Sushi en sjampanje. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sushi en sjampanje - Kristel Loots страница

Sushi en sjampanje - Kristel Loots

Скачать книгу

href="http://www.tafelberg.com">

      Sushi en

       sjampanje

      Kristel Loots

      TAFELBERG

      1

      Verslaaf aan Facebook? ’n Facebook freak? Wie? Ek? Nooit gesien nie.

      Ek kyk net vroegoggend gou daarna terwyl ek my eerste koppie koffie drink. Net om te sien wat deur die nag gebeur het waarvan ek nog nie weet nie. En so elke af en toe deur die dag. En in die aande voordat ek gaan slaap. Net gou, jy weet? Net gou.

      Wat op aarde dóén mense wat nie Facebook het nie? Hoe kry hulle die tyd om? Veral hier teen laatmiddag op kantoor as dit so stil raak dat jy jou buurman kan hoor asemhaal.

      “Was dit nie vir Facebook nie, het ek sowaar gevrek van verveling,” mor ek.

      “Dis juis vandag über-boring hier by Die Boekhoek,” kla Pulani saam met my. “ ’n Mens sal nie sê ons is ’n klomp movers en shakers nie.”

      Ons is nogal. Movers en shakers. Maar Gary is nie hier nie en iemand wat werk wanneer die baas weg is, het ’n ernstige selfbeeldprobleem. As die universe jou high-five, maak jy ook so. En smile. Pulani verf haar naels en Harry het die rekenaar nou al twee keer met skaak gewen. Só mors ek nie my tyd nie. Ek loer na al die Facebook-blaaie wat ek gelike het en lees wat ’n paar van my 378 friends gepost het.

      Daar is die gewone soetsappige spreuke en prentjies. Wyshede wat wyd en wild verkondig word. Pep talks wat maar eerder kon gebly het. The early bird gets the worm, but the second mouse gets the cheese. Ja, ís so! Ha! ha! I don’t like morning people. Or mornings. Or people. Ja, ja, ek ook nie aldag nie. Ek scroll verby die prentjies van wollerige hondjies en lieftallige katjies en foto’s van cute kindertjies en kleinkindertjies wat trotse mammies en oumatjies op hul Facebook-mure pleister. Oulik, ja, tog te oulik, maar hou tog net verby, asseblief.

      “Wat doen jy?” wil Pulani weet. “Stalk jy al weer vir Gary?”

      Sy’t sowaar oë agter haar kop, want die oomblik wat ek dit wíl doen, weet sy daarvan.

      “Hoe kan ek hom stalk as ek nie een van sy Facebook friends is nie?”

      “Hoekom is jy nie?”

      “Gary het gedink dis ’n simpel idee. Ons sit langs mekaar op kantoor. Dis freaky om met mekaar op Face­book te chat.”

      “Of hy wil nie hê jy moet lees wat hy op sy Facebook-blad skryf nie.”

      My thoughts exactly, maar ek sê dit nie.

      “Dis seker nie vir jou ’n probleem nie. Jy’s mos nie ’n onkundige cyber virgin nie.”

      Ek antwoord haar nie, want ek lieg nie onnodig nie. Natuurlik kan ek op Gary se Facebook-blad ingaan. No problem. Sy sekuriteit-settings is so simpel opgestel dat enige bobbejaan met ’n breinsel en ’n toetsbord dit kan doen. En natuurlik lees ek alles wat hy daar skryf.

      “I ain’t no saint,” mompel ek verontskuldigend in

       Pulani se rigting.

      “Hy gaan jou uitlag as hy sien hoe gereeld jy op sy profiel ingaan.”

      “Ek dink nie ’n mens kan regtig nie, al sê Facebook ook so. Dis sommer ’n hoax.” Hoop ek. Eintlik hou ek my slimmer as wat ek regtig is, eintlik ken ek net die basics. Facebook is the devil in disguise en ’n mens weet nooit wat alles daar openbaar gemaak word nie. Wat as Gary kán sien hoe gereeld ek gaan loer of hy dinge vir my wegsteek? Hy sál lag, ek weet hy sal. My uitlag en by sy pelle daarmee spog, vir hulle vertel hoe paranoid ek is.

      Miskien moet ek my aan Pulani se waarskuwing steur, miskien is sy the voice of reason om my van my verslawing te genees. Sy met haar gifbek, sy wat nou haar naels sit en bewonder asof niemand al so ’n perfekte manikuur kon doen nie. Wel, sy ís ’n ekspert. Het vroeër vandag my toonnaels geverf, ’n kunswerk in die kleine. Die een groottoon blou, die ander swart, drie groenes, ’n gele, ’n silwer, ’n rooi en ’n oranje toonnael, met die linkervoet se kleintoontjie ’n skreeuende skelpienk. Pragtig! Fabulous!

