Die bruidseisoen. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die bruidseisoen - Helene de Kock страница 8
“Hallo,” sê sy met ’n effense glimlag. Sy skink vir haar ’n koppie by die teetrollie. “Wat doen ons vandag?” Sy gooi suiker in en roer ingedagte. “Maar jy moet seker terug?” vra sy half ontsteld, haar oë groot op Hugo.
“Hm-hm,” kom die antwoord tussen ’n mond vol gebotterde broodjie deur, “twee weke verlof aangevra.”
“O,” proe sy aan dié inligting. Sy gaan sit op ’n hoepelbeenstoel met haar koppie tee. “En … en dan?”
Hugo teug genoeglik aan sy warm tee, spits al sy aandag daarop toe.
“Ek is maar net ’n junior konsultant! Terug na Londen, dus! Wil jy saamkom?”
Verbasing en skielike nadenke verdruk ’n oomblik lank die hartseer van die mooi gesiggie.
“Ja wat, hoekom nie?”
“Gaaf,” sê Hugo, en smeer met ywer nog twee broodjies botter. “Dan gooi ons sommer ’n draai by Ouma voor ons teruggaan Londen toe.”
Sy ouma – en Kallie se ouma: ’n waardige ou dame wat nie agter haar dogter aan Suid-Afrika toe verhuis het toe dié met ’n jong diplomaat getrou het nie. Sanet dink aan die popmooi huisie waarin Hugo se ouma woon, aan die kant van ’n ewe skilderagtige dorpie in Sussex, digby die kus. Vóór is die onstuimige see, en agter die groen-groen deinings van Engeland … En meteens verlang Sanet. Nie na haar ma nie. Nie na haar besige pa, wat darem ook daar is nie. Veral nie na Kallie nie. Sy verlang na iemand wat sal begryp. Iemand soos Ouma Em.
Sy het Ouma Em nog maar enkele kere gesien. ’n Paar maal toe sy by Kallie se ouers gaan kuier het voordat hulle Amerika toe is, en een maal toe sy en Kallie lede van ’n toergroep was en ’n dag lank weggebreek het terwyl die ander Cambridge toe is. Maar sy weet bo alle twyfel dat Ouma Em sal begryp. Dalk nog sonder veel woorde.
“Sy weet nog nie,” sê Hugo asof hy haar gedagtes gelees het. Hy staan op en skink vir hom nog tee. Hy bly staan met die suikerlepel in die lug. “Ek het regtig nie kans gehad om haar te laat weet nie.” Hy gooi nog ’n bietjie suiker in en begin roer. Sy hand vang ’n spikkel sonlig wat sy oupa se seëlring laat flits.
Sanet sien dit en stort byna haar tee. Sy het vergeet … totaal vergeet! Sy kyk verdwaas na die wit diamant aan haar ringvinger. So gewoond het sy aan die gladde rondheid van Kallie se ring geraak dat dit deel van haar is … wás!
Sy sprei haar hand voor haar uit, weg van haar; asof haar armlengte dit nie ver genoeg kan vat nie.
Hugo sien die beweging en sit snaarstyf en toekyk.
Maar sy laat die hand op haar skoot val, en sit haar teekoppie hard neer. Met die regterhand glip sy die verloofring van die slap vinger af. Sy kyk ’n oomblik half verwese daarna en skiet dit dan na Hugo toe asof dit ’n muntstuk is. Dan vlieg sy op en gaan staan voor die venster, kyk op in die grouerige lug en kry die gevoel dat die hemele op haar wil neertuimel.
Hugo het die ring raak gevang. Nou sit hy gespanne na haar stokstywe rug en kyk.
“Ekskuus dat ek dit gegooi het,” sê sy onverwags oor haar skouer, draai dan om en kyk na hom. Hy steek die ring doodluiters in sy sak, kom staan by haar en sit sy arm liggies om haar skouers.
“Ek … ek wou nie regtig gooi nie,” sê sy weer. “Ek wou dit net wég van my af hê!”
“Ek weet.” Met een vinger vang hy ’n traan wat ’n blink paadjie oor haar wang gelaat het.
Sy sug. “Sal jy dit asseblief aan Kallie besorg?”
