Die oorlog kom huis toe. Helen Bradford

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die oorlog kom huis toe - Helen Bradford страница 2

Die oorlog kom huis toe - Helen Bradford

Скачать книгу

Cape Argus van 26 Maart 1897 het Spanje as ’n “disgrace to civilisation” beskryf. Kort hierna het dieselfde soort oorsake tot dieselfde soort gevolge gelei – die koloniale oorlog tussen Boer en Brit sou nóg ’n konsentrasiekampstelsel meebring. Lloyd George, ’n lid van die Britse opposisie, was bewus van wat in Suid-Afrika aan die gebeur was toe hy op 25 Julie 1900 sy kommer teenoor die Britse Laerhuis uitgespreek het en verklaar het dat dit vir hom lyk asof Brittanje geleidelik Spanje se beleid in Kuba begin volg het.[4] Op daardie tydstip was dit dalk nog nie heeltemal die geval nie, maar die militêre mislukkings van generaal Frederick Roberts en die naderende aankoms van generaal Horatio Kitchener in Suid-Afrika sou spoedig die lot van die Boere- en swart bevolking bepaal.

      Hierdie sosiale geskiedenis is presies en oorspronklik in hoe dit ’n volskaalse oorlog herbesoek. Dit was ’n konflik wat gekenmerk is deur die verwoesting van plase, die slag van diere, wydverspreide brandstigting en interpersoonlike geweld tussen mans en vroue. Die bydraers se omsigtige ondersoek dek temas soos die komplekse verhouding tussen medemenslikheid en verengelsing: Die Britse owerhede kon slegs eersgenoemde aanvaar omdat hulle verwag het dat dit tot laasgenoemde sou lei. Die skrywers laat ook die stemme van aangehoudenes uit hul hospitaalbeddens, skole en aanbiddingsplekke hoor, asook in hul liefdesverhoudings en hul sterfte. Sodoende skep hulle ’n beeld wat deurgaans deur ryk dokumentêre en visuele bronne geïllustreer word.

      Alles kom in die somer van 1900 tot ontplooiing. Die Britte het ’n militêre voor-sprong op die Boere. Hulle beheer die stede en spoorwegnetwerk, maar het nog lank nie die oorlog gewen nie. Gevolglik begin hulle om krygsgevangenes na St Helena, Bermuda en Indië te deporteer. Vir diegene wat bereid is om oor te gee, word beskerming in die kampe aangebied. Nietemin maak die guerrillamagte die lewe steeds baie moeilik vir die Britse leër en word die idee van gesinne wat in kampe aangehou word as ’n uitbreiding van die verskroeide aarde-beleid beskou. Die Britte glo dat die enigste lewensvatbare oplossing is om plase en oeste te vernietig sodat voorrade aan die Boeremagte afgesny word.

      Kitchener wil hierdie probleem oplos wanneer hy teen die einde van 1900 die bevel oorneem. Vir hom is daar geen onskuldige bystanders onder die Boerebevolking nie – en die getuienis van diegene wat hulle verset, soos in hierdie boek bespreek word, bewys nie die teendeel nie! Kitchener fokus daarop om Boereweerstand te ontmoedig, en insinueer ten spyte van bewyse dat die joiners self interneringskampe vir hul gesinne voorgestel het. In werklikheid word feitlik die hele bevolking gyselaar gehou. Wit en swart mense word almal as krygsgevangenes beskou en aan wrede vergeldingsmaatreëls onderwerp. Boonop word die kampe bestuur deur die Britse leër, wat sy eie strafmaatreëls ten doel het.

      Dít was die atmosfeer en diegene wat soos slagoffers voorgekom het, het dienooreenkomstig opgetree. Nonnie de la Rey is van besondere belang. Sou sy gevange geneem word, wou sy as ’n krygsgevangene beskou word. Dit sou verseker dat sy óf deur die eerste Geneefse Konvensie beskerm word, óf as neutraal beskou sou word deur die humanitêre wette wat losweg gedurende die oorlog gegeld het. Nonnie was ’n produk van die Boere se heersende patriargale stelsel en het haarself as ’n “man” beskou – in die praktyk was sy ’n plaasvervanger vir haar man in sy afwesigheid. Al kon sy nie verwag dat die Britte dié besluit sou respekteer nie, het sy voortgegaan om haar man op kommando te ondersteun. Bowenal was dit ter wille van hierdie aktiewe rol wat sy kon speel dat sy geweier het om in die kampe aangehou te word.

      Soos uit die boek blyk, het die Britte die Boere as primitiewe en onbeheerste sensuele wesens beskou met ’n sterk sin vir gesinswaardes wat slegs die knie sou buig as hul bloedfamilie te na gekom word. Teen die eeuwending is daar soms na “Boer herds” of “Boer flocks”[5] verwys, ’n benaming wat gespruit het uit sosiaal-Darwinistiese idees oor menslike evolusie en wat die vyand op ’n submenslike vlak geplaas het. Met weinig ander keuse as om hulle te onderwerp, is hulle in kampe opgesluit wat aan ’n soort menslike dieretuin herinner het. Daar is hulle as deel van ’n onverskillige proses geregistreer en in tente gehuisves; hulle het rantsoenkoepons ontvang en blote name op lyste geword.