      Pulani is lank nie meer die vaal plaasmuis wat sy glo was toe sy in die Kaap geland het nie, sy dra ál die stempels van ’n volbloed city girl. Al wat sy van haar Noord-Kaapse agtergrond oorgehou het, is die suiwer Afrikaans wat sy praat, een van die redes waarom Gary haar dadelik hier by Die Boekhoek aangestel het. Maar wanneer sy relax, is dit nie woordeboektaal wat by haar mond uitborrel nie.

      Ons is ’n gedugte span, ek en Pulani. Ebony and Ivory, noem Harry ons. Beauty and The Beast is ’n beter beskrywing. Of miskien eerder Beauty and The Brains. Waar Pulani die beauty is en ek die brains.

      Ou Harry is darem ook iets werd, veral met sy kamera om sy nek. Hy kiek al wat celeb is en plak dan die foto’s op Facebook. Sommer so sonder om dit te Photoshop as hy die dag spiteful is. Verder hou hy die fort aan die Engelse kant van die winkel. So min of meer, want dié soutie is nie lief vir praat nie. Met Harry en Gary aan die een kant en my en Pulani aan die ander, hou ons Die Boekhoek/The Book Nook van bankrot­skap af weg. Net-net, maar darem.

      Die Boekhoek/The Book Nook is nie jou gewone boekwinkel wat allerhande twakkies behalwe boeke verkoop nie. Dis hoofsaaklik die ernstige lesers wat ’n boek wil hê die oomblik wat die ink droog is, wat by die deur instap. Ja, ja, mense koop al hoe meer e-boeke, maar die papier-stroompie by ons het gelukkig nog nie opgedroog nie.

      “Was dit nie vir die koffiemasjien nie, het Die Boekhoek seker ook al sy gat gesien,” is hoe Pulani dit opsom. Is so. Die literati en die glitterati gaan maak almal eers ’n draai by die koffiekan. Almal wat bril dra, kan nie lees nie, maar almal stap hier uit met ’n sak boeke in die hand. Wat hulle daarmee doen, is hulle saak. As hulle dit vir deurstoppers gebruik, is dit ook maar goed so. Ons is nie hier om die volk op te voed nie, net om die kasregister vol te hou.

      Ons move en ons shake, ek en Pulani. Ons lywe, ons hare en alles wat nodig is om ’n ding georganiseer te kry. ’n Boek het nog skaars op die rak beland of ons hou ’n paartie van ’n aard. Kyk, ons kan vir jou ’n boekbekendstelling of toekenningsaand reël dat dit soos ’n Hollywood-geleentheid lyk. “Vir ’n sommerso skrywertjie is butternut-sop die mees eksotiese dis op die spyskaart,” het Gary my vroegtydig onderrig in hoe dinge hier gedoen word. “Maar vir die groot geeste wat die dik boeke skryf en die toekennings kry, bedien ons sushi en sjampanje.”

      So is dit – almal weet as jy eers behoorlik gearriveer het, is sushi en sjampanje jou beskore. Al wat who’s who is, kom wys dan tande en skud hande. Ek staan by die deur in my nuutste outfitjie en verwelkom man, muis en mistress – en na baie oefening kry ek selfs al die African handshake amper reg. Soms soen ek die lug langs die bebrilde gesigte van die stedelike intelligentsia. Die dames in hul Queenspark-pakkies se parfuum kielie my neus en so hier en daar gee omies wat na Vicks ruik my drukkies wat die grense van welvoeglikheid oorskry. Die hooikoors pla my dan ’n bietjie, maar ek oorleef.

      Dis ook ék wat met ’n gekug agter die kateder inklim om ’n speech af te steek wat die hooggeplaastes én die wat nie so hoog op die food chain is nie sal verstaan. “Die Boekhoek is soveel meer as net ’n boekwinkel, dames en here. Hier kry boeke vlerke. Die Boekhoek/The Book Nook lanseer boeke met promosies op sosiale blaaie wat tot ver buite die landsgrense strek. Die Boekhoek/The Book Nook bied jou meer waarde vir jou geld as wat jy met ’n belegging in die bank kan kry.”

      “Dis waarvoor ek jou betaal,” herinner Gary my gedurig. “En vir jou genoeg blink rokke koop om ’n klomp vroue gelukkig

Скачать книгу