Die bruidseisoen. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die bruidseisoen - Helene de Kock страница 6
Hy byt liggies op sy tande, weet nie mooi hoe om voort te gaan nie. Sanet staar verbaas na hom, sien hom nou eers regtig raak. Hugo, die koel en kalm Hugo, wat nou nie weet waar om te trap nie. Sy ontspan ’n bietjie, en dit word ’n stil oomblik. ’n Eerste hand uitsteek om die wond te betas, die skade te meet.
“Ja,” sê sy amper onhoorbaar. “Ja, dis die eerste groot ding in die lewe wat my tref!”
Oomblikke lank kan hy net na haar kyk, versigtig om geen woorde te gebruik wat haar kan verjaag, of net goedkoop kan troos nie. Toe skiet dit hom te binne: “Sanet, ken jy die verhaal van Job?”
Sy kan ’n effense glimlaggie nie keer nie, ’n trekkie van die lippe wat bitter smaak.
“Jy wil sê ek moenie nou op die ashoop gaan sit nie?”
Hy weet hy’t sy voet in ’n ding gesit, maar soms moet ’n mens mos maar ’n ding reguit sê. Tog verweer hy: “Nee, ek is nie banaal nie!”
Sy verbleek nog meer, besef ineens dat Hugo ’n flentertjie van sy gemoed aan haar wil blootlê – al is dit op hierdie onmoontlike tyd.
“Ekskuus,” prewel sy. Haar mond begin bewe en haar oë skiet vol trane. Hugo sien dit, en draai die krane vinnig toe. Toe hy weer na haar kyk, het sy alle selfbeheersing verloor. Sy ruk soos sy snik.
Hy bedwing hom ook nie langer nie. Hy druk haar teen sy bors vas asof hy só die verdriet wat haar so sielsverlore laat huil, wil keer. Hy praat met sy lippe op haar hare – allerhande woorde, wat sommer net uit sy vol gemoed stroom. En hy bied haar sy wit sysakdoek aan …
Hy laat haar huil en huil tot die laaste snik soos ’n sug uit haar ontsnap. Sy leun met haar gesig skuins teen sy natgehuilde bors aan.
“Wat … wat wou jy gesê het?”
Hy kyk af op die geswelde ooglede, die gekneusde mond, waarvan sy die bewing vergeefs probeer beheer. Hy staan verslae, meer verslae as wat sy ooit kan dink of droom. Want hy weet met die helderheid van ’n ligbaken in die nag wát hierdie vrou met die beeldskone uiterlike en die skugter gees nog altyd vir hom beteken het. Soos ’n honger wat saam met jou van die tafel af opstaan, so was sy nog altyd in sy gemoed – ’n eindelose verlange. En hy soek na woorde wat sy hart nie sal verraai nie, en háre sal versterk.
Eindelik sê hy: “Ek … ek wou jou vertel hoe ek aan Job dink – ek bedoel, hoe ek nog altyd die verhaal onthou. Ek onthou dele van die eerste versie omdat dit so poëties mooi klink: Daar was ’n man in die land Us wie se naam was Job; … een wat afgewyk het van die kwaad … Daarby was sy besitting seweduisend stuks kleinvee en drieduisend kamele …”
Sy arms verstyf om haar, keer enige teëwoord.
“Luister nou. Wat ek eintlik wou sê, is dit: ek onthou veral ook een van die laaste versies omdat dit op my ’n indruk gemaak het, seker as kind nog: En die Here het die einde van Job meer geseën as sy begin … Jy het netnou gewonder waarom dinge hoegenaamd begin! En … selfs al gaan dit nou nie hier om sulke geweldige gewigtigheid soos siekte en dood en so aan nie, is dit tog jou eerste swaarkry. Reg?”
Sy lig haar traannat gesig en soen hom lig op die wang.
“Dankie, Hugo, baie dankie. Ook dat jy na my toe gekom het. As ek dit by die huis moes gehoor het … van … van Kallie …” Sy bewe teen hom aan. Dis ’n bewing wat soos ’n koulike vlammetjie die droë spanning in hom wil laat vlamvat. Hy druk haar vinnig van hom af weg.
“Kom nou,” sê hy skielik bot. “Bad gou. As jy nie gou maak nie, kom ek jou help – dit belowe ek.”
Sy soek na sy oë, soek na ’n teken van terg, maar kry dit nie.
