Die oorlog kom huis toe. Helen Bradford

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die oorlog kom huis toe - Helen Bradford страница 6

Die oorlog kom huis toe - Helen Bradford

Скачать книгу

om die wapenneerlêers te beskerm nie. Die Britse optrede is inteendeel gekenmerk deur futiele vergeldingsmaatreëls teenoor diegene wat daarvan verdink is dat hulle die eed van neutraliteit verbreek het. By gebrek aan Britse beskerming het sommige wapenneerlêers toe na die dorpe en stede onder Britse beheer gevlug. Die distrikskommissarisse het dit aangemoedig, omdat dit die enigste manier was waarop wapenneerlêers beskerm kon word. In Pretoria is die wapenneerlêers in leë huise gehuisves en het hulle rantsoene ter waarde van 2 sjielings en ’n sikspens per dag ontvang. Die militêre owerheid het ook ’n skema beraam om hulle in munisipale diens te neem – enersyds om te vergoed vir die rantsoene wat aan hulle gegee is en andersyds sodat hulle geld kon verdien. Dié skema het egter min aftrek gekry en ten spyte daarvan dat 2 000 kennisgewings versprei is, het slegs twaalf individue hulle aangemeld (en van dié twaalf wou ses voormanne wees).

      Die Britse owerheid kon egter op lang termyn onmoontlik al die wapenneerlêers in dorpe en stede akkommodeer. In die eerste plek was behuising ’n probleem en in die tweede plek kon hulle ook nie hul vee saambring nie. Gevolglik was daar toenemend steun vir die idee van beskermingskampe. As dít suksesvol uitgevoer kon word, sou dit in groot mate die Britse owerheid se probleem met die wapenneerlêers oplos. Op 23 Augustus 1900 het Milner vir Roberts verwittig: “I think, if once we can make up our minds to a camp or camps in South Africa, we shall find it an absolute advantage in this respect . . . My idea is that many of the more pacific of them [die burgers] would be protected against being again commandeered and, at the same time, would not be sent out of the country. Both of these objects would be secured by keeping them in custody in South Africa.”[3]

      Roberts het Milner se voorstelle gesteun en het dit oorweeg om soortgelyke kampe in die Transvaal op te rig. Die kamp by Bloemfontein het in September 1900 tot stand gekom en op 22 September is dit amptelik bekendgemaak dat kampe vir wapenneerlêers in Bloemfontein en Pretoria opgerig gaan word. In Pretoria is wapenneerlêers in ’n sogenaamde “Rest Camp” (ruskamp) gehuisves wat vantevore as ’n deurgangskamp vir Boerekrygsgevangenes gedien het. Die wapenneerlêers wat in die “Rest Camp” gehuisves is, is later na die Irene-konsentrasiekamp naby Pretoria oorgeplaas.

      Hierdie beskermingskampe het wel die wapenneerlêers se veiligheid verseker, maar dit was ook nodig dat daar vir hul vee voorsiening gemaak moes word. Roberts het bepaal dat waar wapenneerlêers se vee deur die militêre owerhede benodig word, ’n geldige bewys daarvoor uitgereik moes word. Waar die vee nie benodig is nie, sou een of twee lede van ’n familie of ’n aantal wapenneerlêers toegelaat word om op die plase agter te bly en die vee op te pas. Vir dié doel sou hulle ’n beskermingspas kry. Talle wapenneerlêers was egter huiwerig om op hul plase aan te bly, omdat hulle bang was dat hulle deur die Boeremagte opgekommandeer sou word of hul vee sonder vergoeding deur die Britse kolonnes weggevoer sou word. Van die wapenneerlêers het daarom ’n paar skape en beeste na die kampe saamgeneem en dit in die nabye omgewing opgepas.

      Amptelik is die kampe slegs vir wapenneerlêers – en by implikasie hul gesinne – opgerig. Terselfdertyd is vroue en kinders wat deur die verskroeide aarde-beleid dakloos gelaat is, ook daarheen gestuur of gedwing om daar ’n heenkome te vind. Daar was dus nie ’n wesenlike verskil tussen die beskermingskampe en konsentrasiekampe nie. Die Britte het dit ook as “refugee camps” (vlugtelingkampe) bestempel, maar dis ’n misleidende term omdat dit impliseer dat die vroue hulle vrywillig en as “vlugtelinge” daar aangemeld het, terwyl hulle in werklikheid van hul plase afgejaag en gedwing is om na die kampe te gaan.

