Op vlerke van die wind. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Op vlerke van die wind - Tryna du Toit страница 5

Op vlerke van die wind - Tryna du Toit Tryna du Toit-omnibus

Скачать книгу

hoop nie jy het seergekry nie,” sê hy hoflik terwyl hy haar nog vashou. Verbeel sy haar dit of is daar ’n ligte spotklank in sy stem? Dadelik vererg sy haar. Dink hy sy het met opset in sy arms geval?

      “Nee, dankie,” sê sy uitasem. Sonder om na hom te kyk, haar gesig rooi van verleentheid, stap sy haastig weg. Die rol van die skip laat haar amper weer haar ewewig verloor, maar sy is gelukkig by ’n ingang en glip haastig na binne.

      In die gang kry sy vir Hilda Bekker.

      “Waar was jy?” vra Hilda. “Ek het al oral na jou gesoek. Ek het gereël dat ons aan dieselfde tafel sit, maar ek twyfel of ek vanaand sal gaan eet. Te veel kreef en sjampanje vanmiddag!”

      Emma sien dat sy opvallend bleek is en knik simpatiek.

      “Dit was gaaf van jou,” sê sy. “Gaan lê nou ’n bietjie, miskien voel jy later beter.”

      “Ek sal sien. Moet in elk geval nie vir my wag nie.”

      Sy wil nog iets sê, maar draai skielik om en loop haastig weg.

      In die kajuit is alles rustig. Sandra lê in die boonste bed, toegemaak met ’n ligte wolkombers, haar gesig weg van die lig ge­draai. Die goudrooi hare val oor die kussing. Sy is blykbaar vas aan die slaap.

      Daar waai ’n koel briesie deur die patryspoort, maar die kajuit voel benoud vir Emma, en sy besluit om weer buitentoe te gaan.

      Lank staan sy alleen daar buite teen die reling van die skip. Die wind het koud geword. Kaapstad is nou net ’n gloed teen die aandhemel en die eerste sterre het reeds verskyn. Daar is min ander mense op dek; die meeste is binne, in hulle kajuite of in die sitkamers besig met ’n drankie.

      Sy is bly sy het reeds met Hilda en met Agnes en haar skoonsuster, Moira, kennis gemaak. Sy sal graag van die ander mense ook wil leer ken, maar vanaand gee sy nie om om alleen te wees nie. Die eerste aand op ’n skip is ’n besondere ervaring, met besondere gewaarwordinge wat jy nie sommer met enigeen kan deel nie. En sy het baie om oor na te dink.

      Uiteindelik moet sy tog ingaan. Sy voel gelukkig nie siek nie, net effens lighoofdig. Sy besef sy is honger en dink sy sal dit tog waag om iets te gaan eet.

      In die kajuit slaap Sandra nog vas, uitgeput na die opwin­ding van die afgelope dae. Emma trek ’n ander rok aan, kam haar hare en vind sonder moeite haar pad na die eetkamer.

      Die groot eetkamer is leeg, byna verlate. Net hier en daar sit mense. Dis nog vroeg, baie mense sal eers later kom en baie sal dit ook liewer nie vanaand in die eetkamer waag nie.

      Die hoofkelner kom haar tegemoet en groet vriendelik. Sy sê hom wie sy is, dat Hilda gereël het dat hulle saam aan tafel sit, en hy buig beleef. Hy neem haar na ’n tafel wat vir ses mense gedek is. Sy kyk onseker na hom, maar hy knik be­vestigend.

      “Dit is die regte tafel, juffrou Conradie.”

      Die tafel is uit die gedrang, by ’n patryspoort. Van waar sy sit, het sy ’n blik oor ’n groot deel van die eetkamer.

      Emma eet ’n stukkie vis en drink ’n halwe koppie swart kof­fie. Vir meer sien sy nie vanaand kans nie. Sy gaan weer op na die dek om vir oulaas na die see en die sterre te kyk. Maar die wind waai koud, die dek is verlate en sy vertoef nie lank buite nie. Dit was ’n lang, opwindende dag en sy sal ook maar nou gaan inkruip.

