Wie met vuur speel. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wie met vuur speel - Deon Meyer страница 15

Автор:
Серия:
Издательство:
Wie met vuur speel - Deon Meyer

Скачать книгу

met kliënte.

      ’n Vlaag van skuldgevoelens spoel oor haar. Sy het die nag by Dirk deurgebring en nog boonop saam laat opgestaan en by ’n spoghotel in Kampsbaai gaan ontbyt eet. Geen wonder die arme Frikkie is vanoggend op die oorlogspad nie. Sy sal ongetwyfeld meer tyd in die winkel moet begin deurbring.

      As Ragel by haar kantoor instap, onthou sy ook die onsmaaklike gesprek wat sy met Mignon gehad het. Wat gaan deesdae aan met my? vra sy haarself. Sy skakel dadelik.

      “Ek is jammer oor gister.”

      “En met reg ook,” sê Mignon verontwaardig. “As dit is wat seks aan jou doen, moet jy ’n oujongnooi word.”

      Ragel lag lank. “Nee, dit was iets anders. Maar dit gaan nou beter.”

      “Is hy goed vir jou? Is dit iets wat hy gedoen het?”

      “Nee, man, Dirk Buchner is die wonderlikste mens wat ek nog ontmoet het.”

      “Sluit dit my ook in?”

      “Sonder enige twyfel.”

      “Nou wanneer kry ek die geleentheid om Meneer Wonderlik te ontmoet? Eers op die onthaal ná die troue?”

      “Haai wraggies, jy het nog nie eens vir Dirk ontmoet nie.”

      “Kom drink vanaand iets. E . . . wyn . . . koffie . . . Wat drink Meneer Perfek? Mineraalwater?”

      “Jy is mal. Hy drink rooiwyn, verkieslik Roodeberg of Kanonkop Cabernet Sauvignon, maar sal ook sy perfekte lippe aan ’n glasie whisky slaan – as dit suiwer Skots is. Vroegoggend drink hy vars gemaakte filterkoffie, verkieslik Jamaican Blue Mountain. Deur die dag verkies hy . . .”

      “Asseblief, asseblief! Die uitnodiging is net vir vanaand, nie vir ’n week nie.”

      Ragel lag weer. “Ek sal net met Dirk moet praat. Ek weet nie of hy al planne gemaak het nie.”

      “Nou bel hom gou, dan bel jy my terug.”

      Ragel besef met ’n skok dat sy nog nie Dirk se telefoonnommer by die werk of die huis gevra het nie. Hy het háár nog net gebel.

      “Hy . . . e . . . is nie nou beskikbaar nie. Maar ek sien hom vir middagete. Ek bel jou ná twee.”

      Wanneer sy die telefoon neersit, sien sy die kliënte by die deur uitgaan. Ragel besluit om die vrede met Frikkie ook te herstel. Sy stap by die kantoor uit. Frikkie se lessenaar is in ’n ander hoek van die winkel. Dit is pynlik netjies reggepak. Hy is besig om die verkope aan te teken.

      “Frikkie, ek weet ek was nie die afgelope tyd ’n baie betroubare kollega nie . . .”

      Hy kyk nie op van sy werk af nie. Sy stemtoon is neutraal. “Jy is die baas.”

      “En nie ’n baie goeie een nie. Luister, ek is jammer. Dit is net . . . Ek het vir baie maande niks anders as die winkel, vir jou en vir Mignon gehad nie. Jy weet daar was ander vriende, maar . . .”

      “Dit het niks met my te doen nie,” sê Frikkie ongemaklik. “Jy hoef nie te verduidelik nie.”

      “Ek weet, maar ek wíl graag. Want ek gaan Dirk nog lank sien – miskien nog báie lank. En hy het my lewe verander.” Ragel sien Frikkie kyk weer af sodra sy van Dirk praat. “Jy hou nie van hom nie, nè?”

      Frikkie bloos bloedrooi. “Dit maak niks saak nie.”

      “Jy sal van hom hou as jy hom beter leer ken. Hy is regtig . . . Niemand het nog ooit soveel vir my omgegee nie, soveel vir my gedoen nie. Hy . . .”

