Sushi en sjampanje. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sushi en sjampanje - Kristel Loots страница 7

Sushi en sjampanje - Kristel Loots

Скачать книгу

      “Ek wens ek kan ’n vlieg teen die muur wees,” lag Pulani.

      Vir haar is dit ’n groot grap. Maar nie vir my nie. Al giggel ek ook, is ek so depro jy kan ’n veldbrand met my blus. Waar is die Dear Abby-troostannies as ’n mens hulle die dag nodig het? Ek soek ’n regte outydse troostannie, nie een wat jou teen die kop gaan gooi met allerhande New Age-idees nie. Ek wil nie hoor die oplossing vir die probleem lê in myself nie, ek wil nie hoor ek moet my sokkies optrek, my maag intrek en myself wees nie. Ek soek troos, nie kritiek nie.

      En ek kry dit ook nie by Pulani nie. “Get real, Jacki,” vermaan sy. “Die man is ’n paloeka. Don’t get mad, get even. Skop hom onder sy gat en kry klaar. Good riddance to bad rubbish, dis wat ek sê.”

      Dis maklik vir haar om te praat, háár telefoonnommer is in ’n horde swartboekies geskryf of op die selfoon gelaai. Sy kan kies en keur tussen die mansmense met hul blinkswart Mercs wat toustaan. As dit nie by ’n politieke rally is nie, is dit by een van daardie plekke waar sushi van kaal vrouelywe af geëet en met peperduur sjampanje afgesluk word.

      Ek weet nie hoe ek dit gaan handle nie. Ek weet net ek wil daar wees wanneer Gary vir Sally die eerste keer in die Orchid Room ontmoet. Ek wil sy gesig sien!

      “Ek moet laatmiddag deurry Franschhoek toe om iemand vir werk te ontmoet,” kondig Gary daardie Vrydagmiddag aan sonder om my in die oë te kyk. Hy mompel so, ek kan skaars hoor wat hy sê. Maar dit maak nie saak nie, hy praat in elk geval gibberish. Vir my kom vertel hy gaan iemand vir werk ontmoet. Ja, sure, en die maan is van soetmelkkaas en ek is die een wat daarvan ’n toebroodjie gaan maak. Franschhoek nogal. Daar waar al die inwoners soos hul peperduur Pekinese poedels lyk en met net sulke lang pedigrees spog. Gary liég selfs snobisties wanneer hy die slag oor Sally Smith lieg.

      “O, dis lekker. Ek ry sommer saam.”

      “Saamry?” Gary se stem versplinter toe hy die vraag vra.

      “Ja. Vir ’n joyride. Dit sal ’n lekker drive wees.”

      Ek sien hoe hy verbleek. Wat het hy miskien gedink? Dat ek dit vir hom gaan maklik maak om my te verneuk?

      “Ek gaan iemand ontmoet oor . . . e . . . oor boeke, jy weet?”

      “Ek weet, Gary, natuurlik weet ek.” My stem is so vriendelik soos mevrou-dominee s’n. “Dis tog waaroor ons hele bedryf gaan. Boeke.”

      “Ja. Ek wil . . . e . . . ons wil dalk . . .” Gary sug. “Dalk kan ons uitbrei soontoe, dalk ’n tak daar oopmaak.”

      “Dis ’n wonderlike idee. Ek sal graag wil by wees tydens die bespreking. Dalk kan ek selfs daaraan deelneem.”

      Teen hierdie tyd het Gary asemnood. Hy pluk sy das af, knoop sy hemp oop en neem ’n slukkie water uit die kraffie op sy lessenaar. Die water kan nie baie lekker wees nie, hierdie tyd van die middag het al die ysblokkies ure gelede al gesmelt, maar hy sluk dit asof dit nektar van die gode is.

      Wat gaan ek doen as die man ’n hartaanval van pure benoudheid kry? Skuldig voel? I don’t think so!

      “Miskien ’n volgende keer,” antwoord hy lamlendig. “As ek nie so haastig is nie.”

      “Ek is reg om te ry,” verseker ek hom.

      “Dis . . . nie nodig nie.”

      “Ek weet, maar ek gee glad nie om om jou geselskap te hou nie. Miskien kan ons sommer ietsie daar eet wanneer julle klaar gesels het.”

