Sonder Chocolate Charlie. Marga Jonker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sonder Chocolate Charlie - Marga Jonker страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Sonder Chocolate Charlie - Marga Jonker

Скачать книгу

      Sonder Chocolate Charlie

      Marga Jonker

      Tafelberg

      Vir Ilze Botha se vosperd, PhatJoe

      1

      Nagmerrie-joernaal

      Charlie se swart maanhare swiep deur Nell se gesig. Sy leun ver­der vooroor teen sy natgeswete nek. Die sjokoladebruin nekvel blink gitswart van die sweet; die reuk van salpeter slaan op in haar neus. Charlie galop teen die klipperige berghelling af. Vrees maak haar kortasem; haar hande klou bewend aan die teuels vas. Sy moet wegkom van die donker agter haar. Charlie beur met krag­­tige hale vorentoe. Die klipperige berghang is ongelyk. Sy druk haar bene styf teen die perd se maag, kap haar stewels se hakke in sy lieste. Charlie gehoorsaam sonder huiwering. Sy voel hoe die reun sy voorbene lig om oor die rots voor hulle te spring. Die volgende oomblik stort Charlie neer en sy val en val …

      Nell skrik natgesweet wakker. Haar ma, Anelda, sit langs haar. Huffel, haar groot Deense hond, spring met sy voorpote op teen die bed en druk sy neus teen haar been.

      “Dieselfde droom?” vra haar ma.

      “Ja, ek ry op Charlie, op en op teen Sneeuberg, ek draai om en begin bergaf … galop!”

      “Het Charlie nie vir iets geskrik nie?”

      “Nee, in my droom druk ek hom om so vinnig as moontlik te galop … bergaf.”

      “Nell, nog vandat jy begin perdry het, was jy ’n versigtige ruiter. Jy sou nie vir Charlie teen ’n gevaarlike berg­hang af laat galop het as daar nie ’n goeie rede was nie.”

      Nell sê niks, staar net verwese voor haar uit. Sy wonder waarom sy Charlie in haar droom met haar hakke aanpor om oor die stapel rotse te spring. Sou sy so iets doen? Hét sy dit gedoen?

      Freak! Perdemoordenaar! Jy het jou perd laat doodval teen ’n ge­vaarlike berghang af! skree die stem in haar binneste. Die skreestem wat soos ’n ontydige sirene in haar kop afgaan, wat haar treiter van die dag toe haar ma vir haar in die hospitaal vertel het dat Charlie dood is. Haar vel slaan hoendervleiskolletjies uit.

      Sy druk met haar hand teen haar slaap. Haar vingers vleg onder haar hare in en sy voel die riffels van die letsel onder haar vingerpunte.

      “Hier is jou dagboek.” Anelda gee die skryfboek met die slotjie vir Nell aan. “Dr. Coenie het gevra dat jy elke droom moet neerskryf.”

      “Ma, dit was ’n nagmerrie, nie ’n droom nie!”

      “Wel, ten minste kan jy iets daarvan onthou,” moedig Anelda haar aan. “Drome kan regtig help.”

      Nell sê niks. Sy wens haar ma wil nie so hard probeer om haar beter te laat voel nie. Sy wens hulle wil haar net uitlos, want dalk wíl sy nie weet presies wat daardie dag gebeur het nie.

      Teësinnig neem sy die dagboek en vroetel lusteloos met die pen wat aan ’n toutjie daaraan vas is. Haar ma stap saggies by die kamer uit.

      Huffel plof op die matjie langs haar bed neer met ’n vreeslike diep sug. Hy was nog nooit ’n baie vrolike hond nie, maar deesdae lyk dit vir Nell asof hy net frons en sug. Sy staar doelloos na die boek se skoon bladsye en krabbel met die pen oor die eerste blad: Nagmerrie-joernaal. En toe weer: Nagmerrie-joernaal. Oor en oor in verskillende skriftipes.

      Nagmerrie 1

      Ek jaag my perd teen die berg af en laat hom sy been breek. Ek laat my perd homself vrek val vrek vrek val val val …

      Freak! Perdemoordenaar! Niemand kan jou help nie, nie eens jou drome nie! gil die stem weer deur haar kop.

