Klawerjas. Adam Small

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Klawerjas - Adam Small страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Klawerjas - Adam Small

Скачать книгу

      hier ter sprake. Amper almal rondom haar het sy

      met ’n slap riem gevang, want sy’t die Skrifte

      geken en tot haar voordeel gebuig om haar penarie

      te verklaar.

      Hierdie fantastiese storie het sy bedink en mense loop

      vertel: die Gees van God het haar oorval en sy sou

      ’n kind baar, die “Seun van God, Verlosser van die

      Mensdom”. Selfs Josef, ’n vroom en ouer man – hy was

      aan haar verloof – het die versinsel geglo, tot dié mate

      dat, op sý beurt, hy homself oorreed het ’n engel het

      hom besoek en hom gerusgestel.

      Die kind is gebore, heel gelukkig vir Maria, ’n seun,

      en sy’t hom grootgemaak met ’n verbete wil, gans besete,

      en by hom íngeprent hy is die Seun van God. Haar

      bitter lot: Sy het dit alles later sélf geglo. Die seun het

      sy gedrýf: twaalf, dertien jaar oud het hy reeds in die

      tempel met die ou ringkop-kenners van die Skrif

      geredekawel.

      Die nadraai van haar verdigsel, egter, het die seun

      en haar gevolg, ál die jare lank, tot by en verby sy dood

      aan die kruis deur die toedoen van die Joodse

      en Romeinse gespuis.

      In die proses, gewis,

      is seun en moeder verewig

      in die geskiedenis.

Liefde

      Wat is liefde?

      Rosalie maak sake vir my nie maklik nie.

      Sy vra my, met betekenisvol-laggende oë

      wat ek bedoel met “liefde” en wat “liefling”

      beteken. Sy vra my om te verduidelik

      en is nogal tevrede met my antwoord.

      Daar’s geen definisie soos in matesis nie,

      maar, by wyse van gelykenis, sê ek haar,

      ervaar ek die betekenis van hierdie woorde

      as dié van ’n onverklaarbare gedrongenheid:

      Ek onthou hoe ek jare gelede op ’n keer,

      laatmiddag tussen Robertson en Worcester

      op pad Kaap toe was en hoe, by Goree, die

      sakkende son skielik op my afgekom het,

      oorrompelend, en ek met die motor stil moes

      hou. Die lug was, minute lank, ’n vlammende

      oranjerooi wat my aan die keel gegryp

      en tot angstigheid gebring het. Eindelik,

      in ’n soort swymeling, het ek daaruit gekom

      en skugter verder gery.

      Soos daardie lug, so iets,

      is liefde.

      Dan weer, wanneer ek in die winter van die werk

      op pad was huis toe het die onweer in die

      Suid-Skiereiland vroegmiddag al somber gekom,

      met sluiers reën wat van vér af genader het met

      ’n dreuning van hael, en ’n mens moes onder

      die eerste brug oor die pad skuiling

      soek. En alles was gedronge – dis die enigste woord

      om die ervaring mee te beskryf. Jy was

      vasgedruk in ’n soort hulpeloosheid. ’n Ervaring

      soos van daardie intens uitgeblokkeerde lug,

      so iets, is liefde.

      Ondanks die angs in dit alles ingebou, bly ek

      jou liefhê. Die ontstellende vreugde is myne.

      Grand Canyon

      Een van die wonderlikste uitsigte, wáár ook,

      móét wees die enorme stuk gronderosie,

      die Grand Canyon in die woestynland

      van Amerika, eeue lank uitgekalwe deur die

      magtige Coloradorivier. Ek sal nie die nagte

      vergeet nie dat ek vroegaand daar op die

      befaamde “rim”, die rand van die Canyon,

      betowerd gesit en staar het oor die

      asemrowende skakerings van kleur soos wat

      die falende lig van die dag oor die hoë rotse

      gespeel het. Dis iets goddeliks – nóg ’n beeld

      van die betekenis van liefde.

      Soms het ek en my Amerikaanse reisgenoot

      saans ’n uur lank, voordat ons vir ete na ons

      verblyfplek daar naby terug is, net daar gesit

      en gekyk, in stilte.

      Graaff-Reinet

      Rosalie en ek

      was vir ’n geleentheid in Cradock

      en met die terugkeer Kaap toe

      het ons van ’n hoogte af Graaff-Reinet

      se Groot-Karoo gesien – die asembenemende

      skakerings van vaal, hier en daar

      ’n groenigheid en ’n stippel rooi van aalwee.

      Bowenal, die skriklike uitgestrektheid van

      alles. En ’n mens sien daarná, met nuwe oë,

Скачать книгу