“Natuurlik. Ek gaan dit sommer pos. Ongeregistreerd. Ek dink nie dis versekering werd nie.”
Sy kyk op in Hugo se oë. Onleesbaar. Tog is daar ’n trek om die oë wat haar nog altyd laat veilig voel het. ’n Wrang laggie pluk aan haar mond.
“Nee, ek sien nou dit het geen versekering aan my gebied nie. Dit was simbolies van presies niks!” Sy byt haar lip, kyk betraand af na die bedrywigheid onder die venster. ’n Vasmeerplek vir gondels. ’n Paar van die gondeliers staan koulik rond. Twee middeljarige toeriste kom aangestap en een gondelier adverteer in ’n hoë, dun stem hoe wonderlik ’n rit op sy gondel kan wees. Die ander lag hom uit dat die stoom staan, en die toeriste stap verby. Dis nie ’n goeie seisoen nie.
Hugo volg haar oë, besef dat sy die dinge buite eintlik nie sien nie, en wens met alles in hom dat hy kan weet wat sy dink. As sy dink …
Sy dink wél – hoe snel het die ring, wat ’n sieraad ter ere van die liefde was, nie ’n las aan haar vinger geword nie.
“So ja!” het Kallie selfvoldaan gesê toe hy dit aan haar vinger steek een someraand net nadat hy sy graad gekry het. “Nou het ek die versekering dat almal sal weet jy is myne. Nie baie mans maak ogies vir ’n verloofde nooi nie, en ek sal dié wat hans genoeg is, sommer self opkeil! So al op die regteroog!”
Hulle het gelag. Daar was min plek vir teerheid op daardie oomblik. Daarvoor was Kallie te propvol triomf. Want net twee weke tevore het sy nog een aand met Paul Malherbe, die studenteraadsvoorsitter, uitgegaan. Kallie kon dit nie sluk nie. Paul was darem ’n veels te groot vis in die see! En toe, besef Sanet nou met klinkklare insig, het Kallie verloof geraak sodat hy verseker kon wees van háár! En hy wás! O, hoe seker was hy nie van haar nie! So seker dat hy haar aangemoedig het om saam met tant Bybs te gaan vakansie hou voor die troue. Hy sou dan Amerika toe gaan om ’n rukkie by sy ma-hulle te wees.
“Gaan op ’n lang reis!” het hy vrygewig voorgestel. “En geniet dit!”
En sy en tant Bybs hét dit geniet! Italië toe, het hulle besluit. Net daar sou hulle gaan vakansie hou. Rome. Napels en Capri. ’n Dag in Amalfi en twee in Sorrento. Weer Rome en toe Florence. Uiteindelik Venesië. Eindpunt, maar teëspoed se begin!
Teëspoed. Só, soos ’n slag uit die hemel. Maar miskien is dit beter as wanneer ’n mens dit sien kom.
Sy sê dit aan Hugo, en hy luister, bly dat sy uiteindelik daaroor praat.
“Dis net … ek weet nou nie wanneer kom die volgende slag nie.” Hy kyk vraend na haar, en sy vervat: “Ek bedoel, jy het gisteraand van Job gepraat.”
Hy kyk ietwat uit die veld geslaan na haar, vee met sy hand oor sy agterkop. Wat het hom tog besiel? Tog, dit hét uit sy hart gekom; hy is geen dweper óf eksegeet nie! Terugtrek kan hy sy woorde ook nie, want dit was ook nie ydel praatjies nie. En buitendien, hy glo dit …
“Kyk, Sanet,” sê hy ferm, al wil die sweet op hom uitslaan. Dis nie sy terrein dié nie, maar hy glo tog … “Kyk, as jy gaan glo dat alles wat met Job gebeur het – die een ramp op die ander – nou weer jóú deel gaan wees, dan is jy sommer bygelowig!”
Sy swaai vererg na hom.
“Jy praat van die Bybel, Hugo!”
“Nee, ek praat van jou interpretasie daarvan, met alle respek gesê! Om teëspoed te verwag net omdat jy nou weet hoe teëspoed lyk, is fatalisties!”
Hy praat driftig sodat sy half teen haar sin luister, en weer eens besef sy dat sy Hugo eintlik glad