Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. Herman Charles Bosman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - Herman Charles Bosman страница 3
Ek onthou een kaffer wat ons gehad het, by name Nongaas. Hoe ons aan hom gekom het, het só gebeur: Dit was in die jaar van die groot droogte, toe daar niks gras was nie, en die water in die pan opgedroog het. Ons vee het soos vlieë gevrek. Dit was verskriklik. Elke dag het tien of twaalf of twintig gevrek. My pa besluit toe ons moet alles op die waens pak en na die Dwarsberg trek, waar hy gehoor het daar goeie reëns was. Ek was toe ses jaar oud, die jongste in die huis. Ek het meestal agter in die wa saam met my ma en my twee susters gesit. My broer Hendrik was sewentien, en hy’t my pa en die kaffers gehelp om die vee aan te jaag. Dis hoe ons getrek het. Nog baie van ons vee vrek tydens die trek, maar ná omtrent twee maande bereik ons die Laeveld en my pa sê God is goed vir ons. Want die gras is groen al met die Dwarsberg langs.
Een oggend kom ons af op ’n klompie kafferhutte, waar my pa twee sakke mielies vir ’n rol tabak ruil. Voor ’n hut staan ’n piekanien omtrent so oud soos ek, en hy kyk heeltyd vir ons en glimlag breed. Maar hy kyk veral na my broer Hendrik. En dis g’n wonder nie. Selfs in daardie dae was my broer al baie gesteld op sy voorkoms, en hy het altyd probeer om na die jongste mode aan te trek. Sondae het hy selfs kouse gedra. Nadat ons die mielies opgelaai het, sny my pa ’n stop boertabak af en gee dit vir die piekanien, wat nog breër glimlag, sodat ons elkeen van sy tande kan sien, wat baie wit is. Hy sit die pruimpie in sy mond en byt daarop. Ons bars almal uit van die lag. Die piekanien lyk nes ’n klein hondjie wat ’n stukkie vleis ingesluk het en sy kop eenkant toe draai om uit te vind hoe dit smaak.
Dit was in die oggend. Ons druk deur tot die middag, want my pa wil Tweekoppiesfontein bereik, waar ons ’n tyd lank met die vee wil oorstaan. Dit is laat in die middag toe ons daar aankom en begin uitspan. Net toe ek besig is om uit die wa te klouter, kyk ek om en sien iets vinnig agter ’n bos inspring. Omdat dit soos een of ander gedierte lyk, is ek maar lugtig, en vertel my broer Hendrik daarvan. Hy vat sy geweer en beweeg stadig in die rigting van die bos. Byna onmiddellik sien ons dis die piekanien wat ons daardie oggend voor die hut sien staan het. Hy moes omtrent tien myl agter ons waens aangeloop het. Hy is vuil en moeg, maar toe my broer na hom toe stap, glimlag hy weer van oor tot oor en lyk baie bly. Omdat ons nie weet wat om met hom te doen nie, sê Hendrik hy moet terug huis toe gaan en steek hom onder die klippe. Maar my pa is ’n barmhartige mens, en nadat hy na Nongaas se storie geluister het – want dit was die piekanien se naam – sê hy hy kan maar bly, mits hy hom goed gedra, en nie soos die ander kaffers lieg of steel nie. Nongaas vertel ons in die Setsjoeana-taal, wat my pa verstaan, dat sy pa en ma deur leeus doodgemaak is, en dat hy by sy oom bly, van wie hy nie hou nie, maar dat hy van my broer Hendrik hou en dit is waarom hy agter ons waens aangeloop het.
Nongaas bly baie jare by ons. Hy word saam met ons groot. Hy is ’n baie goeie kaffer en raak met verloop van tyd baie geheg aan ons. Maar hy aanbid my broer Hendrik. Namate hy ouer word, praat my pa soms met Nongaas oor sy siel en vertel hom van God. Maar hoewel hy vir my pa sê hy verstaan, kan ek sien dat, wanneer Nongaas aan God dink, hy eintlik aan Hendrik dink.
Net ná my een-en-twintigste verjaarsdag kry ons die nuus dat Hermanus Potgieter en sy hele familie deur ’n kafferstam onder leiding van Makapan uitgemoor is. Ons hoor ook dat, nadat hulle Hermanus vermoor het, die kaffers die vel van sy lyf gestroop en sakkies daarvan gemaak het om hulle dagga in te hou. Dit was ’n baie bose ding om te doen, veral omdat dagga jou mal maak en dit ’n sonde is om dit te rook. ’n Kommando is uit ons distrik opgeroep om die stam aan te val en te leer om respek te hê vir die wit man se wette – maar veral om meer respek te hê vir die wit man se vel. My ma en susters bak ’n groot klomp hardebeskuit, wat ons saam met mieliemeel en biltong inpak. Met die lood-gietvorm smelt ons koeëls. Die volgende oggend ry ek en my broer te perd na Makapan se kraal. Ons vat Nongaas saam om na die perde om te sien en vuur te maak. My pa bly agter. Hy sê hy is te oud om op kommando te gaan, tensy dit is om teen die Rooibaadjies te veg, as daar nog enige van hulle oor is.
