Susanna M Lingua Gunstelinge 2. Susanna M. Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 2 - Susanna M. Lingua страница 18
“O, jy sal weer verlief raak,” voorspel hy, “en hierdie keer sal dit op die regte man wees . . . Toemaar, jy skud verniet jou kop. Liefde is ’n emosie waaroor ’n mens geen beheer het nie. Dit oorwin jou nog voordat jy weet jy word aangeval.”
“Praat jy nou uit eie ondervinding, Wouter?” Sy kyk hom met groen, ondeunde oë aan.
“Maar natuurlik praat ek uit eie ondervinding, my hartjie. Ek gee nooit raad tensy ek ’n grondige kennis van die onderwerp het nie, en ek herhaal: jy sal weer verlief raak.”
“Het die liefde jou bekruip en oorwin nog voordat jy van sy aanval bewus was, Wouter?” vra sy met iets soos onsekerheid in haar stem. Hy lyk vir haar so sterk en standvastig, so asof hy te alle tye meester van elke situasie is. Hy lyk nie vir haar na ’n man wat sal toelaat dat die liefde sy lewe beheer nie.
Maar dan hoor sy hom sag en bedaard sê: “Dit is presies hoe die liefde my oorval het – ongevraag en onverwags.”
Hulle gesels so ernstig oor die liefde dat hulle by die kerkhof verbystap sonder om dit eens op te merk. Eers toe hulle die werkers se huise nader, tref dit Wouter dat hulle verder gestap het as wat hy aanvanklik bedoel het. Katrien loop ’n paar treë agter hulle. Sy het ’n kombers oor haar kop en net haar neus en oë steek uit.
“Ons draai hier om,” voeg Wouter die huishulp toe. “Jy behoort nou alleen reg te kom.”
“Ja, hier is nie spoke wat jou lastig sal val nie. Ten minste, ek het nie een gesien nie,” werp Lecia ook haar stuiwer in die armbeurs.
Die vrou bedank hulle verlig, sê nag en verdwyn vinnig in die rigting van die huise.
Terwyl hulle terugstap, dink Lecia aan hul gesprek van flussies. Sy wonder wie die meisie is aan wie Wouter se liefde behoort en wanneer die huwelik gaan plaasvind. Snaaks, sy hou nie van die gedagte dat ’n ander vrou die septer in Blouberg se woonhuis moet swaai nie.
Ek dink ek is besig om van my wysie af te raak, dink sy vererg. Ek wil self nie hier woon nie, en tog wil ek ook nie iemand anders as meesteres in die huis sien nie. Dis ’n onbillike houding, want Wouter kan tog nie vir altyd ongetroud bly nie. Die een of ander tyd moet hy vir hom ’n vrou huis toe bring, ’n lewensmaat wat hom kan bystaan en sy lewe kan deel . . .
“Waarom is jy skielik so stil, kleinding?” dring Wouter se stem ineens tot haar deur.
“Ek dink sommer aan die ellendige tarentale wat my vandag so hard laat val het,” jok sy gladweg.
“Toemaar, ek sal jou môre leer skiet,” troos hy en gee haar arm ’n bemoedigende drukkie. “Daarna kan jy met die tarentale gaan afreken – veral daardie spul wat jou vandag laat val het.”
“Wouter,” vra sy na ’n rukkie, “hierdie muur hier langs my . . .is dit die kerkhof se muur?”
Hy antwoord bevestigend, en dan vervolg sy half teleurgesteld: “Maar ek sien dan geen spook of iets wat naastenby soos ’n spook lyk nie.”
“Wel, jy het self vanaand gesê dat daar nie so ’n ding soos ’n spook bestaan nie. Wat het jy verwag om te sien?”
“Miskien iets wat mense vir ’n spook aansien – ’n lang, wit grafsteen of ’n ding. Maar hier is regtig niks nie, buiten natuurlik ’n mens se eie skaduwee. Ek sal môreaand alleen saam met Katrien loop en haar wys dat hier niks is om voor bang te wees nie.”
“Nee, dit laat ek volstrek nie toe nie,” keer hy haastig. “ ’n Kwaaddoener kan jou maklik hier voorlê. Laat staan vir Katrien, my hartjie. As sy wil bang wees, laat haar bang wees. Jy gaan nie alleen in die donker rondloop nie.”
