Sushi en sjampanje. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sushi en sjampanje - Kristel Loots страница 4

Sushi en sjampanje - Kristel Loots

Скачать книгу

dan weet ek darem hy het nog nie emosioneel afgesterf sonder dat iemand daarvan weet nie. Dit verg nogal ’n akrobatiese toertjie om by te kom en ek gly amper van my stoel af, alles verniet. Gary sit nog daar asof hy familie van ’n sfinks is. Dis genoeg om enige meisie mal te maak. My voet kramp later. Seer. Vrek seer. Ek wil tou opgooi en weer my stiletto’s aantrek. Maar dan wend ek ’n laaste poging aan – ek wikkel en woel vir oulaas my voet in sy skoot.

      Nog niks! Zilch!

      Dis toe Gary vir Harry ’n vraag vra dat ek vir die eerste keer onraad vermoed. Harry antwoord nie, staar net voor hom uit, sy oë glasig. Sy mond hang oop en sy asem jaag soos dié van ’n hond wat lank sy eie stert gejaag het. “What . . .” hyg-hyg “. . . what was the question?” kom dit hortend. Sy gesig is bloedrooi en daar is ’n lagie sweet op sy bolip. Amper soos iemand wat beroerte of ’n ander lewensgevaarlike aandoening kry.

      Wat de hel gaan met die man aan? Hy lyk kompleet asof . . . My hart mis ’n slag, nog ’n slag – en gaan toe mal in my borskas. Oh no! Nee, nee, flippen NEE!

      Dis ék wat my asem skerp intrek toe ek besef wat gebeur het, dis ék wat by ’n hartstilstand gaan omdraai, ék wat my voet wegruk asof uit die vuur, so vinnig dat ek Gary in die proses op sy maermerrie skop.

      “Eina, dêmmit!” roep hy uit.

      Great! Nóú tref my voet die regte lyf.

      Ag, berge val op my! Of ten minste die dak van die gebou. Of ’n tafeldoek, of ’n gordyn, of enigiets wat my skaamte sal bedek. Ek voel hoe die vlamme op my wange uitslaan. Ek voel-voel na my skoen, maar dit is weg, my voet is kaal. Ontbloot. Alles aan my is kaal, skandalig ontbloot. Of so voel dit.

      Ek sou verkies om dood neer te val, maar dit gebeur net in die movies. In stilprente waarin die vroue korsette dra. Wanneer jy die grootste moontlike dinges van jouself maak, val jy flou of dood neer en word jy grasieus weggedra. Nie in die regte lewe nie. In die regte lewe sít jy nog daar. Lewensgroot. Uitgelewer aan almal om die tafel wat óf wonder óf weet watter verskriklike gek jy van jouself gemaak het.

      Ek strompel weg, een skoen aan en een skoen uit. Hinkepink. Skoon skeef. Lomp. Die badkamer was nog nooit so ver in die gang af nie en die deur het ook nog nooit so moeilik oopgemaak nie. Ek storm daar in en gaan buk oor die wasbak, so naar soos ’n landrot op die oop see. Ek draai die kraan volstoom oop, spat die water oor my gesig, bo by my borste in, my nek, skouers, alles wat aan die gloei is wat ek kan bykom. Maar die water is nie koud genoeg om my te laaf nie, dit stoom van my gesig af soos van ’n warm plaat. Ek wil my kop in die toiletbak gaan steek, ek wil in die bad klim, ek wil saam met die water deur die gorrelgat in die riool afspoel.

      Maar niks daarvan gebeur nie. Dit voel of ek elke minuut groter raak, of daar horings op my kop groei, of ek ’n plakkaat om die nek dra wat in groot rooi letters vir die wêreld vertel wat ek aangevang het. Wat gaan ek doen as Gary genoeg belangstel om te begin somme maak en by die regte antwoord uitkom? Hoe verduidelik ek my stuitigheid aan hom? En ag hemel tog! Hoe gaan ek Harry ooit weer in die oë kyk? Onnosele aap. Hoekom sít hy net daar? Hoekom doen hy nie iets nie? Hoekom sê hy nie iets nie?

      Wat? Wat moes hy sê? Verskoon my, Jacki, ek dink jou voet het op die verkeerde skoot beland. Ek gee nie om nie, maar ek voel dis my plig om jou daarop te wys. Behalwe as jy my dalk onweerstaanbaar vind en my onder die tafel deur wil plesier.

      Dis Pulani wat my kom haal met my skoen in haar hand. “Is jy oukei?” wil sy weet.

      Ek skud my kop. “Nee, nie regtig nie.”