      “Ek is nie seker hoe laat ek . . . ons gaan klaarmaak nie.”

      Ek bly vriendelik. Inskiklik. “Moenie worry nie, Gary. Ek gee glad nie om om vir jou te wag nie.” Ek kan ook nice wees as dit die dag nodig is.

      Hoe lank wil ek nog met die charade volhou? Wat probeer ek doen? Dalk tog vir Gary van Sally af weghou. Sodat hy hom sal bedink.

      “Nou goed dan,” gee Gary bes. “Wag vir my hier. Ek kry jou hier. Ek gaan net gou . . . ek moet net gou . . .” Hy is bloedrooi in die gesig. “Ek is nou-nou hier.”

      Hy gryp na sy sleutels soos na ’n reddingstou.

      “Ek stap sommer saam . . .”

      Maar hy is te vinnig vir my. Voordat ek behoorlik uit my stoel is, is hy al teen die trappe af. Teen ’n spoed wat die hysbak nie sou kon inhaal nie.

      Ek weet nie watter verskoning Gary later vir my gaan opdis nie, ek weet net hy hardloop van my af weg met ’n spoed wat hy seker in sy hoërskooljare laas kon volhou.

      Gelukkig het ek vanoggend met my eie motor gery en kan ek dadelik huis toe gaan om Sally Smith in die oë te kyk.

      Sally Smith sal vanaand by die Orchid Room móét opdaag, besef ek. So kan dit nie aangaan nie. Ek loop nou al weke lank op ’n balanseertou sonder ’n veiligheidsnet.

      “Sien jy nou?” vryf Pulani na hartelus sout in my wonde. “Wat het ek jou gesê? Julle is nog nie eens getroud nie en die blikskottel is klaar verveeld met jou.”

      “Miskien is dit my eie skuld omdat ek so ordentlik is.”

      “Wat moes jy doen? In jou nightie deur brandende hoepels spring om hom te entertain?”

      “Sally Smith sou nie huiwer om dit te doen nie.”

      “Wel, dan moet hy vir hom ’n Sally Smith van vlees en bloed gaan soek, Jacki. As dit is wat hy wil hê. Want jy is nie ’n Sally Smith nie. Dis maklik om ’n virtuele vrou van losse sedes te wees, maar dis gevaarliker om dit in die werklike lewe te wees.”

      “En meer moeite.” Ek sug. “Sally Smith sal vanaand nog geëlimineer moet word. Op die wreedste moontlike manier. Sy het haar doel gedien.”

      “Ten minste sal dit ’n bloedlose dood wees,” troos Pulani.

      “Die enigste bloed wat vergiet sal word, sal O-positief wees.”

      “Laat my raai – Gary se bloedgroep?”

      “Korrek.” Ek is te kwaad om te huil, maar ek vermoed dit gaan nie so bly nie.

      Ek bly nie ’n oomblik langer op kantoor nie. Die baas sal nie weer sy gesig wys nie, ook nie sy selfoon antwoord nie. Ek sal hom eers weer vanaand in die Orchid Room sien, daar waar hy op sy Sallytjie wag. En wat ’n ontmoeting sal dit nie wees nie!

      Wat trek ’n mens aan as jy jou verloofde se skelmpie is? wonder ek toe ek voor my klerekas staan. Gedink Google het ’n antwoord vir alles? Dink weer. Ek kry nêrens op die wêreldwye web iemand wat raad het oor wat die protokol in so ’n geval is nie. Daar is baie raad oor wat om te dra wanneer jy daardie skelmpie gaan konfronteer en hoe om dit te doen sodat sy daarna in ’n klooster sal gaan skuil. Maar sake raak meer ingewikkeld as jy sélf daardie skelmpie is en dus in kompetisie met jouself gewikkel is. Selfs die wyse Salomo sou hier kopgekrap het.

      Moet die skelmpie slegter as jy lyk sodat die blik-skottel kan besef dis nie so ’n goeie idee om jou vir ’n ander vrou te verruil nie? Of baie beter as jou gewone self sodat hy kan sien hoe goed jy kán lyk? Ek beleef ’n behoorlike eksistensiële krisis en ek het dit self geskep.

      Na

Скачать книгу