Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. Herman Charles Bosman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - Herman Charles Bosman страница 1
DIE BESTE VERHALE EN HUMOR VAN HERMAN CHARLES BOSMAN
Sterlig op die veld
Die herken-blues
’n Keur deur
Craig Mackenzie en Stephen Gray
Vertaal deur Johann de Lange
HUMAN & ROUSSEAU
VOORWOORD
DIE DOEL MET HIERDIE KEUR is om die beste van Bosman se verhale bymekaar te bring – die treffendste, roerendste, onvergeetlikste. Hy het altesaam 170 stories geskryf – omtrent sestig Oom Schalk-stories en tagtig Voorkamerstories, met nog dertig ander stories wat geskryf is naas hierdie twee hoofreekse. Toe daar dus besluit moes word oor die beste verhale, was daar nooit enige vraag oor óf daar genoeg verhale sou wees nie; inteendeel, die moeilikste deel was om te besluit wat om uit te laat.
’n Opstel deur Bosman (geskryf laat in 1944) tydens ’n terugkeer na die Marico lei die reeks in, en dit verskaf die leser met die nodige agtergrondinligting om die stories wat volg te plaas. Dit is geen wonder dat die res van die keur deur oom Schalk Lourens-stories oorheers word nie – sestien in geheel, gerangskik volgens die volgorde van publikasie van 1930 tot 1951 (ook die duur van Bosman se skrywerslewe). Vier Voorkamerstories volg hierop, en die versameling eindig met vier verdere stories waarin Bosman ’n skrywer as verteller gebruik.
Uit hierdie naastenby chronologiese volgorde blyk dit dat Bosman se verhaal-oeuvre nie gekenmerk word deur ’n tentatiewe, ongelyke begin met geleidelike vordering tot toenemende gesofistikeerdheid en tegniese uitnemendheid nie. Alhoewel ons ’n mate van oorskrywery in byvoorbeeld “Die Rooinek” kan bespeur, is dit veilig om te sê dat Bosman uit die staanspoor sy stem gevind het (of, dalk akkurater, ’n vertellerstem in Oom Schalk gevind het). Onder sy vroegste fiksiepogings is “Makapan se grotte” (1930) en “Die Rooinek” (1931) – beide puik, sterk verhale met meevoerende verhaallyne.
Die soort “mondelinge” verhaal wat Bosman gekies het, het ’n lang en edele literêre afkoms wat strek van Boccaccio en Chaucer in die veertiende eeu tot Irving, Twain, Harte en ander Amerikaanse humorskrywers in meer onlangse tye. Suid-Afrika het self ’n tradisie van storievertelling wat teruggevoer kan word tot skrywers soos W. C. Scully, J. Percy FitzPatrick, Perceval Gibbon en Pauline Smith. Met Oom Schalk het Bosman hom onteenseglik aan die toppunt van hierdie storievertelstyl in Suid-Afrika geplaas.
Alhoewel hy sy lewe lank aangehou het om Oom Schalk-stories te skryf, het Bosman hom in sy latere jare gewend tot die meer tegnies uitdagende genre van die meerstemmige “gesprekstuk” soos verteenwoordig deur sy Voorkamer-reeks. Bosman het hierdie verhale geskryf in reeksgewyse vorm vir die Johannesburgse weeklikse nuusblad, The Forum. Die reeks het verskyn onder die opskrif “In die Voorkamer”, en is duidelik bedoel om te dien as ’n komiese kontrapunt vir die ernstiger “forum” van die politieke kommentaar en opiniestukke waaruit hierdie links-liberale weekblad hoofsaaklik bestaan het. Bosman se stamina was merkwaardig: Hy het al tagtig van die Voorkamerstories in die laaste agtien maande van sy lewe geskryf, sonder om een keer sy weeklikse sperdatum mis te loop.
Die verhale neem die vorm aan van gesprekke tussen die Marico-boere wat vergader in Jurie Steyn se voorkamer, wat ook as plaaslike poskantoor dien. Om die momentum en narratiewe stukrag in die gevolglike mêlée van kompeterende stemme vol te hou was veeleisender as om die “verhoogbestuur” van Oom Schalk te behartig, en Bosman het die uitdaging duidelik geniet. Alhoewel dit die beste is om dit in volgorde te lees, waar die ontvouing van die groter verhaal te voorskyn kom te midde van die besonderhede van elke individuele episode, kan sommige van die Voorkamerstories ook met groot vrug as onafhanklike entiteite gelees word. Ek het hier vier sulkes gekies.
