Windspoor. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Windspoor - Helene de Kock страница 3

Windspoor - Helene de Kock Helene de Kock-omnibus

Скачать книгу

my beste klip,” het hy gesê toe hy haar vingers daaroor toevou. “My ma het dit vir my gegee toe ek en sy eenmaal langs die Tsitsikammakus gaan stap het.”

      Die klip het glad en koel in haar hand gelê en sy het dit nader aan haar gesig gebring om mooier te kon sien. En die oomblik gebruik om haar kop bymekaar te kry. Natuurlik het sy van die berggansveer geweet: Mits dese wil ek vir jou sê hoe diep my liefde vir jou lê … So lui dit. En of dit nou ’n veer of ’n klip is, die boodskap bly dieselfde. En sy het nie geweet hoe om dit te ontvang nie.

      “Dis baie mooi,” het sy oplaas uitgekry. “Maar …”

      “Daar is geen maar nie, Laura,” het hy pleitend en tog ferm gesê, en weer haar vingers oor die glansende klip gevou. Asof in akkoord het hulle dieper die donker tuin ingestap en op die bankie langs die swembad gaan sit en gesels.

      En later, in die holte van die nag, het sy in haar bed gelê en elke woord van die gesprek oordink. “Vertel my van Harvard,” het sy gesê. Deels omdat sy wou weet en deels omdat sy geen dieper erns wou hanteer nie. Nie op daardie oomblik nie.

      Ruben het dit aangevoel, want nie een maal weer het hy te intens geraak nie. En hy het vertel. Van die eerste maande se be­klemmende eensaamheid in sy woonstelletjie naby Harvard Square. Van daardie winter wat Massachusetts se blare vroeg laat val het en Cambridge in ’n bevrore ou plekkie verander het. Dit was ’n stryd om te studeer. En hy het nie gou vriende gemaak nie. Baie later het hy eendag roekeloos van koue en verlange by Brigham’s in Harvard Square ’n roomys met warm karamelsous gaan eet. Twee studente het vir hom gesit en lag. ’n Mens eet net só vinnig aan ’n roomys op ’n vrieskoue dag as jy emosionele troos nodig het, het hulle beweer. Ons sal vir jou nóg een koop, maar dan moet jy môreoggend saam met ons langs die Charles­rivier gaan draf.

      So het hy vir James Roland van Cape Cod leer ken en vir Hans van Leeuwen, ’n regstudent uit Leiden. Hulle het hom aan lugballonvaart bekend gestel. Eenmaal is hy saam met ’n studentegroep na Battle Creek in Michigan om ’n wêreldkampioenskapsbyeenkoms by te woon. En net daar het die ballongogga hulle só gebyt dat hulle ’n jaar later hul lisensies gekry het. En noudat hy terug is, wou hy so gou moontlik sy eie ballon koop. ’n Bekende koeldrankmaatskappy sou hom borg, want hy het toe reeds al aan hulle geskryf.

      Toe het sy skamper gevra: “Wat gaan jy doen noudat jy terug is?”

      “Werk,” het hy ferm gesê. “Daar is plek vir my in tant Karla se prokureursfirma.”

      Sy het geweet wie dit was. Karla Meyer was bekend as proku­reur én as een van die besgeklede vroue in die stad. ’n Gesogte alleenloper. Sy pa se suster, het hy verduidelik.

      En met elke woord wat hy gesê het, het sy ’n klein bietjie meer insig in Ruben Meyer gekry. Die gladde klip het warm geword in haar hand en sy het dit ál stywer vasgehou.

      Maar aan ontbyttafel die volgende oggend was daar Gustav se wit, geslote gesig. En sy het ongelukkig en skuldig bly wag dat hy moet praat. En die oomblik toe hy haar alleen kry, het hy vier­kantig voor haar kom staan.

      “Ruben was gisteraand laat by my. Jy weet natuurlik waarom.”

      Sy wou so gou moontlik onder sy oë uit, maar sy kon nie. Hy was gaaf en baie opreg en sy móés net eerlik wees. Ook ter wille van die heerlike, ongekompliseerde verhouding wat eers tussen hulle was. Buitendien het Ruben se “beste” klip snoesig-intiem onder haar kopkussing gelê.

      “Ja, ek weet waarom hy by jou was,” het sy swaar gesê. “En ek weet nie hoe om dit aan jou te verduidelik nie.”

      Sy mondhoeke het in ’n skrynerige glimlaggie vertrek.

      “Ek verstaan beter as wat jy dink, Laura. Want ’n mens raak lief vir Ruben. Byna teen wil en dank. Hy het daardie soort charisma. En daar sal seker weer ’n tyd kom dat ek nie meer vir hom kwaad sal wees nie. Dis net dat ek jou liefhet.”

