Engel van my hart. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Engel van my hart - Kristel Loots страница 4

Engel van my hart - Kristel Loots

Скачать книгу

hy laat dit vreeslik aanloklik klink,” gee sy toe. “Hy beplan glo binnekort ’n sabbatsjaar waarin hy van plan is om te reis en sy assistent gaan hom vergesel. Die doktertjie wil heeltyd met sy handjies gevou sit. Die ontvangsdame-cum-assistent-cum-slaaf waarna hy soek, moet al sy reis- en verblyfreëlings vir hom tref en saam met hom piekel waarheen hy ook al sy skrede wil wend.”

      Sy snork onvroulik. “Seker nog sy tasse ook vir hom dra. Hy wil net by die lughawe opdaag en in die vliegtuig klim, en aan die ander kant moet daar vir hom ’n sagte ou bedjie gereed staan sodat hy net kan inkruip en die slaap van ’n onskuldige kan slaap.”

      “Hy gaan nie net sit en niksdoen nie. Hy word gereeld vir praatjies genooi en gee ook lesings aan verskeie universiteite in die Verenigde Koninkryk. ”

      “Ek wonder waarheen hierdie reise van hom sal wees,” mymer Breggie. “Heel moontlik na verre, vreemde, afgeleë plekke waar dit jare laas gereën het en waar niemand dood gesien wil word nie.”

      Erik lag. “Jy is vasberade om negatief hieroor te wees, nè? Nou ja, jy kan die dokter uitvra oor hierdie verre, vreemde plekke waar niemand dood gesien wil word nie wanneer jy vandag met hom gesels.”

      Breggie gooi haar hande in die lug. “Wat het jy nóg alles aangevang? Hoekom sal ek vandag met die vermaarde dokter – met wie ek hoegenaamd niks te doen wil hê nie – moet gesels?”

      2

      Erik se verduideliking verstom Breggie van voor af. Sy blaai deur die drukstukke van die korrespondensie tussen hom en dokter Condor. Tot by die laaste e-pos waarin die dokter bevestig dat hy vandag sal bel vir ’n telefoononderhoud.

      Breggie stik in haar koffie. “Werklik, Erik, jy oorskry alle grense van wat toelaatbaar is onder die vaandel van goeie bedoelings! Wat moet ek vir die man sê? Ek het lus en antwoord eenvoudig nie die telefoon nie.”

      “Graham Condor stel belang in jou aansoek, Sus. Hy sal aanhou bel totdat jy antwoord.”

      “Hy verwag seker van my om sy boeke vir hom te doen, dalk nog te kook ook,” mymer sy nadenkend. “Hoekom anders sal hy ’n rekenmeester wil aanstel om sy administratiewe sake vir hom te reël? Enige bobbejaan wat ’n almanak kan lees en ’n telefoon kan beman, kan dit doen.” Sy frons bekommerd. “Dêmmit, Erik, jy weet ek kan nie by so iets betrokke raak nie!”

      Hy kry haar aan die skouers beet. “Haai! Hokaai, Breggie! Luister na jouself. Jy’s heeltemal oorstuur. Dalk is dokter Condor ’n doodgewone man wat bloot op soek is na iemand om hom in sy praktyk by te staan.”

      “Of dalk verwag hy gunsies en gawes van hierdie vroumens wat jy vir hom voorgehou het en wat moontlik in sy oë van twyfelagtige karakter is.”

      “Allesbehalwe,” verseker Erik haar. “Lees gerus wat in jou aansoekbrief staan. Jy’s ’n vrou van edele inbors, Sussie!”

      Breggie wil dood toe sy sien wat Erik alles onder haar naam kwytgeraak het. “As alles wat hier staan wáár moet wees, is ek ’n regte ou soetkoekie wat daarop floreer om goeie dade te doen. Vir die liefde van die saak omdat geld nie vir my belangrik is nie. ’n Leiersfiguur in die gemeenskap wat glimlaggies uitdeel asof dit stokkielekkers is.”

      Dit terwyl sy deesdae eerder grom as glimlag!

      “Erik, jou luis! Hoe op aarde gaan ek dit regkry om die beeld wat jy van my geskilder het vol te hou, selfs al is dit net oor die telefoon? Jy weet ek is nie so nie.”