Terwyl Oom Schalk gesitueer is in die vroeë dekades van die twintigste eeu (met herinneringe wat terugstrek tot so ver as die 1850’s), is die boere wat in Jurie Steyn se voorkamer bymekaarkom uit dieselfde tyd as die datum van publikasie van die verhale (dus die 1950’s), en hulle lewer inderdaad dikwels kommentaar op eietydse gebeure – die Koreaanse Oorlog, die eskalasie van die Koue Oorlog, en die ontwikkeling van moderne tegnologie. Die treffendste voorbeeld in hierdie opsig is “Geboortesertifikaat” wat, ten spyte van uiters snaakse oomblikke, sydelings maar snydend kommentaar lewer op die Parlement se aanneming van die berugte Wet op Bevolkingsregistrasie gedurende daardie tyd.
Die derde kategorie van Bosman se verhaal-oeuvre word verteenwoordig deur die laaste vier stories in hierdie keur. In hierdie verhale praat Bosman in sy eie stem as skrywer en bepeins grappenderwys en selfironiserend die kuns van storievertelling. Een van die aantrekkings-kragte van Bosman se skryfwerk is sy vaardigheid met die insmokkel van kunstige, gesofistikeerde kommentaar op die skryfproses self in die skynbaar ongekunstelde, eenvoudige vorm van die vuurherdverhaal. “Die affêre by Ysterspruit” en “’n Boere-Rip van Winkel” keer terug tot die bekende Bosman-onderwerp van die Boereoorlog, hierdie keer geïnkorporeer met waarnemings oor die wyse waarop hy as skrywer anekdote en volksgeskiedenis in roerende fiktiewe vertelling omskep.
“Die osriem” is nie so bekend soos die ander verhale wat hier ingesluit is nie. Dit kom as ’n verhaal voor binne die romanfragment “Louis Wassenaar” en was ongepubliseerd tot dit in Stephen Gray se versameling Bosman’s Johannesburg (1986) verskyn het. Bosman het teruggekeer tot die tema in “Die kleiput”, wat ook slegs postuum verskyn (in Unto Dust, Lionel Abrahams se 1963-uitgawe van Bosman se verhale). Ek het die oorspronklike weergawe hier ingesluit omdat ek dink dit verdien om beter bekend te wees vir die spannende vertelstruktuur en diep psigologiese ondersoek van verydelde begeerte.
Die keur eindig met die beroemde “’n Ou Transvaalse verhaal” (1948), ’n latere Bosman-verhaal wat, in die vermaaklike oorwegings van die bron van al sy stories (mondelinge oorlewerings), terugkeer tot die inleidende “Marico, ’n terugkeer”. Die storie herinner aan die ou plattelandse Suid-Afrikaanse lewe: Dit is in baie opsigte ’n distillasie van honderde jare van mondelinge kultuur, van stories wat mondelings die rondte doen van stamkraal na plaasstoep na dorpskroeg. Maar die wyse waarop dit met die boerse materiaal omgaan, is volkome modern, en dit staan op die keerpunt van die huidige era.
Hierdie laaste groep stories bring die metafiksionele neiging in die meeste van Bosman se werk na vore. Die besorgdheid oor hoe om ’n storie te vertel (sigbaar van so ver terug as 1935 met “Mafeking Road”), die intertekstuele verwysing na ander skrywers en die vermenging van modusse (diskursief, fiksioneel) illustreer alles Bosman se lewenslange fassinasie met die tegnieke van die vertelkuns.
“’n Ou Transvaalse verhaal” is ook interessant weens die veelbetekenende kwaliteit daarvan: teen 1948 was die ou Marico soos Bosman dit in 1925 geken het vinnig besig om te verdwyn, maar die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning, waarop die verbanning van politieke partye, die ontwikkeling van rassistiese wetgewing en die onderdrukking van vryheid van spraak sou volg, sou die basis van die humanistiese en romantiese siening van oom Schalk Lourens begin erodeer.
Die stories in hierdie versameling vertoon Bosman se temporele en tematiese reikwydte. Danksy Oom Schalk se ongelooflike geheue kon Bosman ironies besin oor die gebeure van ’n eeu van Suid-Afrika se geskiedenis. In die jare tussen die 1850’s (toe Oom Schalk die eerste keer op kommando was – sien “Makapan se grotte”) en die 1950’s (wanneer die latere generasie boere in Jurie Steyn se voorkamer vergader), het baie oorloë tussen Hollandse setlaars en Afrika-stamlede plaasgevind; is die twee Anglo-Boereoorloë geveg; het Suid-Afrika ’n Unie geword en aan die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem; en het die Depressie en die oorlog daarna ontstaan.
Bosman se stories neem hierdie hele greep geskiedenis in. Sy verdieping in sy agterveldse inkleding is dus slinks bedrieglik: Sy karakters is takhare, maar hul boerse wysheid en hul skepper se vermoë om hulle tydlose kwaliteite te gee, maak dat die stories wat hulle vertel vandag nog geldig is. Bosman