Tryna du Toit-omnibus 8. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 8 - Tryna du Toit страница 15

Tryna du Toit-omnibus 8 - Tryna du Toit

Скачать книгу

om jou as my dogter te aanvaar. Ek wou jou wettig aanneem, vir jou my naam gee, alles wat ek ’n eie dogter kon gee. Jy wou nie tot die aanneming toestem nie, en nóg Mercia nóg ek kon jou oorreed om dit te doen. Ek besef vandag my benadering was heeltemal verkeerd. Jy was emosioneel ontwrig, ek moes jou tyd gegee het om aan my, aan die nuwe omstandighede gewoond te raak. Maar ek was nooit ’n geduldige mens nie en ek kon ook nie verdra om gedwarsboom te word nie, en so het ek toegelaat dat ’n situasie ontwikkel wat ons verhouding van die begin af vertroebel het. Jy was opstandig, jy het my gehaat, en die atmosfeer in die huis het so gespanne geraak dat ek later verplig was om jou koshuis toe te stuur. Ek weet jy het my kwalik geneem – ek hoop jy besef vandag dat daar vir my geen ander uitweg was nie.”

      Hy is ’n rukkie stil, dan sê hy: “Toe jy my huis so summier verlaat het nadat jy matriek gemaak het, was ek diep gekrenk en hartseer. Maar ek het terselfdertyd jou moed en koppige onafhanklikheid bewonder. Van almal was jy die enigste een wat dit gewaag het om teen my op te staan, jou lewe in te rig soos jy dit wou hê. Te laat het ek besef dat geld nie liefde of ka­meraadskap – of ’n dogter – kan koop nie; dat dit iets is wat jy moet verdien.”

      ’n Glimlaggie versag sy gesig: “Dit alles, my kind, is bedoel as ’n verskoning – om vir jou te sê ek is jammer – dat as ek terug kon gaan, ek anders sou opgetree het.”

      Ansie staan op en stap na die venster. Sy is diep ontsteld, maar ook ontroer deur die onverwagte bekentenis. Sy weet dit kan nie maklik wees vir ’n man met sy trotse, ingetoë natuur nie. Hoe lank voel hy al so? Waarom het hy nie eerder met haar gepraat nie?

      Na ’n rukkie draai sy na hom en sê bewoë: “Ek is bly oom Jacob het vandag met my gepraat. Dis al geruime tyd dat ek ook hartseer en ongelukkig is oor ons verhouding, dat ek besef hoe anders dit kon gewees het. Ek weet ek was ’n onmoontlike kind, en ek wil graag ook vanoggend vir oom sê: ek is jammer. Ek … ek wil nie verskonings maak nie, maar ek blameer ook my ouma en Mercia vir wat gebeur het.”

      “Ek weet. Jou ouma het my nooit vergewe omdat ek met Mercia getrou het nie. Sy het my nooit vertrou nie. Dit was nie net omdat ek soveel ouer as Mercia was nie; sy was bang vir my geld, bang vir wat dit aan Mercia en aan jou kon doen. En Mercia? Mercia het soos gewoonlik net aan haarself gedink. Sy het jou teen my opgemaak: om my te straf wanneer sy nie haar sin kon kry nie, om jou simpatie te behou. En natuurlik was jy altyd partydig vir Mercia, al het jy ook in jou hart geweet dat sy verkeerd was.”

      Dis die eerste keer dat hy so met haar praat, dink Ansie. In die ou dae sou sy hom ingevlieg het, geweier het om na hom te luister. Sy weet nou hy doen dit nie om Mercia te kritiseer of te verkleineer nie, of om simpatie te soek nie – wat Mercia betref, het hy lankal geen illusies meer nie. Dis maar net dooie hout wat hy wegkap in ’n eerlike poging om die pad tussen hulle oop te maak.

      As sy maar net in die jare wat verby is, kon droom dat hy haar ook nodig gehad het, net soos sy hom nodig gehad het!

      “Waarom het oom Jacob nie lankal met my gepraat nie?” vra sy.

      “Ek wou nie haastig wees nie. Dis maar die afgelope tyd dat ek voel dat daar ook van jou kant ’n bietjie toenadering is. Ek was ook baie besig op kantoor. Ons belange brei steeds uit en die probleme word meer, maar met my komende besoek aan Suid-Amerika het ek besef dat ek my familiesake in orde moet kry. Ek was toe verlede week by my prokureur om ’n nuwe testament op te stel. Ek het besluit om al my skilderye aan jou na te laat, Anna.”