      “Nee, nie meer nie, maar jy was op ’n stadium. Jy was nie altyd so ’n ou bitterbek nie. Daar was ’n tyd toe jy ’n sonstraaltjie was wat ons almal opgebeur het.”

      “Iemand wat in haar vrye tyd vrywillige verpleging doen? Wat jy waar kry? Ek sien hier ek het oumensies besoek, vir hulle blomme aangedra en hul hare versorg. Liewe hemel, jy’t my stralekrans omtrént gepoets. Geen wonder dit het die dokter verblind nie.”

      “Wel, daar wás die keer toe tant Sarie in die hospitaal was en jy by haar gaan kuier het ...”

      “Net omdat Ma my gevra het om te gaan. En ek het ook net daardie enkele keer haar hare vir haar gevleg.”

      “En haar kunstande geborsel.”

      “Ja, en my morsdood gegril daarvoor.”

      “Ek hét miskien ’n bietjie aangedik,” erken hy.

      “Aangedik? Ek sou eerder sê jy’t dik stukke gelieg! Hierdie dokter gaan van my verwag om sy pasiënte se glasoë blink te hou.”

      “Al wat ek wou doen, was om jou liefdevolle geaardheid te beklemtoon, Breg,” verdedig hy. “Iets wat jy blykbaar intussen heeltemal verloor het.”

      “Wel, ek het die lewe leer ken soos dit is. Verskoon my as ek sinies geraak het.”

      Sy wip soos sy skrik toe die telefoon lui. “Kan dit al hy wees?”

      Erik knik. “Gaan hoor ten minste net wat die man te sê het.”

      Breggie weet self nie waarom sy dit doen nie, miskien omdat alles te skielik op haar afgekom het. Miskien omdat sy vir die eerste keer in weke, nee, maande, aan iets anders gedink het as die vernedering en die ontnugtering van die afgelope tyd. Miskien omdat sy diep binne-in haar, daar doer ver waar daar lanklaas ’n roering was, effens nuuskierig geraak het om meer te hoor van hierdie man wat oorkant die water sy sakke vol prop met ponde terwyl sy dienste hier in sy eie land so nodig is. Tipies! ’n Slaplap van ’n wegloop-dokter soos soveel ander wat hul tassies gepak en hul heil elders gaan soek het.

      “Hiervoor gaan ek jou terugkry,” belowe sy oor haar skouer toe sy die gehoorstuk van die telefoon optel.

      “Goeiemiddag.”

      Daar’s ’n padda in haar keel en sy bloos asof die man haar kan sien hier waar sy in haar sakkerige romp en vuil sokkies staan. Sy sal regtig iets aan haar voorkoms moet doen, besef Breggie. Anders gaan Erik se voorspellings waar word.

      “Middag. Praat ek nou met Breggie?”

      Die man moes seker een of ander tyd spraaklesse geneem het, dink Breggie. Met ’n stem soos daardie – hy klink soos ’n predikant. Nee, nie ’n predikant nie, eerder ’n dramaturg, ’n ghoeroe van ’n aard, of ’n lewenstrateeg. Iemand wat die wêreld se wysheid in pag het en aan wie se voete jy wil sit en luister. Net luister en luister, selfs al lees hy vir jou vervelige statistiek voor.

      Hoe sou iemand met so ’n ryk en donker sjokoladestem lyk? wonder sy vir ’n oomblik. Seker soos een of ander insek. ’n Hottentotsgot, dalk. ’n Skraal man met ’n lang nek en arms wat op sy knieë hang. Sy weet hoe die lewe is – die geluksgodin deel nie uit sonder om te vat nie. Noem dit karma, noem dit Murphy’s Law, noem dit kosmiese balans, sy sien dit elke dag van haar lewe.

      Neem nou maar vir Erik met sy 20/20-visie. Kyk wat gaan op sy kop aan – niks! Of dan, baie min. Arme ou Erik gaan heeltemal bles wees teen die tyd dat hy vrouvat en kinders kry. Hier sit sy weer alewig met ’n bril op die neus, maar sy dra ’n haredos met haar saam wat twee of meer koppe kon bedek. Om ’n swaar, soet stem soos hierdie te beman, sou die dokter heel moontlik ook iets moes inboet.

      Sy kug. “Dis reg. Dis Breggie Bruwer wat praat.”

      “Breggie.” Die man rol haar naam in sy mond. “Is dit jou doopnaam?”

Скачать книгу