Wanneer God jou vashou. Johan Smit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Wanneer God jou vashou - Johan Smit

Скачать книгу

Januarie

      Op pad na Damaskus

      Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”

      “Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg.” Handelinge 9:3–5

      ~

      Paulus het van uitdagings gehou. Hy was ’n dinamiese jongman wat sy oortuigings met geesdrif uitgeleef het, maak nie saak hoe sterk die teen­stand ook al was nie. As ywerige verteenwoordiger van die Joodse ge­loof het hy hom hart en siel beywer vir die totale uitwissing van die nuwe sekte wat in die sogenaamde Jesus geglo het. Dit was dan ook die rede waarom hy die tog na Damaskus aangepak het om die klomp Jesus-volgelinge daar gevange te neem.

      En op pad na Damaskus word hy toe onverwags in sy spore gestuit. Presies wat daar gebeur het, kon hy later maar net broksgewyse probeer deurgee: ’n skerp lig, ’n stem, ’n openbaring, blindheid … Maar al wat eintlik saak maak, is dat hy helder en duidelik geweet het dat dié Jesus wat hy besig was om te vervolg aan hom verskyn het.

      Ons praat vandag nog van ’n Damaskus-ervaring wanneer ’n mens op ’n radi­kale en onverwagte manier ’n ommekeer van oortuiging en gedrag ondergaan. Jesus het vir Paulus ’n nuwe roete vir sy lewe uitgewerk. In plaas van vervolger word Paulus medewerker en voorvegter. Miskien het baie van ons ’n Damaskus-ervaring nodig om uit ’n vervelige, geykte en lustelose bestaans­wyse met nuwe geesdrif en oortuiging toegewyde dissipelskap aan te durf.

      ’n Damaskus-ervaring ruk jou tot stilstand sodat jy ’n nuwe koers kan inslaan – God se koers vir jou lewe.

      31 Januarie

      Hallelujas in die tronk

      Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar ’n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. Handelinge 16:25–26

      ~

      Hoe reageer jy op teenspoed? Raak jy moedeloos, kwaad, iesegrimmig, terneergedruk? Onttrek jy jouself en verknies jou dikmond oor jou leed? Bekla jy die onregverdigheid van die lewe en die feit dat jy aan die kortste ent moet trek? Dink goed na oor hoe jy die vorige kere op negatiewe omstandighede gereageer het. En luister net weer ’n keer hoe Paulus dit hanteer het.

      Paulus was die ywerige agtervolger wat al sy energie ingespan het om weerlose mense agter die tralies te kry. Ná sy bekering raak hy toe die vervolgde en word hy telkens die teiken van hartelose vervolgers. Soos die keer in Filippi toe hy ’n bose gees uit ’n lastige waarsegster gedryf het. Ongelukkig vir hom het dié daad daartoe gelei dat die vrou se baas sonder inkomste gesit het. Die stad se mense het teen hom en Silas in opstand gekom, hulle gevange geneem, ge­slaan en in die tronk gegooi. Dinge het sleg gelyk. Met hulle voete in die houtblok vasgeklem, met lywe stukkend geslaan het hulle gesit en wag op die vol­gende dag se verhoor en vonnis.

      Hoe reageer ’n mens op sulke neerdrukkende omstandighede? Kan jy dit dalk as ’n uitdaging sien om jou ware karakter te bewys? Vir Paulus en Silas raak dit ’n geleentheid om te getuig. Hulle God is groter as omstandighede! Hulle sing lofliedere tot eer van God.

      Sjoe! Sal ons probeer?

      In neerdrukkende omstandighede kom jou ware karakter aan die lig.

      Februarie

      Die Here is my herder

      Psalm 23 is seker een van die heel bekendste Bybelgedeeltes. Hoeveel preke het ons nie al daaroor gehoor nie. Hoeveel keer het ons nie in ons stiltetyd ons toevlug tot die teksgedeelte geneem nie. “Die Here is my herder” is woorde wat geborgenheid, versorging en vertroosting spel. Maar dit is ook meer as net ’n trooslied. Dit is in die eerste plek ’n ge­loofsbelydenis. Om die Here as herder te ken, moet jy bereid wees om God se skaap te wees – getroue en gehoorsame volgeling.

      Ons gaan hierdie maand die pad saam met ons Herder aanpak. Ons gaan verder as Psalm 23 loop en vasstel hoe die verhouding tussen Israel en hulle herder verloop het. En dan gaan ons luister na die stem van die Groot Herder wat sy lewe vir sy skape afgelê het.

      1 Februarie

      Die Here is my herder

      Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Psalm 23:1

      ~

      “Die Here is my herder” – sekerlik van die heel bekendste woorde in die Bybel. En dit is goed te verstane. Dit pas volkome by die beeld wat die mens vir hom graag van sy God voorstel. God moet vir ons soos ’n herder wees – ’n versorger en beskermer.

      Dit sal goed wees om aan die begin van die maand vir jouself rekenskap te gee van hoe jou “beeld” van God daar uitsien. Hoe dink jy oor God? Hoe wil jy hê moet God Homself aan jou bekendstel? Ek reken tog dat ons redelik vanselfsprekend graag positief oor God wil dink. God moet aan ons kant wees. Hy moet vir ons veiligheid, voorspoed en vrede waarborg. Hy moet vir ons die dinge gee wat ’n mens nie met geld kan koop nie, die dinge wat buite die bereik van jou kredietrekening lê. O ja, ons weet natuurlik ook van die ander beelde waarmee God in die Bybel aan ons voorgestel word. Daar is die min­der aangename voorstellings soos byvoorbeeld dié van ’n brullende leeu of van ’n verterende vuur. Ons stuur liewer daar verby. Ons soek die God wat sorg en omgee en beskerm. Soos ’n herder …

      Die Here is my herder. Dit is goed om so aan my God te dink. En daar is ook heeltemal niks mee verkeerd om só oor God te dink nie. Verlustig jou gerus in die wonderlike wete dat dit presies is hoe God Homself aan jou wil bekendstel. Maar wees dan ook gereed om te ontdek dat dié beeld ’n bepaalde verantwoordelikheid van jou gaan eis. Meer daaroor later …

      Hoe lyk jou voorstelling van jou God? Kan jy Hom as ’n herder voorstel?

      2 Februarie

      Niks sal my ontbreek nie

      Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Psalm 23:1

      ~

      Die algemene stelling dat die Here my herder is, is alreeds gerusstellend. Dit roep onmiddellik ’n beeld van sorgsaamheid en besker­ming op. God pas my op. En heel dikwels herinner ek Hom aan die feit dat Hy vir my ’n herder moet wees. Wanneer ek op reis gaan of ’n moeilike vergadering moet bywoon of sommer net onseker voel – dan soek ek die versekering dat God dáár is, vir my daar is.

      Nogtans weifel ons by aanhore van die res van die sin. Ek kom niks kort nie, of soos die ouer vertaling gesê het: Niks sal my ontbreek nie. Dit klink mooi. Maar dit klink nie heeltemal reg nie.

      Dink maar net hoeveel van God se kinders leef in haglike omstandighede. Hulle sterf selfs as gevolg van broodgebrek. Ander word weer as gevolg van hulle geloof vervolg en doodgemaak. Kan hulle regtig getuig dat niks hulle ontbreek nie?

      ’n Mens sal goed moet dink wat jy bedoel wanneer jy verklaar dat jy “niks” sal kortkom nie. Wat het die digter bedoel? Waaroor gaan dit vir ’n skaap?

Скачать книгу