      Nóg Roberts, nóg Kitchener het aan die gevolge van hul opdragte gedink. Om burgerlikes in oorvol woonkwartiere met gebrekkige sanitasie te prop en hul voedsel tot verlaagde militêre rantsoene te beperk, kon slegs op rampspoed afstuur. Meer Britse soldate het reeds aan siektes gesterf as in gevegte, wat nie ’n vreemde verskynsel in negentiende-eeuse oorlogvoering was nie. In die kampe het vroue, kinders en bejaardes dieselfde lot te beurt geval. Noodlottige uitbrake van masels was algemeen en sou later simbolies word van die traumatiese kamplewe.

      In die herfs van 1900 het hoë sterftesyfers ’n beroering veroorsaak onder pasifistiese groepe in Londen, soos die South African Conciliation Committee. Emily Hobhouse, die stigter van die South African Women and Children Distress Fund, het in hierdie komitee gedien. Sy het in Desember 1900 in Suid-Afrika aangekom en ’n verslag oor toestande in die konsentrasiekampe opgestel, wat as ’n aanklag teen die kampe gedien het. Hoewel dit nie heeltemal anti-Brits was nie, is dit tot voordeel van nie net die Boere gebruik nie, maar ook van lande wat hulle teen Groot-Brittanje verset het (die eerste vertaling van die verslag het uit Frankryk gekom). Hoewel Hobhouse in 1901 uit Suid-Afrika verban is op haar tweede reis na die land, is haar boodskap in haar tuisland gehoor. Die leier van die Liberale Party, sir Henry Campbell-Bannerman, het hom skerp teen die gebruik van “barbaarse metodes”[6] uitgespreek en het Hobhouse se verslag openbaar gemaak, wat tot ’n parlementêre ondersoek gelei het.

      Die ondersoek het gefokus op die hopelose situasie in wit kampe. Tog het dit in die afsonderlike kampe wat vir swart mense opgerig is selfs slegter gegaan. Hul wonings en erwe is ook afgebrand. Hulle het in die kampe gewerk en moes nie net na hul eie gesinne omsien nie, maar ook in sekere behoeftes van die Britse leër voorsien. Die hoë sterftesyfers in die swart kampe is grootliks deur wit waarnemers oorgesien en het weinig protes of ooggetuieverslae uitgelok.

      Die Britte het instinktief probeer om hulle te verontskuldig deur die Boere vir die onhigiëniese toestande in die kampe te blameer. Hul skynbare oningeligtheid en onbeskaafdheid is as die oorsaak van die probleme beskou. In teenstelling tot Victoriaanse Britse waardes wat die landelike leefwyse geïdealiseer en teenoor die industriële stede gestel het, is die Boere dikwels as agterlike plattelanders uitgebeeld wat in onsindelike omstandighede geleef het en beswaarlik die kos wat aan hulle verskaf is, kon voorberei of hul kinders kon versorg.

      Om dit te probeer verklaar, plaas die bydraers tot hierdie boek die lot van vroue, kinders, swart bediendes, wit base, siekes, versorgers en vroeë filantrope binne ’n breër refleksie op die oorlog. Lesers word die getuies van die trauma, die veerkragtigheid, die wanhoop, die verlies en die beproewings van hul daaglikse bestaan. Daarby word ’n blik gebied op die eentonige lewe waaruit die gedagte van “doringdraadsindroom” ontstaan het waarmee vele gevangenes goed bekend was.

      Soos die bydraes aandui, het die omstandighede in die kampe geleidelik met verloop van die oorlog verbeter. Teen 1902 is verpleegsters en onderwysers uit Engeland aangestel om na die siekes en kinders om te sien. Was dit deel van die tradisie van Protestantse barmhartigheid? Was dit ’n aspek van die beskawende verligting? Bes moontlik nie. Benewens ander kulturele ingrypings, sou die Engelse taal byvoorbeeld Afrikaans vervang. Tog het die politieke situasie ironies genoeg ook toe begin verander, omdat burgerlikes wie se plase verwoes is in daardie stadium nie meer weggevoer en geïnterneer is nie. Oorgawe deur die Boeremagte het gekom te midde van hierdie verspreiding van burgerlikes en die afname in die laaste kommandoweerstand.

      Teen daardie tyd het die Engelse onbewustelik slagoffers geskep oor wie die Afrikaners later sou rou. Die konsentrasiekampe het groter momentum aan wit Afrikaner-nasionalisme gegee as enige ander aspek van hul koloniale ervaring. Globaal gesproke was die fokus ook nou nie meer op Kuba nie. Hoewel die pro-Boerebeweging ontstaan het uit protes teen die Britse Ryk en kolonialisme, het sy verreikende besware – al was dit soms oordrewe – teen wat as misdade beskou is, ’n geldige grondslag gehad.

      Vir die September-uitgawe van L’Assiette au Beurre in 1901 (wat spoedig in Nederlands vertaal is), het die kunstenaar

Скачать книгу