“Jy sal nooit!” sê sy onwillekeurig geskok.
Hy stryk met sy een hand oor die klam kol op sy baadjie. Kyk haar koel op en af.
“Natuurlik sal ek! Jy gaan koue vat, en ek wil dit nie op my gewete hê nie! En nou hoop ek hulle gaan my iets te ete gee in hierdie plek. Net nie spaghetti nie. Liefs niks wat na pasta smaak nie …” Hy loer onderlangs na haar.
“Bestel ’n gebraaide os,” sê sy droog, en hy kry ’n waarderende glimlaggie, want elke gemeenplasie is nou ’n triomf. Toe loop hy.
Sanet vind geen ontspanning in die warm bad nie. Dis bloot water wat branderig om haar verysde liggaam sluit, en sy was vinnig om klaar te kry. Dis asof sy voortgedryf word deur ’n koue vuur – om méér te hoor, wéér te hoor. Soos ’n skokgrap ’n mens teen jou sin laat dink en wonder en dink, so maal en kolk dit in haar.
Sy het haar lang hare op haar kop geknoop om dit uit die water te hou. Met ’n snik-sug spoel sy nou die laaste skuimerigheid van haar liggaam af, en vou haar in ’n dik handdoek toe, begin haar moeisaam afdroog; met al die soepele blyheid van netnou – toe sy met die trap opgevlieg het in die hoop om Kallie hier te vind – verkrimp tot ’n pynlike spasma.
Sy kyk na die potjies vol ryk rome op die glasrakkie asof sy hulle nou die eerste keer sien. Dan buk sy, en in teenstelling met haar gewoonte, was sy haar gesig met die rou water uit die kraan. Net daarmee. Sy vryf hard met haar vingers oor haar fyn vel, spoel weer af, totdat haar gesig blink en bloesend uit die wasem van die spieël na haar terugkyk. Dit voel vir haar asof sy haar kan stukkend was, want sy voel vuil, besmeer deur Kallie se sprong in ’n modderpoel. Want dis wat hy gedoen het …
Troubreuk! Dis wat dit in regstaal genoem word. Die advokaat het troubreuk gepleeg! Of het hy? Dink hy hoegenaamd aan die tróú of die breuk? Hoe het Hugo nou weer van Kallie se trouery gepraat? “Niks blywends nie … nie soos ek hom ken nie!” Tog, selfs vir die wispelturige Kallie is daar sekere beperkinge – trou is trou, en as jy eenmaal getroud is, is jy getroud.
Haar kop suis, en sy wil net weer koud kry. Toe pluk sy die deur vinnig oop en hardloop kaalvoet, met die handdoek om haar, na die kas toe. Sy hoor hoe Hugo die hotelradio in die sitkamer aanskakel.
Op die ingewing van die oomblik pluk sy ’n warm wolkaftan uit die kas. ’n Vrolike kledingstuk met pêrels geborduur, lank, vloeiend en goudkleurig. Sy het dit vir haar wittebrood gekoop. Sy en Kallie sou ná die troue Switserland toe gekom het. Net sy en Kallie. ’n Sug ontglip haar sonder dat sy dit kan keer.
Sy en Kallie …
Sy gooi die handdoek driftig van haar af en trek vinnig aan. Toe sy klaar is, lyk sy soos ’n godin – gesig glansend en oë van kristal. Haar hare is blink drade bo die dofgoud van die materiaal en daar is pêrels om die hals, die wye moue en die soom. Maar haar voete steek sy in pantoffels, slof daarmee die sitkamer binne, waar Hugo op die bank ingesluimer het.
Oor die radio hyg die sanger na sy asem om die laaste draai van die studente-drinklied te voltooi. Geïrriteerd skakel sy dit af. Hugo se oë gaan dadelik oop en neem in wat hy sien. Hy som die trefkrag van haar uitrusting en die verslaentheid van die pantoffeltjies reg op. Hy weet dat dié kombinasie opstand beteken. En dis ’n goeie teken. Al is die verset kortstondig, aangeblaas deur die frustrasie van die oomblik. Solank sy net nie heeltemal gaan lê nie.
Hy kom orent, sprei sy arms aan weerskante van hom op die bankleuning oop.
Sy staar na hom asof haar oë op hom is, maar haar gedagtes nie. Hy kan byna sien hoe die klein klontjie verweer