5
In haar bed lê Lecia aan baie dinge en dink. Sy herleef die dag se gebeure en dink aan die brief wat sy vir tant Emma wil skryf in verband met haar skilderye. Daar is ’n nuwe mat en gordyne vir die sitkamer nodig, meen sy, maar as sy net ’n jaar op Blouberg gaan woon, sal dit beter wees om enige veranderinge in die huis liewer aan Wouter se toekomstige vrou oor te laat. Dit is immers ’n bruid se voorreg om haar nuwe tuiste volgens haar eie smaak in te rig.
Baie gedagtes maal deur haar verstand, maar so onder al die gedagtes deur raak sy eindelik aan die slaap.
Lecia word die volgende oggend voor sonop wakker. Met slaapbenewelde oë lê sy deur die venster en kyk. Toe tref dit haar meteens dat sy vandag gaan leer om met ’n geweer te skiet, en die volgende oomblik vonkel haar groen oë lewendig van opgewondenheid.
Vandag is dit ek en die tarentale, dink sy ingenome, en op hierdie oomblik kom Katrien die kamer binne met ’n koppie koffie en ’n bakkie beskuit.
Lecia beantwoord die huishulp se vriendelike môregroet, neem die koffie en vervolg: “Jy kan die beskuit maar terugneem, Katrien. Ek gaan nie toelaat dat julle my vet voer nie. Jy moet meneer Wouter gaan wakker maak. Hy moet my vandag leer skiet.”
“Die kleinmeneer het lankal opgestaan, juffrou. Hy het gesê ek moet die juffrou uitskud uit die kooi. Die boermense slaap nie totdat die son hulle uitjaag nie,” probeer sy Wouter se boodskap oordra.
“Gaan sê jy vir jou kleinmeneer hy moet na sy peetjie gaan.”
Daar kom ’n snaakse trek op Katrien se gesig, so asof sy wil huil, maar dan merk Lecia dat sy dik van die lag is.
’n Rukkie nadat Katrien die vertrek verlaat het, wip sy uit die bed. Sy trek haar kamerjas en pantoffels aan, neem haar toiletsakkie en draf haastig badkamer toe. As Wouter dink dat die son haar in die bed gaan kry, vergis hy hom terdeë. Sy sal hom wys dat sy buite is voordat die son sy kop in die ooste uitsteek.
Die badkamer se deur staan op ’n skrefie oop en sy storm die vertrek met ’n vaart binne. Die volgende oomblik loop sy haar trompop teen ’n groot gestalte vas.
Sy voel hoe ’n hand uitskiet en keer dat sy op haar rug beland. Toe hoor sy Wouter met onmiskenbare spot in sy stem sê: “Hiert, jou rooihaar-tierboskat! Wil jy my nou uit die grond uit loop?”
Sy vee die hare uit haar oë en kyk vererg op, reg in ’n skuimbedekte gesig waaruit twee diepblou oë haar ondeund toelag.
“Is jy besimpeld, of wat?” roep sy onthuts uit. “Kan jy nie die badkamerdeur sluit wanneer jy hier binne besig is nie? En noudat ek daaraan dink, wat de drommel maak jy nog hier in die badkamer? Katrien sê jy het lankal opgestaan, dus kon jy lankal gebad en geskeer het.”
“O, ek het lankal gebad,” verseker hy haar goedig. “Jy het nog gelê en snork toe ek gebad en my aangetrek het.”
“Jy is van jou wysie af! Ek snork glad nie,” werp sy vererg terug. “Skeer liewer en kry klaar sodat ek ook die badkamer kan gebruik. Ek weet nie watse soort mens jy is nie. My pappie het altyd eers geskeer en dan gebad.”
“A, maar ek is nie jou pappie nie, my hartjie, ek is ’n ander ou,” verseker hy haar met ’n ondeunde trek in sy oë terwyl hy die skeerskuim van sy gesig afwas. “Kom,” sê hy toe sy gesig eindelik skoon is van skeerskuim, “ek sal jou ’n badkamer gaan wys wat jy as jou eiendom