd die begin van die einde!”