      2

      Oupa Sallie se kat in die sak

      Hein hang oor die klein kampie se heining. Sy arms rus op die boonste houtbalk se rand terwyl hy met sy voete op die onderste dwarsbalk staan. Hein is kort vir sy dertien jaar. Sy donker, steil hare is netjies geknip en ’n kroontjie in die middel van sy voorkop laat sy kuif regop staan.

      “Wow! Sy lyk soos ’n Barbie-ponie, perfek mooi.” Sy donkerbruin oë is lewendig en daar is ligbruin sproete oor sy neus en wange. Hy is opgewek, want dit is nie net Vrydag nie, die skool het ook vandag gesluit vir die Aprilvakansie.

      “Sy is nie blond nie; sy’s ’n PALOMINO.” Nell staan met haar elmboë gestut op die middelste balk. Haar ken rus op haar hande. Sy staar ook na die nuwe perd.

      “Sy lyk vir mý blond.” Hein skerts graag. “ ’n Blonde Barbie-perd-ponie,” soek hy skoor met Nell.

      “My pa sê julle oupa het ’n haas in die sak gekoop met dié merrie,” sê Andrew met sy swaar Engelse aksent. Sy lenige lyf hang gemaklik oor die boonste balk waar hy langs Nell staan. Sy blonde hare hang lank af in sy nek. Die Engelse seunskool in die Kaap waar hy vanjaar in graad 10 is, het beslis nie dieselfde streng reëls vir kort haarstyle as Laerskool Sneeuberg, waar Hein in graad 7 is nie.

      “Nie ’n haas nie, ’n kat,” help Nell hom reg. Sy lyk meer soos Hein se suster as sy niggie. Sy is wel langer as hy, maar sy het ook swartbruin hare wat in ’n kort styl geknip is. Haar oë vertoon donker teen haar blas vel en daar lê ook fyn sproetjies oor haar neus.

      “Het Oupa ’n haas saam met die perd gekoop?” vra Hein gemaak onskuldig.

      “Nee, nie ’n haas nie, jy hoor mos Nell sê dit is ’n kat; ’n kat saam met die perd,” help Andrew hom reg.

      “Nee, nie saam met die perd nie.” Nell is nie seker of Andrew altyd alles verstaan wanneer hulle vinnig in Afri­kaans praat nie. “Andrew, jou pa meen Oupa Sallie het ’n vrotterige perd gekoop,” probeer Nell weer orde in die gesprek bring.

      “Ek sien sy is vrot, ja. Kyk, sy is al geel van die vrot,” lag Andrew.

      “Nie geel nie, blond!” sê Hein.

      Nell gluur haar neef gevaarlik aan en haar oë blits ewe kwaai na Andrew se kant toe. Sy kom dikwels sekondes te laat agter as iemand haar terg.

      “Nou maar as julle nie wil weet wat Dok oor die palomino te sê het nie, sal ek dit maar vir Colette moet vertel,” sê Nell vies. “Sy gaan nou enige oomblik hier opdaag van Stellenbosch af.”

      Nell was ál een hier toe Oupa Sallie en Dok die ponie vanoggend kom aflaai het.

      “Oukei, sorry, Nell,” keer Hein. “Wat het Dok gesê?” Hein wil nie hê sy ouer suster moet die nuus voor hom hoor nie. Nie dat Colette regtig baie gepla is met wat hier by die Solitaire Perdestoetery gebeur nie, behalwe as dit dalk sou inmeng met haar sport of haar twee kampioen-sportperde. Solitaire’s Diana’s Duchess en Solitaire’s Red Ace is vir Colette die begin en die einde van die gebeure op die stoetplaas.

      “Ja, sorry, Princess,” maak Andrew ook verskoning. Nell hou daarvan as Andrew haar Princess noem. Met sy Engelse aksent rol die woord so mooi van sy tong af dat sy vir daardie oomblik voel sy ís ’n prinses. Een oom­blik tussen al die minute, sekondes en ure wat sy nié goed voel oor haarself nie.

      “Wel, Dok sê Oupa se winskopie – die kat in die sak – is ’n hansperd wat te oud is om geleer te word,” vertel Nell. Al drie kyk nou peinsend na die merrie. Dr. Tony Smith, oftewel Dok, is die plaaslike veearts. Hy is ook Andrew se pa.

      “Nou

Скачать книгу