      Sy het dae lank, weke lank sleg gevoel. Seergemaak deur Gus­tav se broeiende swyes en sy manier om skielik te verdwyn as Ruben kom kuier. Maar dit het tog wel verbygegaan.

      “Jy is baie ver weg,” praat Ruben skielik agter haar sodat sy opskrik en hom ’n oomblik lank stom aanstaar. Toe glimlag sy.

      “Ja, ek het gedink aan hoe dit alles begin het tussen ons.”

      Sy sien verbaas hoe ’n kramp van emosie op sy gesig kom en gaan. En hy trek haar vinnig tot teen sy bors.

      “Jy mag nóóit vergeet dat ek jou baie liefhet nie, Laura.”

      “Maar ek sal mos nooit nie!” sê sy ontstem, en skuif haar arms om sy lyf. Maar dis of sy woorde haar gedagtes laat stol. Later draai sy om om swygend oor die rand van die mandjie af te kyk en die wêreld soos ’n prenteboek onder haar te sien oopvou. Rooi­dakhuise op erwe, loodblink paaie wat reguit deur die vaalgroen bossieveld sny en klompe bome teen ruwe rantjies. En hulle vaar oor ’n groot dam wat roosblink in die oggendson lê met net ’n enkele bootjie wat yl kringe laat. Sy staar gefassineer na die ronde, swart skadu wat die ballon op die helder oppervlak maak, na die kaatsing van lig op die water en die kabbeling van die wind in die lang oewergrasse. En sy kry die onwerklike gevoel dat die wind besig is om hulle weg te voer na daardie ver, vreemde plek waarvandaan Ruben nooit wil terugkeer nie.

      Dit word ’n byna volmaakte vaart waartydens hulle stil en te­vrede bly hang in die stewige rietmandjie onder die flambojante geel ballon. Selfs die landing is vanmôre besonder glad en Ruben, knap loods wat hy is, slaag daarin om die mandjie met net ’n ligte stampie op ’n oop stuk veld neer te sit. Hulle vat skaars grond of die grondbemanning kom aangehardloop met Gustav heel voor, sy vaal kuif orent in die wind. Almal lag en praat tegelyk en Laura mik nog om oor die rand van die mandjie te klim, toe is Gustav by en tel haar met een soepel haal van sy arm uit.

      “Kom, laat ons opvou en bêre,” glimlag hy. “Ek’s dood van die honger.”

      Dit laat almal vlam vat en gou word die bopunt van die ballon heeltemal oopgemaak. Toe die omhulsel afgeblaas is, word dit opgevou en op die bakkie gebêre. Gustav loop haal ’n groot braai­pan en Douw bring die spek en eiers om sommer oor die vlam van die brander te braai. Seppi skink sjampanje en toe almal met ’n bord kos sit, stel Gustav ’n heildronk op die suksesvolle vaart in. Elke klein detail van die oggend se ervaring word oor en oor be­praat.

      Dis eers met die terugrit dat Laura daaraan dink dat Ruben besonder stil was tydens die jolige veldontbyt. Gustav ook. Ná hulle die heildronk gedrink het, het hy stug en stil bly eet. Net Douw en Seppi het soos altyd maar grappies gemaak. Sy loer agtertoe en glimlag effens. Hulle sit al klaar vas aan die slaap agter op die bakkie tussen die mandjie en die silinders. Sy kyk sydelings na Gustav waar sy vasgedruk tussen hom en Ruben sit. Hy bestuur fronsend, sy mond ’n dun, geslote lyn. Ruben sit met sy kop weggedraai om by die venster uit te kyk, en sy mag haar dit verbeel, maar daar is ’n stramheid in die skouer wat teen hare druk asof hy hewig gespanne is.

      Toe hulle voor tant Karla se imposante siersteenhuis stilhou waar Ruben loseer, bedank hy Gustav gedemp en vee skrams met sy lippe oor Laura se wang.

      “Tot vanaand,” sê hy net en wuif luiters vir die twee agter op toe hy uitklim. Gustav begin sag en onmelodieus fluit en toe hulle wegtrek, leun hy effens oor na Laura en sê: “Dis so ’n mooi dag. Gaan die bruid nie so ’n halfuurtjie saam met die strooijonker swem voordat daar gewerk word nie?”

      “Nee wat, dis net jy wat in ’n muwwe ou prokureurskantoor moet gaan werk en ek is buitendien so vaak dat ek sal sink.”

      Gustav

Скачать книгу