Maar hy gee ons wel ’n stukkie goeie raad.
“Moenie vergeet om julle Bybels te lees nie, seuns,” roep hy agterna toe ons wegry. “Bid dat die Here julle sal help, en wanneer julle skiet, mik altyd vir die maag.” Hierdie opmerkings is kenmerkend van my pa se diep godsdienstige geaardheid. Hy weet natuurlik ook dis makliker om iemand in die maag as in die kop te tref en dis ewe doeltreffend, want geen mens kan lank leef nadat sy binnegoed flenters geskiet is nie.
Wel, ons ry toe verder, ek en my broer, met Nongaas ’n paar jaarts agter ons op die pakperd. Nou en dan sluit ons by ander burgers aan, baie van hulle met waens, tot ons drie dae later Makapan se kraal bereik, waar die groot kommando reeds kamp opgeslaan het. Ons kom in die aand daar aan, en so ver ons kan sien, brand daar vure in ’n groot kring. Daar is meer as tweehonderd waens, en die vure flikker rooi en geel op die tentseile. Ons meld aan by die veldkornet, wat ons ’n plek wys waar ons kan kamp opslaan, reg langs die vier Van Rensburg-broers. Nongaas het pas die vuur aangesteek en koffie gemaak toe een van die Van Rensburgs oorstap en ons na hulle wa oornooi. Hulle het ’n rietbok geskiet en is besig om stukkies daarvan oor die kole te braai.
Ons skud met almal blad en merk op dat dit die regte soort weer is vir mielies as die wurms hulle net nie opvreet nie, en dat dit hoog tyd is dat ons ’n ander president kry, en dat rietbok darem baie lekker smaak so oor die kole gebraai. Toe vertel hulle ons wat met die kaffers gebeur het. Makapan en sy volgelinge het die kommando’s van ver af sien aankom en, nadat hulle ’n paar skote afgevuur het, het almal by die grotte in die krans ingevlug. Hierdie grotte strek baie ver ondergronds, met baie kinkels en draaie. Aangesien die Boere nie die kaffers kon bestorm sonder om baie swaar verliese te ly nie, het die kommandant opdrag gegee dat hulle die rant moet omsingel en die kaffers in die grotte moet laat verhonger. Hulle was toe reeds ses dae binne die grotte, die hele stam, mans, vroue en kinders, en aangesien hulle nie meer baie kos kon oorhê nie en daar net ’n klein brakwaterdam was, was die Boere hoopvol dat hulle die meeste van die kaffers sou kon uitmoor sonder om ammunisie te mors.
Wanneer die wind van die grotte se kant af waai, was die stank reeds erg. Ons sou verder terug kamp opgeslaan het, as ons nie bang was die kaffers ontsnap tussen die vure deur nie.
Die volgende oggend sien ek die eerste keer hoekom ons nie die kaffers uit hulle lêplek sal kan verdryf nie, selfs al is ons kommando vierhonderd man sterk. Oral tussen die klippe en bosse sien ek donker openinge in die krans wat reguit na die diepste dele van die aarde lei. Hier en daar sien ons dooie liggame. Maar daar is ’n klomp kaffers wat steeds nie dood is nie en ons kan húlle nie sien nie. Maar hulle het gewere wat hulle van swartmarkhandelaars en sendelinge gekoop het, en hulle skiet op ons elke keer as ons binne trefafstand kom. En oor alles hang deurentyd die stank van ontbinding.
Die beleg sleep nog ’n week voort. Toe hoor ons dat ons leiers, Marthinus Wessels Pretorius en Paul Kruger, stry gekry het. Kruger wil die kaffers onmiddellik aanval en die saak afhandel, maar Pretorius sê dis te gevaarlik en hy wil nie nóg burgers verloor nie. Hy sê die hand van God lê reeds swaar op Makapan, en oor ’n paar weke sal die res van die kaffers almal van honger dood wees. Maar Paul Kruger sê dit sal selfs béter wees as die hand van God nóg swaarder op die kaffers lê. Uiteindelik kry Paul Kruger toestemming om met vyftig vrywilligers die grotte van een kant af te bestorm, terwyl kommandant Piet Potgieter met tweehonderd man van die ander kant af opruk om die kaffers se aandag af te lei. Kruger is baie gewild in ons geledere en feitlik almal wil by hom aansluit. Maar hy kies vyftig manskappe, onder wie die Van Rensburgs en my broer. Omdat ek nie wil agterbly en die kamp oppas nie, is ek verplig om by Piet Potgieter se kommando aan te sluit.
Al die voorbereidings word gedoen en die volgende oggend maak ons gereed om aan te val. My broer Hendrik is baie trots en bly hy is vir die gevaarliker deel van die aanslag gekies. Hy het sy geweer sorgvuldig geolie en sy velskoene blink gepoets.
Nongaas kom nader en ek kan sien hy lyk baie mismoedig.
“My baas,” sê hy vir