      Frikkie konsentreer sterk op die pen in sy hand wat hy om en om draai. Hy kyk steeds nie op nie. “Ek is bly as jy gelukkig is.”

      Ragel gee moed op. Sy weet Frikkie is ’n introvert wat moeilik sy emosies wys. “Ek sal regtig probeer om ’n beter kollega te wees. Wat is daar wat ons moet doen?”

      Nou is Frikkie weer op bekende terrein. Hy kyk verlig op. “Daar is ’n klomp tjeks wat jy moet teken, ons het nege navraagbriewe om te beantwoord . . .”

      Hy rits ’n hele lys take af. Ragel sleep ’n stoel nader en hulle begin werk. Toe sy later na haar kantoor terugstap, hoor sy Frikkie sit ’n nuwe CD op – Vivaldi se Vier Seisoene. Sy glimlag.

      7

      “Moet ons regtig gaan?” vra Dirk. Hulle sit op ’n bankie in die Tuine. Dirk het ’n mandjie by ’n restaurant laat pak – toebroodjies met ’n verskeidenheid vulsels: gerookte salm, dun skyfies Italiaanse salami, gekerfde koedoebiltong. Daar is ook baba-agurkie-en-tamatieslaai, vier soorte kaasblokkies en ’n bottel yskoue Grand Cru.

      “Mignon is my beste vriendin. En ek wil graag spog met jou.”

      Hy staar voor hom uit. Ragel het nie dié reaksie verwag nie. ’n Eekhoring kom nader geskarrel en snuif die lug nuuskierig. Ragel haal ’n agurkie uit die plastiekbakkie en bied dit vir die eekhoring aan.

      “Moenie die goed voer nie. Hulle is ’n plaag,” sê Dirk. Ragel skrik vir sy onverwagte uitbarsting.

      “Ek . . . ek is jammer.” Sy sit die agurkie terug in die bakkie. Die eekhoring kom nader.

      Dirk draai skielik na haar en neem haar hand. “Nee, ek is jammer. Dit was heeltemal onnodig.” Sy stem is sag.

      Ragel sê niks. Sy is nog verward. Dit is ’n deel van sy persoonlikheid waarvan sy nog min gesien het.

      Hy lê sy hand liggies teen haar wang, draai haar kop na hom. “Jammer. My probleem is dat ek bang is om aan jou vriende voorgestel te word.”

      “Jy? Bang?”

      “Ek is bang ek stel jou teleur. Sê nou maar hulle hou nie van my nie. As Mignon nie van my hou nie, sal jy my weer wil sien? Julle is al só lank vriende. Ek kan nie daarteen baklei nie. Verstaan jy?”

      Ragel kry hom skielik baie jammer. “Ek verstaan. Ek het net nooit besef nie. Jy is gewoonlik so selfversekerd.”

      “Daar skort niks met my selfvertroue nie. Maar jy weet hoe mense is. Jy en Mignon was gedurig bymekaar. En nou hou ek jou van haar af weg. Dit sal haar uit die staanspoor negatief maak.”

      Die eekhoring staan regop voor hulle. “Toe, gee hom die agurkie. Ek was net nukkerig.”

      Ragel glimlag en druk sy hand styf in hare. Sy gee ’n agurkie vir die diertjie. “Jy sal van Mignon hou en sy sal van jou hou. Jy sal sien.”

      Sy teken dié middag die makelaarsnota met ’n bewende hand.

      “Jy weet wat jy doen?” sê-vra Andy Cappriccio, by almal op die effektebeurs bekend as Andy Capp. Hy is ’n middeljarige Italianer, kort en bonkig, met ’n groot, ronde gesig onder ’n bleskop.

      “Ek weet wat ek doen, Andy. Die beurs is nou te dood.” Ragel begin die klompie sertifikate een vir een oorhandig, asof sy van elkeen afskeid wil neem.

      Andy gooi sy hande in die lug. “Mamma mia, jy behoort beter te weet. As hy afkom, moet hy opgaan.”

      “Ek

Скачать книгу