Ratels. Leon van Nierop

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ratels - Leon van Nierop страница 7

Ratels - Leon van Nierop

Скачать книгу

oor speel.

      Ek weet nie wat Vincent met my gaan maak nie. Maar ek ruik rook op sy asem en te veel Axe onder sy arms en jel wat sy hare laat regop staan asof dit met Pritt vasgegom is.

      Hy sleep my tot in een van die toilette en druk my kop in die bak. Ek weet nie of dit al met een van julle gebeur het nie, maar maak nie saak hoeveel Sanpic en Toilet Duck en whatever hulle gebruik om daai bak te sanitise nie. Dis gross.

      Ek onthou te laat om my asem op te hou en kry water in my mond en neus.

      “Sucker! Loser!” skreeu Vincent. Terwyl ek borrels blaas in die water, dink ek aan ’n PlayStation game wat ek eendag gespeel het waar iemand se kop in ’n moeras vol modder gedruk is. Ek het myself geskeur daaroor, want net so gross as wat dit was, so snaaks was dit. Maar nie wanneer dit met jou gebeur nie.

      Toe voel dit asof ek weer kan fokus. My bene is lank, en dis hier­die einste bene wat ek nou gebruik om Vincent se nerdskoppers onder hom uit te pluk. Hy vloek en val bo-oor my.

      Ek spring op en connect met die rand van die toiletbak. Nou is dit die regte setting vir ’n slasher movie, dink ek terwyl ek my oë knip teen die seer.

      Ek probeer asem kry. My neus is vol water wat tot in my keel loop. Dit gee my dadelik ’n moerse migraine waarvoor geen Panado sal help nie.

      Vincent het my nog nie genoeg gediss nie. Hy gee my ’n skuins klap, maar ek kry dit reg om weg te kom.

      “Rock off!” is al wat ek kan uitkry voor ek by die deur uitbars. Ek is nou heeltemal uitgefreak. Maar ek hol soos Bennie die atleet in ons skool as hy die wenstreep sien. Ek gly in water iewers, maar ek behou my balans. Toe laat ek ooplê tussen die bosse deur.

      Ou Paal het eendag gesê ons moet ’n sin maak met “ooplê”. Een van die ouens het dit verwar met opelyf. Niemand het ’n clue gehad wat dit is nie, maar toe skreeu iemand “diarree!” Toe flip dit klas uit. Ons het vir dae lank vir Magiel gesmile asof hy ’n soet samoesa is.

      Nou verstaan ek eers wat ooplê beteken. Want alles aan my vou oop soos engeltjies se vlerkies op ’n Moedersdagkaartjie. Ek dink skielik aan al die simpel horror movies wat ek al gesien het waar die girl laat ooplê tussen die bosse deur. Sy hardloop altyd in slo-mo asof sy gevang wil word, terwyl die hand-held kamera agter haar aansuiker. Dan skreeu die ouens in die fliek en hits die psycho met die byl aan. Gross!

      En nou het ek my eie version: The Ratels Chain Saw Massacre gemeng met Paranormal Activity 4. Maar hierdie dude verdwyn nie as jy “stop” op jou remote control druk nie.

      Ek val oor los klippe en loop my op ’n kol befoeterd teen ’n boom vas, maar ek hardloop! “Ek sal nie huil nie, ek sal nie flippenwil huil nie!” hyg ek soos ek altyd my Bybelversie loop en opsê het toe Ma my nog gedwing het om Sondagskool toe te gaan.

      Ek proe sout op my tong en ek weet nie of dit bloed of trane is nie.

      En soos Post-its op my computerskerm gly die woorde deur my kop: Zool. Bliksem. Terroris. Boelie. Suurgat. Boelie. Oeloe! Pui­sie­gevreet!

      Uiteindelik is ek so moeg ek kan nie meer hardloop nie. Ek gaan staan en loop dan soos ’n zombie tot by ’n hek. Duiwelsvallei, Schalk Krynauw staan op die hek. En onderaan die Krynauw iets wat lyk soos ’n prentjie van ’n ou scrapmotor. Maar ek het nie ’n saak daarmee nie. Ek wil net wegkom van Ratels af, want my kop raas en ek skiem hier kom groot marakkas.

      Ek strompel deur die hek en sien iewers voor my ’n huis. En langsaan iets soos ’n plakkerskamp met ’n karavaan en scrap een­kant.

