Schalkie van Wyk Keur 10. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 10 - Schalkie van Wyk страница 7

Schalkie van Wyk Keur 10 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

by ons? Sal sy ma nie na hom soek nie?” vra sy verras.

      “Nie Minette nie, want haar ma, die goeie Esmé, het my nog ’n dag of drie gelede vertel Minette sit al weer in Engeland, want sy en haar oorlede man had hulle eie woonstel in Londen. Minette was maar altoos so: lief vir die blink liggies van die stad en die lande oor die see, want stil sit, kon sy nooit nie, selfs nie in die kerk nie.” Sophia sug diep asof ’n herinnering haar ontstel, kyk dan op en sê gewoon: “Gelukkig het Henno gesorg dat die telefoon aangesluit is en ek het toe vir Esmé gebel en laat weet Bartel kuier hier. Haai, was die vrou verras om te hoor Wilhelm is terug van al sy wedervaringe in die buiteland, en dat hy sommer klaar ’n huishoudster aangestel het. Dis nou jy, sien?”

      “O nee, Tannie.” Erika voel haar keel toetrek van ontsteltenis en kug agter haar hand. “Ek kan nie hier bly nie, tant Sophia, want Wilhelm is so lelik soos die duiwel self en elke keer wanneer ek met hom praat, dan skree ek. Weet Tannie hoe skaam ek my? Ek skree nooit vir ander mense nie, maar Wilhelm maak my skree – dis seker sy gesig of iets. Ek kan mos nie hier bly en skree nie, Tannie?”

      “Nee, ou dingetjie, jy misgis jou met die rede vir jou geskree,” sê Sophia en frons kwellend. “Sien, dis nie Wilhelm se gesig nie, maar die liefde.”

      “Die . . . wát, Tannie?” vra Erika, seker daarvan haar ore het haar bedrieg.

      “Die liefde, Erika. Dit doen die wonderlikste ding aan ’n meisie se hart – en aan haar stembande ook. Foei, ja, ek onthou nog hoe hees het ek geraak die keer toe ek op Dirk Kamfer verlief geraak het, en Joos de Lange – foei, die arme man lê al sewentien jaar in die kerkhof – het my die allerverskriklikste aanval van hooikoors gegee. En dan was daar Evert Schoonraad, die onderwysertjie, wat my so maklik laat huil het . . . en al die tyd was dit maar net die liefde. En jy sê jy skree, ou dingetjie?” vra Sophia met simpatieke belangstelling.

      “Tant Sophia, ek gaan liewer dood voordat . . .” kom dit heftig van Erika, ’n gloed van ergernis vlammend op haar wange.

      “Nee, toe maar, ou kindjie, almal wil doodgaan van die liefde, maar niemand kry dit ooit reg nie. Wat sê Wilhelm? Is hy ook lief vir jou? Reken, ek was half verbaas dat hy so maklik ingestem het om jou as sy huishoudster aan te stel, maar dis soos jy sê: hy het jou seker ook lief,” gesels Sophia mymerend.

      “Asseblief, Tannie, daar is geen sprake van liefde tussen my en Wilhelm nie! Inteendeel, ek ry net môre terug Johannesburg toe, want ek bly nie ’n dag langer op Drie Eike nie!” sê sy met finaliteit en wonder waarom sy so seker is dat sy haar morsdood na Henno en Sophia en Jackie en selfs die stout Bartel sal verlang en waarom sy glad nie wil teruggaan Johannesburg toe nie.

      “Maar, ou dingetjie, hoe kan jy dit aan my doen? Wie gaan my nou help om klein Jackie te versorg, en wat doen ek as Riaan ook oor ’n dag of wat huis toe kom? Haai, ou kindjie, jy bedoel mos nou nie wat jy daar sê nie?” vra Sophia na aan trane.

      “E . . . e . . . nee, Tannie, ek sal . . . hier bly totdat Tannie ’n ander huishoudster kan kry. Ek is darem nie so haastig terug Johannesburg toe nie,” willig Erika in, skuldig omdat sy Sophia byna in trane gehad het.

      Sophia glimlag stralend.

      “Nou ja, dan kwel ek my niks verder nie, want ons sal nie maklik ’n plaasvervanger vir jou kan kry nie, daarom sal jy nog lank hier op Drie Eike wees. Lekker slaap, ou dingetjie, en kom sê vir my as jy dalk iets nodig het. Gelukkig het Wilhelm belowe om op Karen se terugkeer te wag. Nag, Erika.”