      Ansie voel hoe haar hart ruk, maar weer hou hy sy hand gebiedend op. “Jy is die enigste een wat nog ooit belang gestel het in my skilderye en beeldhouwerk – wat kennis daarvan dra. Ek weet daar is van die werke wat jy liefhet, soos ek hulle al die jare liefgehad het. Soek uit wat jy wil hê, verkoop die res, skenk daarvan aan ’n museum, doen daarmee wat jy wil.”

      Ansie kyk na hom en die mooi bruin oë is blink van die trane.

      “Ek weet nie wat om te sê nie, oom Jacob,” sê sy uiteindelik bewoë.

      “Daar is niks om te sê nie. Ek wil maar net hê jy moet weet dat dit vir my ’n besondere vreugde gee om te weet dat hulle eendag na jou toe sal gaan. Maar kom sit, Anna, ek is nog nie klaar nie. Daar is nog Tommie.”

      “Wat van Tommie?” vra sy huiwerig toe sy weer sit.

      “Tommie het goeie moontlikhede. Die regte vrou kan hom help om hulle te verwesenlik, om rigting in die lewe te kry.”

      Ansie kyk reguit na hom.

      “Ek is nie daardie vrou nie, oom Jacob.”

      “Hoe weet jy?”

      “Ek het Tommie nie lief nie. Hoe kan ’n vrou ’n man help om homself te vind, hom inspireer, rigting en betekenis aan sy lewe gee as sy hom nie liefhet nie?”

      Jacob Lessing se gesig verhard.

      “Liefde het niks met die saak te doen nie. Jy hou van Tommie, julle kom goed oor die weg. Julle sal die gemeenskaplike belange hê van die besigheid en alles wat daarmee saamgaan. Daar sal kinders wees om groot te maak en op te voed. Don­kerpoort met sy stoetery, die perde waarvoor jy so lief is … meer as genoeg dinge om jou ’n vol en interessante lewe te besorg.”

      Die goue web, dink Ansie, en sy ril skielik asof daar ’n koue windjie oor haar waai. Sy het geweet sy sal eendag nog in daardie web ingetrek word.

      “Nee, oom Jacob, nee! So iets mag u nie van my vra nie!” sê sy ontsteld. Maar weer hou hy sy hand op om haar stil te maak.

      “Ek weet ek kan jou nie dwing nie – allermins vir jou. Die skilderye het ook niks met hierdie ander transaksie te doen nie. Ek verwag ook nie dat jy vandag al moet besluit nie. Al wat ek vra, is dat jy die saak goed moet oordink, dat jy nie aan ’n ander man verloof raak of enige beloftes maak voor jy weer met my gesels het nie.”

      “En as ek nee sê?” vra sy huiwerig.

      “Dan sal ek dit so aanvaar. Ek het in elk geval vir die res van die familie in my testament voorsiening gemaak.” Hy glimlag suur. “Seker nie volgens hulle verwagting nie, maar ruim genoeg om in hulle behoeftes te voorsien. ’n Gedeelte van my boedel gaan vir liefdadigheid, hospitale, skenkings aan universiteite vir beurse en navorsing … Die res kry jy en Tommie. As jy – julle – nie my voorstel aanvaar nie, gaan dit ook vir liefdadigheid.”

      Sy skud haar kop in stille verbasing, totaal oorbluf deur die onverwagte wending wat sake so skielik geneem het.

      “Het oom al met Tommie gepraat?”

      “Nee. Ek wou eers met jou praat.” Hy breek af, dis of hy skielik snak na sy asem. Vlugtig lê hy sy hand teen sy bors en stadiger, met inspanning vervolg hy: “Tommie – ek is seker Tommie sal geen beswaar opper nie. Hy het alles om te wen …”

      Ansie staan haastig op en gaan na oom Jacob toe. Sy gesig is grys, daar is ’n wit kring om sy mond en sy sien die sweet wat op sy voorkop pêrel.

      “Voel oom sleg?” vra sy besorg. “Kan ek help?”

      Hy skud net sy kop. Hy trek een van die lessenaarlaaie oop, haal ’n botteltjie met pille daaruit en skud een in sy hand uit. Ansie skink vir hom ’n glas water uit die kraffie op sy lessenaar en hy sluk die pil. ’n Paar oomblikke sit hy met sy kop op sy hand gestut, terwyl Ansie angstig wag, dan haal hy diep asem en sit weer regop.

      “’n Bietjie slegte spysvertering,” sê hy skor. “Ek kry dit meer dikwels die afgelope tyd. Gelukkig het ek die pille. Hulle

Скачать книгу