      “Waddehel het daar aangegaan?” Sy gee die skoen vir my aan. “Hoekom is jou skoen van jou voet af? Jy en Gary het tog seker nie voetjie-voetjie gespeel nie?”

      Ek bloos van voor af. “Moenie vir jou laf hou nie, Pulani. Natuurlik nie.”

      Sien, soms praat ek tog die waarheid, die reine waarheid, al klink dit nie so nie.

      “Jy’s bleek. Is jy naar?” Sy frons. “Moenie vir my sê jy’s pregnant nie.”

      “Ek is nié pregnant nie, Pulani, ek belowe jou.”

      Ek kan nie pregnant wees nie, behalwe as ’n mens dit met ’n ge-voetjie-voetjie-spelery met Harry kan opdoen. Oombliklike bevrugting. Amper iets soos spontaneous combustion!

      Gelukkig is al twee die mans doenig met iets toe ek genoeg moed het om my gesig en die res van my by die deur uit te steek. Gary is oor sy rekenaar gebuk en dit lyk nie juis asof hy onraad of onkuisheid vermoed nie. Ek gluur Harry aan. Dis ’n if-looks-could-kill-kyk. “Sê iets!” spel daardie kyk vir hom uit. “Sê net iets en ek trap jou tjank vir jou af. Onthou, ek slaap by die baas.”

      Die res van die dag hang daar ’n vreemde, gevaarlike atmosfeer in Die Boekhoek en niemand weet waar dit vandaan kom nie. Behalwe ek en Harry, en Harry sal nie praat nie. “Ek is ’n lover, nie ’n fighter nie,” verkondig hy graag. My voete bly in my skoene en geen ander deel van my anatomie oorskry enige grense nie.

      Maar daar sit ’n stuk doringbos in my borskas vas. Ek skaam my. Waddehel makeer my? Hoekom kon ek nie my tone in toom hou nie? Dis . . . dis omdat ek ’n magic moment wil hê, ’n simpele spesiale iets wat ek en Gary deel. Oë wat ’n oomblik lank connect, miskien ’n gesteelde soentjie so in die verbygaan. Daar hoef nie tonge by betrokke te wees nie, sommer net ’n piksoentjie, al land dit ook op my neus of oor.

      Net iets, sodat ek kan weet my flippen verloofde weet nog van my. Gary, jou swernoot! Ek verwag nie veel van jou nie, jy hoef nie my klere van my lyf af te skeur of my van liefde op te vreet nie. Ek wil nie spesia­le gunste van jou hê nie, net . . . wel, my magtig, man, net ’n bietjie erkenning daarvoor dat ek soms soos Eva voor jou staan. Sonder haar vyeblaar.

      O, ek vind gewoonlik ’n hele kwota verskonings vir Gary se afsydigheid. Hy is nie demonstratief nie, terughoudend van geaardheid.

      “Met ander woorde hy’s ’n koue vis,” was Pulani se reaksie toe ek dit so vir haar probeer verduidelik het.

      Gelukkig gryp Gary sy baadjie en sy laptop hier teen twaalfuur en staan deur se kant toe. “ ’n Vergadering,” mompel hy in my rigting. “Sal seker tot laat toe besig wees.”

      Ek is verlig. Na my droogmakery huiwer ek om hom in die oë te kyk. Nou voel ek soos Eno’s wat te lank op die rak gelê het; ek het my fizz verloor.

      Ek sweer daar was al ’n paar sangomas in Pulani se familie, want dit lyk my sy ruik ’n rot op ’n afstand, al probeer jy hom as ’n skadelose konyntjie verbloem.

      “Waarnatoe is Gary?” vra sy.

      Ek haal my skouers op. “Seker maar ’n meeting of ’n ding. Hy’t nie gesê nie.” Die vrek weet, deesdae word baie sondes onder die dekmantel van meetings gepleeg.

      “Dis ’n dark horse, daai een.”

      “Dis sy werk, Pulani. Ek en jy weet nie van al Gary se wheelings en dealings nie. Hy hoef nie sy whereabouts aan ons te verduidelik nie. Dis hy wat die skip aan die seil moet hou.”

      Maar Pulani is agterdogtig gebore. “Mmm. Dis wat ek sê: ’n dark horse. Ek vertrou hom nie. Sy ogies sit te na aan mekaar.”

      Dit ís darem van my verloofde wat sy praat. Ek het die ring om dit te bewys. Nou nie juis ’n knewel van ’n diamant nie. Of ’n erfstuk wat geslagte lank al in die familie is nie. Maar darem ook nie ’n blink ding wat by ’n Nigeriër op die straathoek

Скачать книгу