      Sy lees ’n rukkie en wil net die lig afskakel toe sy ’n kind half histeries hoor huil. Besorg wonder sy waar die ouers is; teen dié tyd het hulle tog lankal klaar geëet. In elk geval be­hoort hulle nie ’n kind die eerste aand, wanneer alles nog vreemd is, alleen te los nie. Sy wag ’n rukkie in die hoop dat die ouers sal opdaag of dat die kind self sal bedaar, maar die gehuil word harder. Onwillig staan sy op, trek haar kamerjas en pantoffels aan en gaan uit om ondersoek in te stel.

      Sy hoef nie ver te gaan nie. Net toe sy in die gang kom, gaan die deur van die kajuit skuins oor hare oop en daar staan, van alle mense, die vaal, onvriendelike kind wat haar die middag so afgejak het. Haar eerste impuls is om om te draai – sy wil pa sowel as dogter liewer sover moontlik vermy – maar die kind is so ontsteld en blykbaar was sy siek ook, dat sy besorg na haar toe gaan.

      Emma neem haar na die wasbak toe en was haar gesig met koue water. Sy druk die knoppie vir die kamerbediende, wat ná ’n rukkie daar aankom. In ’n oogwenk som sy die situasie op en gou is sy terug met ’n emmer en lap en begin skoonmaak.

      “Voel jy nou beter?” vra Emma na ’n rukkie. Die kind druk haar gesig teen Emma vas.

      “Moenie weggaan nie,” pleit sy terwyl sy Emma beangs vas­hou.

      “Jessie sal by jou bly totdat jou pa kom,” probeer Emma troos en wys na die kamerbediende. “Ek is sommer hier naby. Jessie kan my kom roep as julle my nodig het.”

      “Ek is jammer, juffrou, ek kan nie hier bly nie,” sê Jessie ver­skonend. “Mevrou Young, die dame hier langsaan – die een met die baba – is ook siek en ek moet haar help.”

      Wat nou? wonder Emma vies en ontsteld.

      “Kom lê,” sê sy ’n bietjie kortaf. “Ek is seker jy sal nou gou beter voel.”

      Sonder teëpraat klim die kind in die onderste bed – heel duidelik vir die pa bedoel – maar sy laat los nie Emma se hand nie. Emma is verplig om by haar te sit.

      “Moenie weggaan nie,” soebat die kind weer en die blou oë is groot en beangs.

      Emma kyk onseker na haar.

      “Wat is jou naam?” vra sy sagter.

      “Aletta,” fluister sy terwyl sy Emma se hand stywer vas­klem.

      Sy is ook maar net ’n kind, dink Emma. Vreemd en siek en bang en alleen. Waar sou haar ongevoelige pa wees?

      Haar gesig versag en versigtig stoot sy die witblonde hare van die mooi, hoë voorkop af.

      “Ek sal nie weggaan nie,” belowe sy sag.

      Aletta raak byna dadelik aan die slaap. Versigtig maak Emma haar hand los en stap na die patryspoort toe. Die kajuit ruik muf en benoud, die rol van die skip is erger en sy begin self ook naar voel. Sy het Aletta belowe sy sal nie weggaan nie, maar die kind slaap rustig. Sy sal nie eens weet sy is weg nie en haar pa sal seker nou enige oomblik terugkom. Wat sal hy dink as hy ’n vreemde vrou in haar nagklere in sy kajuit aantref?

      Haastig draai sy om, maar dis reeds te laat. In die deur staan Aletta se pa. Hy kyk haar verbaas aan, dan verhard sy gesig.

      “Wat ’n aangename verrassing,” sê hy koud.

      Sy wil praat, maar sy kan nie. Sy voel hoe die vloer onder haar oprys en naarheid in haar opwel. Blindelings storm sy deur toe. Die rol van die skip gooi haar teen die man en vir die tweede keer dié dag moet hy keer dat sy nie val nie. ’n Oomblik hou hy haar teen hom, tot die vloer weer gelyk is. Hy kyk na haar gesig, dan sê hy saaklik: “Kom, ek sal jou help. Waar is jou kajuit?”

      Hoofstuk 2

      Dis nog vroeg, voor sonop, toe Emma die volgende oggend wak­ker word. Sy lê stil, gewieg deur die ligte beweging van die skip. Wonderlik, dink sy. Die skip rol nie meer nie!

      Sy

Скачать книгу