Windspoor. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Windspoor - Helene de Kock страница 4
“Ja-nee,” lag Douw luiters, “maar sy kop is nóú so vol ander dinge dat ons seker sal moet wag tot ná die wittebroodsvakansie.”
“Of tot die ergste verliefdheid oorgewaai het,” voeg Gustav lakoniek by. Maar toe hulle aanstap huis toe, hou Laura hom aan die arm terug.
“Wat het oor jou lewer geloop, Gustav?” vra sy ergerlik, maar hy wag tot Douw en Seppi by die agterdeur in is, voor hy driftig antwoord.
“Verwag jy dat ek met sewemylslaarse oor hierdie trouery moet loop? Ek is nie ’n klip nie, Laura!” Sy trek haar asem in om hom te antwoord, maar hy hou ’n hand op: “En dit sal nooit anders wees nie. Ek het jou liefgehad lánk voor Ruben.”
Daarmee druk hy by haar verby en loop weg oor die grasperk in die rigting van die swembad. En toe sy ontsteld die kombuis binnestap, is dit om ’n omgekrapte tant Welma aan te tref met Douw en Seppi wat haar grootoog sit en aanhoor by die kombuistafel.
“Wat is dit?” vra sy met die voorloop van skrik, en sak op ’n stoel langs die tafel neer.
Tant Welma se goed versorgde hand bewe toe sy vir haar ’n koppie koffie aangee. “Daar is verlede nag by die studeerkamer ingebreek. Die kluis is oopgemaak en daar is in laaie gekrap!”
“Wát? Is daar iets weg? Tante se pêrels?”
Die ouer vrou skud net haar kop, maar haar hand raak in ’n onwillekeurige gebaar aan haar hals wat vanmôre melkwit teen haar hennakleurige kapsel afsteek.
“Daar is gelukkig niks weg nie, Laura, maar ’n mens voel so aangetas.”
“Nee wat, vergeet dit nou, Welma,” sê prof. Helmer waar hy in die gangdeur kom staan het. “Niks is weg nie en nie een van ons is beseer nie. Buitendien, die polisie kon nie eens ’n vingerafdruk kry nie. Nee, dié dief het geweet wat hy doen.”
“Dis darem ’n vreemde soort dief wat inbreek sonder om te steel,” sê Seppi en gooi vir hom nog koffie in.
“En netnou kom die kalant terug,” sê Douw bekommerd. “Ons sal ander slotte moet laat insit as Pa reken hy het deur die stoepdeur ingekom.”
“Ja, hy het beslis ’n sleutel gehad. Of ’n loper. Ons sal ’n ander slot moet kry,” sê Karel Helmer en kom sit ook aan tafel. “Maar wie hy ook al was, iets het hom blykbaar hewig laat skrik. Dié dat hy alles net so gelos en laat spaander het.”
“Dalk het ou Jock vir hom geblaf,” sê Laura spottend, en die ander kan nie help om te lag nie.
“Foei tog,” sê Douw. “Elke keer dat my ou hond sy stert swaai, is ek dankbaar dat hy nog tekens van lewe toon. En ek weet nie eens watter jaar ek hom laas hoor blaf het nie.”
“Nou ja, pluis julle nou maar die inbraak uit,” sê Laura. “Ek gaan ’n bietjie rus, want netnou moet ek stad toe om my trourok te gaan aanpas. Ek het so gewig verloor dat hulle dit moes verstel.”
“Ja, kom ons praat liewer oor mooi dinge,” besluit tant Welma. “Van nou af tot Saterdag mag niemand weer die inbraak nóém nie!”
“Dis nou te sê as daar nie weer een plaasvind nie,” sê Seppi en Douw pomp hom onsag in die sy. Hy ken tant Welma, sy het bedoel wat sy gesê het. Van nou af moet die atmosfeer rosig wees. Sy glo onwrikbaar in gemoedelikheid onder alle omstandighede. Ek wil julle sien glimlag, is haar geliefkoosde gesegde, al vergeet sy dit soms self.