Een van die honderde Boereopstalle wat in vlamme opgegaan het.

      Daar kan daarom aangevoer word dat die latere en meer uitgebreide konsentrasiekampbeleid teruggevoer kan word tot hierdie pogings om wapenneerlêers te beskerm. Anders gestel, die wapenneerlêers het tot die ontstaan van die konsentrasiekampstelsel bygedra, al was dit op ’n indirekte en onbewustelike wyse, omdat die Britse owerheid genoodsaak was om beskermingskampe vir hulle op te rig waarin daar terselfdertyd ook hawelose vroue en kinders van lojale republikeinse burgers geplaas is.

      Wapenneerlêers kan ook in ’n ander opsig met die kampe verbind word. Sogenaamde burgervredeskomitees, wat uit wapenneerlêers bestaan het, is in samewerking met die Britse owerhede gestig met die doel om die burgers te velde te probeer oortuig dat die stryd verlore was en hulle die wapen moes neerlê. Die vredeskomitees se pogings was grootliks tevergeefs. Etlike republikeinse leiers, asook latere geskiedskrywers, glo lede van die vredeskomitees het die idee van konsentrasiekampe by lord Kitchener, Roberts se opvolger, geplant. Meyer de Kock, ’n burger van Belfast wat as vredesgesant opgetree het en later met sy lewe daarvoor moes boet, word spesifiek daarvan verdink dat hy dié idee aan die Britte verkoop het. Daar is egter nie oortuigende bewyse hiervoor nie. Kitchener het reeds vóór sy ontmoeting met die vredeskomitees dit ernstig oorweeg om die kampe uit te brei. Wat wel waar is, is dat sommige wapenneerlêers hulle ten gunste van so ’n beleid uitgespreek het.

      Die verskroeide aarde-beleid en die kampe

      Benewens die situasie met die wapenneerlêers het die Britte ook al hoe drastieser oorlogsmaatreëls begin toepas namate Boereleiers hulle tot guerrillaoorlogvoering gewend het. As bevelvoerder van die Britse magte het Roberts reeds so vroeg as Maart 1900 beveel dat plaashuise as ’n strafmaatreël vir voortgesette weerstand afgebrand kon word. Dit was bedoel vir gevalle waar kommandolede plaashuise gebruik het as skuilings en om aanvalle op Britse kolonnes en verbindingslinies te loods.

      Onder Kitchener is plaashuise veral vanaf Januarie 1901 voor die voet verwoes en is daar geen poging aangewend om eers vas te stel of die huise wel vir militêre doeleindes gebruik is nie. Kitchener se ondergeskiktes het met sy goedkeuring eenvoudig na willekeur verwoesting gesaai. Nagenoeg 30 000 huise is afgebrand en tot 40 dorpe het deurgeloop. Daar moes geen heenkome vir die burgers te velde wees nie.

Heel links: Die kerk in die Vrystaatse dorp Lindley is deur die Britse magte verwoes. Links: Britse soldate verlaat ’n plaaswerf wat hulle aan die brand gesteek het.
Heel links: ’n gestroopte woonhuis. Links: graansakke wat uitgedra en verbrand word.

      Dié beleid is in die algemeen hardvogtig deurgevoer deur soldate wat dit as hul professionele plig beskou het en soms selfs sadistiese plesier daaruit geput het. In dié verband het ’n Britse soldaat geskryf: “You should have seen the Royal Irish on the loot. They helped the people out with their stuff by heaving heavy bureaus bodily through the windows, putting pickaxes through melodians and such like wantonness. I heard one yell: ‘Begory Jim, here is a nice carpet . . . Oi’ll take it home for the ould woman. Lend a hand here!’ R-r-r-rip! Up came a handsome pole carpet in strips. And so the work went on, the officers standing by laughing at the costly fun their men were having.”[4]

      Dié soort vernielsug het ’n diepe indruk gelaat op die Boerevroue wat dit moes gade-slaan. Só het een verklaar: “Daar staan ek toe, omring deur my kindertjies terwyl die wrede soldate my eiendom plunder. Huisraad, klere, kos, alles word op ’n hoop gegooi en aan die brand gesteek . . . Hoe ek hulle ook al smeek om ’n paar oudhede te behou, hulle weier aaneen”.[5] Sulke tonele het hulle gereeld in die twee Republieke afgespeel en die vernedering wat dit meegebring het, het in latere jare ’n vrugbare teelaarde vir Afrikaners se gemeenskaplike gewroeg en wrokkigheid jeens

Скачать книгу