      “Nag, Tannie,” groet Erika gedwee en loop met die gevoel dat sy uitoorlê is die slaapkamer uit.

      Erika staan in die ingang tot Drie Eike, hoor en sien ’n kragtige motorfiets nader dreun en wuif haar hande wild bokant haar kop om die bestuurder se aandag te trek.

      Dit kan net Karen en haar jongste kêrel wees wat half­twee die oggend eindelik huis toe kom, dink Erika grimmig. Sy hoop vuriglik dat die jong man op die motorfiets nie dalk dink sy is ’n spook wat platgery moet word nie.

      Die motorfiets kom ’n tree van haar af tot stilstand en ’n plotselinge stilte volg toe die dreunende enjin afgeskakel word.

      “Skakel die lig af!” beveel Erika en beweeg na die meisie agter die bestuurder. “Is jy Karen van Vollenhoven?”

      “Ja. Wie is jy?” vra die meisie kil.

      “Ek sal later verduidelik. Jou broer Wilhelm is hier en hy wag op jou. Hy gaan nie bly wees om jou –”

      “Sjuut! Daar kom ’n ou man met ’n flits aan,” waarsku die motorfietsbestuurder.

      “Dis seker my broer, Kallie. Maak asof hierdie meisie jou nooi is. Ek gaan verkas,” fluister Karen, klim van die motorfiets af en verdwyn tussen die donker struike, terwyl Kallie ’n besitlike arm om die oorblufte Erika slaan.

      3

      Skok oor die skielike wending van sake laat Erika willoos staan terwyl Kallie sy arms om haar slaan, haar ru teen sy motorfiets aantrek en haar vol op haar lippe soen.

      Die verblindende ligstraal van die flits op haar en Kallie laat haar weer in beweging kom, en sy ruk haar met geweld uit die vreemde jong man se omhelsing los.

      “Vervlaks, man, ek weet nie eens wie jy is nie!” roep sy vuurwarm van ergernis uit en onderdruk met moeite die begeerte om Kallie se ore warm te klap. Sy ruk haar kop op en kyk na die onsigbare figuur agter die lig van die flits. “En jy, onnosel, kan gerus elders gaan jag! Ons is nie springhase nie.”

      “Erika . . . Erika . . .” sê Wilhelm en sy hoor die treiterende lag in sy stem. “Rits jy saam met jong mans wat jy by ’n disko opgetel het, op hulle motorfietse rond? En nogal dié tyd van die oggend? Ek dag ek sal jou vra om Karen ten goede te beïnvloed, maar nou . . .” Hy sug teleurgesteld.

      “Maar is jy dan heeltemal simpel?” skree Erika en skrik vir die volume van haar eie stem. Daar doen sy dit al weer: skree die hele Bergvallei om halftwee in die oggend wakker – en dit net omdat sy Wilhelm van Vollenhoven nie voor haar oë kan verdra nie.

      Of is dit dalk die liefde wat haar onverhoeds bekruip het, soos Sophia beweer?

      O nee, sy was darem al meer as een keer verlief, en gewoonlik was sy sag en dierbaar en inskiklik en te gretig om die man in haar lewe gelukkig te maak. Wilhelm maak ’n duiwel in haar wakker, want met hom in die nabyheid rys haar nekhare en begin sy skree.

      “Ek wag, Erika,” praat Wilhelm anderkant haar gedagte­wêreld. “Jy wil nie dalk beweer dat jy nie saam met die jong man uit was nie? Moet ek nou glo dat jy en Karen ’n kêrel deel?”

      “Wie is Karen?” vra Kallie vinnig.

      Erika se oë het gewoond geraak aan die donker en in die lig van die sterre sien sy hoe Wilhelm afkyk na Kallie en glimlag.

      “Slim seun,” prys hy. “Onthou net in die toekoms dat die meisies in my huis klokslag om twaalfuur by die voordeur afgelaai moet word. Daarby leen jy jou pa se motor as jy Erika weer wil uitneem, want ek laat nie my familie of my werknemers toe om agter op motorfietse rond te rits nie,” vervolg hy nadruklik.

      “O, nou is ’n motorfiets nie goed genoeg vir die grondbaron se mense nie?” vra Kallie nydig. “As jy nie my pa van sy grond af verdryf het nie, sou hy nie nou ’n sukkelbestaan as ’n garage-eienaar gemaak het nie. Onthou dit, Van Vollenhoven!”

      “Kallie

Скачать книгу