Toe Laura die middag terugry van die bruidsboetiek in die middestad, swaai haar gedagtes soos ’n pendule heen en weer tussen die verruklike vaart van die oggend en die inbraak tuis. Die dag het so sielsalig begin, dink sy wrang, maar die wêreld se wanklank het gou genoeg ingesluip. En dis waar wat tant Welma gesê het. ’n Mens voel bepaald aangetas noudat daar ’n inbraak was. Wat sou die dief gesoek het? En wat het hom laat skrik? Ook bly daar ’n kriewelgedagte in haar agterkop: Waarom was Ruben vanoggend by tye so beangs? Dit was asof hy hom om die dood nie kon oorgee aan ’n sorgelose samesyn met haar nie. En dit ’n paar dae voor hul troue …
Dis toe sy by ’n stopstraat naby die huis stilhou dat ’n donker motorfiets brullend uit ’n dwarsstraat peul en vlak voor haar motor tot stilstand kom. Sy sien net die sonlig op ’n blinkswart valhelm blits en ’n swart gehandskoende hand wat omhoog geswaai word. Die volgende oomblik versplinter die windskerm in duisende silwer skerfies …
“Maar het jy glad géén idee wie dit was nie?” wil Gustav vir die soveelste keer weet waar almal in die woonkamer bymekaar is. Laura skud net haar kop en Ruben kyk hom ietwat gesteurd aan.
“Sy hét mos nou al gesê alles het te vinnig gebeur.”
“Ag wat,” paai tant Welma, “daar is nie eens ’n skrapie aan haar nie. Ek begin dink die man wou haar nie beseer nie, dié dat hy haar as ’t ware tyd gegun het om plat te val. Daar is darem altyd sóveel om voor dankbaar te wees.”
“En om te vrees ook!” hou Gustav vol, sy oë somber op Laura wat styf teen Ruben op die bank sit. En dié keer beaam Douw en Seppi sy woorde luidkeels.
“Ja-nee, dis te erg,” brei Seppi uit. “’n Inbraak én ’n klipgooiery – als op een dag!”
Ruben kyk hom net stroef aan. Maar Gustav is nie klaar nie. Hy staan vinnig op, druk sy hande verwoed in sy broeksakke.
“So iets mag net nie weer gebeur nie!” sê hy driftig. “Sulke dinge versteur die goeie orde van ’n mens se lewe. Niemand het die reg om dit aan iemand anders te doen nie. Dis … dis ’n ingryping van alles wat bóós is!”
“Daar het jy iets,” sê Ruben met koele nadruk toe almal verskrik stilbly. “Want in die lewe gaan dit hoofsaaklik om die goeie orde. En wee hom wat dit versteur.”
“O, dis diep woorde,” sê tant Welma ingenome. “En dit uit die mond van ’n bruidegom.”
“Uit die mond van ’n prokureur,” sê Douw skerp, “want ’n bruidegom sou lankal van bekommernis beswyk het. Laura kon dóód gewees het, hoor!”
Prof. Helmer kug-kug en druk sy vingerpunte teen mekaar.
“Kyk,” sê hy bedaard, “ons moet nou nie dinge uit verband uit ruk nie. Hier was ’n inbraak en Laura is met ’n klip gegooi. Dis traumaties, maar niemand is teen trauma gevrywaar nie. Maar ons sal die lewe vir onsself onmoontlik maak as ons onsself as slagoffers begin sien. Kom ons gaan slaap nou en vergeet voorlopig van hierdie voorvalle, en konsentreer op Saterdag se troue wat tog sekerlik vreugdevol sal wees.”
“Hoor-hoor!” sê tant Welma geesdriftig, en bied dadelik aan om vir Laura warm melk in die bed te bring. Dit werk tog so kalmerend.
Maar in haar kamer lê Laura lank en rondrol. As sy haar oë toemaak, sien sy die blink visier van die valhelm, die swart hand hoog gelig teen die blou van die lug, en voel sy haarself skuins vooroor op die sitplek val ’n breukdeel voordat die klip teen die ruit bars. Sy bly wonder wie dit was. En waarom hy dit sou gedoen het? Wat sou hy op hierdie oomblik doen? wonder sy wild. Dalk sit hy iewers in ’n kroeg en lag.
Toe tant Welma eindelik met die warm melk opdaag, drink sy dit dankbaar, luister gedwee na haar soetlike maar goed bedoelde raad. Vergeet nou alles, kindjie. Dink