      Ek kom tot stilstand en sit my hande op my knieë om my asem terug te kry. Toe waag ek dit eers om om te kyk. Maar Vincent ag­tervolg my nie. Ek dank elke plastic pienk flamink in my ma se tuin hy’s nie daar nie.

      Skielik bars daar nou vuurwerke los. Ek verstaan eers nie wat aan­gaan nie. Dis mos nie Guy Fawkes nie! Maar die volgende oom­blik besef ek iemand skiet op my.

      Die grond maak sulke ontploffinkies langs my, nes in daai koel fliek met Ryan Reynolds en Denzel Washington wat in die Kaap geskiet is. Ek dink dit is Safe House.

      Ek rewind alles wat pas met my gebeur het in my kop en swaai om. Ek spring nes ’n Michael Jackson impersonator wat die Moondance doen deur die hek. Toe eers hou die geskiet op.

      Ek begin huil. Geen flippen PlayStation game kom naby wat ek nou net deurgegaan het nie. En selfs ’n metrosexual soos ek kan net soveel vat.

      Dis wat die girls in die klas my noem. ’n Metrosexual omdat hul­le sê ek is tuis in my eie vel, ek voel nie bedreig deur die rugby jocks nie en ek weet presies wie ek is. Hier is geen ID-krisis nie. Ek weet nou nog nie of dit ’n belediging of ’n boost vir my ego is nie.

      “Wat de hel soek jy op my grond?” Die man klink of hy deur lemmetjiesdraad praat.

      Nou waag ek eers om hom uit te check. En daar staan ’n liederlike ouballie, ’n dinosaur met sulke grys hare en so ’n boepmaag en net so ’n frieken geweer in sy hande.

      “Niemand van Ratels mag hulle voete op my grond sit nie!” Hy loop tot by my. “Ek vra weer. Wat de hel soek jy hier?”

      Ek probeer praat. Ek probeer aan iets witty dink om te sê. Iets soos “Ek is so slim ek kan ’n iPad met my brein charge!” Maar die woorde wil nie kom nie.

      “Ek … ek het nie geweet ek …” ek sluk en vee die trane van my wange af, “. . . mag nie op jou grond wees nie.”

      Hy rig weer die geweer op my. Nou kyk. As jy dit in CSI sien, lyk dit koel. Ek het ’n pel wat altyd skreeu “Kadwaa!” of “Kill the motha!” as iemand ’n geweer lig om ’n gomgat te skiet op TV, maar as jy regtig in die loop van ’n geweer kyk, is dit nie so cool nie. Jy dink ook nie aan iets witty om te sê soos “Make my day, punk” of “Any last wishes, boyfriend?” nie. Jy staan net daar en hoop jy skyt nie in jou broek nie.

      “Die naam is Scrapjaart. Dis wat almal my hier noem, want ek versamel ou karre, dan verkoop ek hulle weer. Maar ek versamel ook rondlopers en verkwansel hulle vir scrap nadat ek hulle in ’n masjien saamgepers het. Jy moet weet, mannetjie, niemand, en ek bedoel niémand van Ratels mag hulle vuil voete op my grond sit nie. Kapiesj?”

      Daai kapiesj klink na iets uit ’n Martin Scorsese-movie. En ek dink: Scrapjaart lyk so dig, hy sal sy broek agterstevoor aantrek en dan twee blokke in die verkeerde rigting loop voor hy dit agter­kom.

      Ek sluk weer. Dis nou my geluk. Binne ’n halfuur nadat ek in die bosveld aangekom het, ontmoet ek ’n steroid-challenged dude wat te veel deodorant gebruik en ’n outoppie met meer grys hare as breins.

      Ek probeer glimlag, maar daai smile hou nie langer as ’n ka­meraflits op Britney Spears se gesig nie.

      Scrapjaart hou sy geweer op my gerig en ek sweer as hy nou die sneller trek, gaan hy ’n pad oopskiet deur my Bostik-kuifie. Dis wat my oom my kuif noem.

      Toe hy weer praat, klink hy nes Vincent. Sy stem is net ouer en harder. En heser. “Nou luister jy mooi vir my, Boetie-gaan-border-toe. Ratels gaan eendag myne wees. Ek het Stefan al ’n paar aanbie­dinge gemaak, want ek wil uitbrei, maar hy is te hardegat. Toe verbied ek hom en enigiemand van Ratels my grond. Maar weet net: Binnekort is Ratels myne, want julle is amper bankrot, seuna. En dan skop ek julle gatte verby die maan en terug van hierdie plaas af. Dra daardie boodskap aan die Rateliete oor.”

Скачать книгу