Die bruidseisoen. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die bruidseisoen - Helene de Kock страница 5
“Signorina?”
Sy skrik effens. Besef dat sy met haar oë op die poshokkies staan. Die toonbankklerk volg haar blik en sê verskonend: “No post for the signorina today.”
Sy glimlag verstrooid. “Grazie.”
Die klerk blom. “Prego. But there was a gentleman who asked for you … very handsome … he asked the number of the signorina’s room!”
Verbasing word skok wat ’n gloed deur haar liggaam stuur, krag aan haar bene verleen sodat sy die trap drie-drie opvlieg. Kallie! Dit kan net Kallie wees! Hy het ook verlang! Hy het ook trousenuwees … ’n Klein laggie ontglip haar toe sy in die gang af hardloop. Sy sien hoe die blompatroon van die mat onder haar voete verbyvlieg, hoor hoe die glaskandelares bo haar kop rinkel van die trilling op die vloer …
Die man aan die punt van die gang sien haar kom, kyk na haar uitbundigheid. Hy weet wat sy dink, sien wat sy voel … en hy klem sy kake styf opmekaar.
“Sanet!”
Sy skok tot stilstand, staar na die man wat teen die toe deur aanleun. Hy kom orent.
“Hugo!” Verdwaas.
Sy mondhoek trek effens. Sy weet dit nie, maar hy probeer om te glimlag, vind dit onmoontlik in die aangesig van wat hy kom doen het.
“Hallo, Sanet …”
’n Koue doodsheid styg wurgend in haar op.
“Hugo?” hyg sy. “Wat maak jy hiér?”
Hy vat die sleutel uit haar yskoue hand en sluit oop, stoot haar na binne en sit die lig aan. Sy ruk om.
“Hugo, asseblief!”
Hy aarsel, maar net ’n oomblik lank.
“Ek is hier omdat ek hier wil wees! By jóú. En ek het gekom omdat ek gevrá is om te kom.”
Die bloed vloei uit haar gesig.
“Dis Kallie, nè?”
Hy knik, kyk haar nogtans reg in die oë.
“Het hy … het hy iets oorgekom?”
“Ja, maar niks blywends nie … Nie soos ek hom ken nie!”
“Wat?” Net haar lippe vorm die vraag.
“Kallie is getroud!” antwoord hy en lek oor sy droë lippe.
2
Hugo voel hy gaan sy selfbeheersing kwytraak. Hy draai om sodat hy nie na haar hoef te kyk nie.
Sanet bly staan, stom van skok.
Hugo speel seker! Speel? Hy jók! Jok? Kán Hugo ooit jok?
“Hy’s getroud, Sanet,” herhaal Hugo toe sy te stil is. En sy weet ineens – Hugo jok nie!
Sanet staan. Sy staan sommer net. Die slag het haar oopgeskeur. Tog ontdek sy dat sy nie iemand is wat steier nie. Sy kán staan! Alleen …
Sy bly staar na Hugo se rug, en sy wil dit uitskreeu: Nooit! Nie háár Kallie nie! Maar sy kry geen klank uit nie, en haar beterwete strooi sout in die seer: Ja, tóg! Getroud met ’n vrou wat hy moes begeer het … bo jóú!
“Hoe lyk sy?” vra sy skielik hard en duidelik sodat Hugo amper verskrik omswaai. Maar haar gesig is kalm, só kalm … Net die bruin oë gloei. Hugo het moeite om sy woede te beheer. Net die dokter in hom slaag daarin; die mán wil moor …
“Ek weet nie.” Kortaf. “Niemand weet nie. Sy was blykbaar saam op die toer na Yellowstone Park. Dáárvan weet jy seker?”
Sy knik. ’n Pynlike beweging.
So broos, so ragfyn van die seer staan sy daar, dat Hugo se selfbeheersing net-net wil vermurwe – al weet hy met elke vesel in hom dat dit nie is wat sy nou nodig het nie.
“Kom sit. Trek uit jou jas,” sê hy kortaf, maar sy mond word sag toe hy sien hoe sy nie kan reageer nie. Sy kan net staan, staan en nie omval nie. Dis al. Elke ander handeling staan ver buite haar beheer. Hy loop tot by haar, voel vlugtig aan die klam jas en trek dit versigtig uit. Sy maak haar oë toe en laat hom gedwee begaan.
Hugo voel ontstemd hoe yskoud sy is. Dwarsdeur die wolrok slaan ’n koue wat nie net aan die weer buite toe te skrywe is nie.
Hy kyk na die spierwit gesig digby syne, die reguit neus, lang wimpers, die hol wange en droewige mond … en dit word ’n oomblik wat haar aan hom vasvries – die oomblik van háár ontsetting en sy ontdekking. Hy skrik hewig vir sy gedagtes, maar lag homself dan innerlik uit daaroor. Hy moes tog lankal geweet het, bewústelik gewéét het hy het haar lief? Waarom anders het hy Lilian sommerso laat gaan? Waarom het hy Londen toe gevlug toe Kallie verloof geraak het? En nou, sonder die direkte verlof van die senior konsultant, op die eerste vliegtuig gespring toe sy ma hom van Kallie se nuutste flater vertel?
Sonder dat hy wil, knel sy hande om haar skouers en haar oë vlieg oop. Sy greep verslap onmiddellik.
“Kom, jy’s bevrore,” sê hy beslis. “Ek wil hê jy moet in vuurwarm water gaan bad terwyl ek vir ons iets te ete bestel.”
Sy skud haar kop stadig, loom van skok.
“Nee … nee, ek wil eers hoor …”
Hugo stuur haar ferm oor die dik mat deur die slaapkamer na die aangrensende badkamer.
“Jy sál alles hoor, maar jy moet eers warm word. Netnou word jy siek!”
Sy sterk arm wat haar voortstu en sy laaste woorde laat haar skielik ontdooi.
“Siek? Ek wens …” Sy leun teen die badkamermuur aan. “Ek wens ek was liewer dood! Hoekom is ek gebore? Waarom begin dinge? Sê jy my …” Sy praat met ’n moeë stem. Dis asof haar lippe net haar sugte verwoord. Iewers in haar agterkop daag die besef dat haar woorde melodramaties is en sy begin liggies lag. So what? Haar kêrel het haar afgesê. Meer as dit, eintlik: hy’t die eerste vrou wat hy kon kry, summier gevat. Seker om los te kom van háár … Sy lag meteens hardop.
Hugo kyk vinnig na haar, vat na haar arm, maar sy skud haar kop. “Los my maar … Los net … Ek … ek glo nie … dis histerie nie …”
“Wat dan?” vra hy sag, maar sy oë bly waaksaam op haar.
“Ek … weet nie … Miskien … lag ek omdat dit werklik snaaks is.”
Vir ’n oomblik lyk dit of hy iets wil kwytraak, maar hy buk vinnig by die liggroen bad en begin die warm water intap. Hy bly ’n rukkie so staan, druk met sy hande op die kant dat die kneukels wit uitslaan, krap in sy deurmekaar gemoed na iets, enigiets om te help las aan die breekplek, die groot seer. Dan kom hy orent, stadig, met onsekerheid in die keep van sy mond.
“Sanet!” Hy praat hard, bó die