Wanneer God jou vashou. Johan Smit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Wanneer God jou vashou - Johan Smit

Скачать книгу

’n reuse-uitdaging. Ons kan tog so oorhaastig raak en verkeerde konings salf …

      Wag, en luister … totdat jy weet die Here het gepraat.

      13 Januarie

      Die verkeerde offer

      Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.” 1 Samuel 15:22–23a

      ~

      Partykeer raak ’n uitdaging net té groot vir ’n mens om te hanteer. Of liewer: soms raak die mens net te groot vir die uitdagings. Soos wat dit die geval was met koning Saul. Eintlik was dit nie die uitdagings wat te groot geraak het nie, maar die oorwinnings. Alles het net te vinnig gebeur. Die jongman wat sy pa se verlore donkies gaan soek, kom terug by die huis as ’n gesalfde koning! Israel se eerste koning. En hy doen goed. Die mense hou van hom. Hy wen sy eerste belangrike veldslae. Hy word ondersteun deur Samuel, die man van God. God is aan sy kant.

      Maar dis net toe dat dinge begin skeefloop. Saul se kop raak te groot. Hy weet nie hoe om sukses te hanteer nie. Wat die Here sê is nie meer heeltemal so belangrik nie. Hy doen sy eie ding. Hy is immers die koning. Toe die Here sê die vyand moet met die ban getref word, hou Saul van die beste vee uit. ’n Mens kan darem nie sulke goeie goed laat verlore gaan nie. Toe Samuel hom voor stok kry, vertel hy ’n leuen, sê dat hy dit eintlik as offerdiere uitgehou het. En so beland Saul in die een na die ander petalje wat sy verhouding met die Here in die wiele ry. Totdat die Here hom as koning verwerp. Want die Here vra gehoorsaamheid, of jy nou ’n gewone voetsoldaat of ’n koning is.

      Die Here vra gehoorsaamheid, wie jy ook al is.

      14 Januarie

      In die Naam van die Here!

      Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.” 1 Samuel 17:45

      ~

      Dawid se ontmoeting met die reus Goliat bly maar ’n klassieke weergawe van hoe ’n mens ’n grootse uitdaging tegemoet moet gaan. Die storie vertel alles: Die jong seun beland as ’n kosaandraer op die slag­veld. Waarskynlik baie opgewonde. Sy broers is deel van die volksleër. Maar in die Israeliete se kamp loop die spanning hoog. Die moraal is laag. Hulle vrees die ergste. Toe hoor die jong Dawid die dawerende lawaai vanaf die vyandelike linies. ’n Reus van ’n man is besig om die Israeliete te tart en uit te daag.

      Dawid maak nie somme nie. Hy bereken nie getalle en wapentuig en kundigheid nie. Hy is net uiters verontwaardig dat iemand dit durf waag om die Naam van sy God te belaster. Die uitdaging is nou om die groot meneer aan te durf. Maar wie is hy? ’n Jong seun met ’n slingervel? Die soldate neem hom na koning Saul. Die koning moet maar die mannetjie uitsorteer. Hy soek sy dood. Koning Saul bewonder sy moed en bied vir hom ’n harnas en wapens aan. Maar Dawid besluit om in die krag van die Here met ’n slingervel en klippies die stryd aan te pak.

      Die res van die verhaal is oorbekend. Dawid verslaan vir Goliat. Die vyand slaan op die vlug. En die resep vir hantering van ’n uitdaging? Om dit in die Naam van die Here en tot eer van die Here aan te pak.

      Pak jou uitdagings in die Naam van die Here aan, ter wille van die Here.

      15 Januarie

      Dawid op rus

      Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom ’n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here. 2 Samuel 11:27

      ~

      Koning Dawid het ’n aantal belangrike uitdagings die hoof gebied tydens sy termyn as koning. En hy was meesal suksesvol. Die geheim was dat hy volkome op die Here vertrou het en voortdurend sy raad gesoek het. Maar miskien het die sukses ook in Dawid se geval sy tol geëis. Op ’n keer toe sy leërs teen die noordelike vyand opgetrek het, het die koning by die huis gebly. Dit was heeltemal teen verwagtinge in. Hy was immers die koning wat gewoonlik die voortou in die geveg geneem het. Maar die koning het nie hierdie keer die uitdaging aanvaar om sy leërs aan te voer nie. Dit was lente. ’n Mooi tyd van die jaar om rustig in die paleis deur te bring.

      En toe kom die rustende koning voor ’n ander uitdaging te staan, naamlik om die versoeking te weerstaan. Hierdie keer was dit nie Goliat wat hom uit­gedaag het nie, maar sy eie wellus. En met die toegee aan die versoeking het hy homself in ’n glybaan van sonde bevind. Uiteindelik nie net ’n wellustige koning nie, maar ’n egbreuker en moordenaar.

      Die keerpunt het gekom toe die profeet Natan hom as die skuldige uitge­wys het. “Jy is die man!” En so het die held geval … Maar dit sal onbillik wees om hierdie verhaal as ’n historiese gebeurtenis af te sluit sonder om Psalm 51 te lees. Daar ontdek ons hoe Dawid hom weer tot die Here gekeer het, met be­rou en nuwe toewyding.

      Met die toegee aan versoekings bevind ’n mens jouself op die glybaan van sonde.

      16 Januarie

      Salomo kies reg … en verkeerd

      Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, ’n groot volk, te veel om te tel. Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer! 1 Konings 3:7–9

      ~

      Salomo word koning in sy pa se plek. Watter reus se skoene om vol te staan! Watter geweldige uitdaging. Toe Salomo sommer vroeg in sy amps­termyn by Gibeon gaan offer, het die Here aan hom verskyn en gevra wat hy begeer. Die God aan wie hemel en aarde behoort, gee vir Salomo kans om sy hartsbegeertes te vervul. Wat gaan hy vra? Wat sou jy gevra het? Ons ken teen die tyd reeds die antwoord. Salomo erken dat hy jonk en onervare is en wysheid nodig het om God se volk te regeer. Hy vra nie geld en aansien en oorwinnings nie, maar insig en om God se wil te gehoorsaam. En die gevolge? Hy het een van die roemrykste ryke opgebou deur die regte besluite te neem en die wet van God te gehoorsaam. God het hom ook met rykdom en eer geseën.

      En tog het Salomo se verhaal nie ’n goeie einde gehad nie. Daar was die een opsig waarin hy nie met die nodige insig opgetree het nie. Vroue was sy ondergang. Hy het nie alleen talle heidense vroue in sy harem opgeneem nie, maar selfs hulle afgode begin aanbid.

      Dit is belangrik dat elke gelowige wat aan God gehoorsaam wil lewe sal se­ker maak wat sy of haar Achilleshiel is. Dis juis daar waar jy met die grootste versigtigheid die regte keuses moet uitoefen.

      Een slegte keuse kan ’n goeie lewe verwoes.

      17 Januarie

      ’n Seun wat reg kies

      Toe het die koning op sy plek gaan staan en ’n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos

Скачать книгу