Sushi en sjampanje. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sushi en sjampanje - Kristel Loots страница 8

Sushi en sjampanje - Kristel Loots

Скачать книгу

dat die suinige dwis toe besluit het ons hou sommer ’n braai by sy huis.

      “Kerspartytjies is so overrated,” het hy in die morning meeting sy storie vir die waarheid probeer verkoop. “Kom ons vier die einde van die jaar rustig by my huis. Ek en Harry sal die vleis braai en Jacki kan vir ons slaai maak.”

      “En ek?” het Pulani gevra. “Gaan ek die houtkapper en waterdraer wees?”

      Gary het hom nie laat afsit nie. “Jy kan . . . Wat kán jy doen?”

      “Die skottelgoed was as almal klaar geëet het.” Pulani se stem het direk uit ’n vrieskas gekom.

      “Dit sal nie nodig wees nie. Ons gebruik sommer papierborde,” het Gary onverstoord laat hoor. “Maar jy kan dalk vir ons roomys of iets vir nagereg bring. Koop sommer iets by Woolies, dan weet ons dis eetbaar.”

      Pulani se mond het oopgehang. Myne ook. Nie net het Gary vir ons ’n cheapie gegooi nie, ons sou blykbaar uit eie sak ’n bydrae moes maak.

      Ek wou die swart nommertjie dieselfde dag nog gaan teruggee. Maar ek het bly hoop daar sal ’n geleentheid opduik waarheen ek dit kan aantrek. En kyk nou net – die hoop het nie beskaam nie. Ek kry vanaand die kans om Gary daarmee te beïndruk. As Sally Smith. Aanpasbaarheid en om buite die boks te dink is inderdaad ’n vereiste as ’n mens opgang wil maak in vandag se korporatiewe en sosiale lewe.

      Dit ís nogal ’n outfit wat eerder by iemand soos Sally Smith pas as by my. Ek is mos so half en half ’n ordentlike meisie. Sy nie. Maar vanaand wil my boobs bo by die rok uit ontsnap en onder by die soom langs loer my knieë ewe guitig uit. Ek trek die rok effens af, maar moet toe bo keer dat die girls hulle gedra. Daar is vanaand ’n ongekende wildewragtigse gebons aan hulle wat nie deur ’n bra van yster en staal in toom gehou sou kon word nie. So saam met effens slordige hare, ’n skelrooi mond en ’n paar goue beenbreek-stiletto’s aan die voete, moet ek self twee keer kyk voordat ek die flerrie in die spieël herken.

      Toe ek by die voordeur kom, wil my knieë onder my knak. Nee, o hel, só kan ek nie hier uitstap nie, ek maak ’n spektakel van myself. Ek kyk op die muurhorlosie. Te laat. Dis te laat om ’n ander outfit te gaan aantrek, ek moet ry as ek betyds by die Orchid Room wil wees.

      Onder in die straat stap ek verby ’n bergie op pad na my motor toe. Of dit die parfuumwalm is wat hom van sy laaste flentertjie nugterheid ontneem, of my voorkoms oor die algemeen, weet ek nie, maar hy steek in sy spore vas om my aan te staar. “So dydelik soos die engel Gabriël,” prewel hy.

      Ek is seker sy storie oor die engel Gabriël is nie die­selfde as wat ek ken nie, maar ek talm nie om met hom daaroor te redekawel nie. Ek sukkel om só agter die stuurwiel in te skuif dat daar nie te veel van my te dydelik sal wees nie.

      Tot my ergernis is niemand vanaand by hul huis nie, niemand kyk nuus en sepies nie. Nee, driekwart van die stad se inwoners is blykbaar ook op pad in die rigting van Kampsbaai. Ek kronkel saam met die res van die Kaap op die nou paadjie wat na die plesierplekke langs die see lei. Toe ek na ’n klein ewigheid my mindere motortjie tussen die blink menere in die Orchid Room se parkeerplek tot stilstand bring, staan Gary se Bee-em al daar. Heel moontlik vanmiddag gespoeg en gepolish en seker nog gevalet ook. Daar sal geen teken van sy verloofde in daardie motor wees nie. Nie ’n geurtjie nie, nie ’n haarknippie of ’n snesie nie.

      Dis toe ek uitklim en alleen in die parkeergarage staan, dat die onsekerheid my pak. Ek luister na daardie stilte wat ’n mens in ’n parkeergarage kry. ’n Kilkoue seewindjie kom van iewers af ingedwarrel en lig my rok hoër teen my bene op. Ek swaai om, seker daarvan ek het iemand hoor asemhaal. Hier naby, hier bý my. Ek wil skree, maak my asem bymekaar daarvoor. Maar besef toe betyds dis ekself wat so hortend asemhaal, banggat wat ek is.

      Ag, ek wens ek was nie so alleen nie, dat Gary hier by my was en nie daar binne gesit en wag het op sy Facebook-flerrie nie. Of Pulani. Pulani kon saamgekom het as sy nie so ’n hot date vir vanaand gehad het nie. Miskien moes ek een van my broers saamgebring het, dalk vir Hendrikkie. Hendrikkie! Simpel naam vir ’n mansmens wat so lank soos ’n telefoonpaal is. Ma se nonsens, Ma wat dit nie oor haar hart kan kry om van sy troetelnaampie afskeid te neem nie. Haar ou witbroodjie, he can do no harm.

      Maar vanaand sou ek wou hê hy moes sy vuiste gebruik. “Donner hom, Hendrikkie,” sou ek gevra het. “Hy verneuk jou suster met ’n blonde!” Ons kon ’n lekker ou brawl gehad het, ’n behoorlike scene gemaak het in die Orchid Room, daar waar almal glo met gedempte stemme praat en die musiek sag en strelend op die agtergrond speel. Daar waar die kos in klein porsies bedien word, mooi klein porsies, nie juis vir eet nie, eerder vir kyk en waardeer. Die sushi is glo van die beste, lyk soos presentjies. Sjarmante langsteelglase met sjampanje uit die beste bottels. As Hendrikkie by my was, sou hulle ons uitgejaag het, ek weet, so beskaaf moontlik gevra het dat ons die perseel moet verlaat. En nooit weer ons gesigte tussen die mooi opgevoede mense moet wys nie.

      Tot dusver het my woede my gevoed, maar nou is ek bang vir die donker om my en nog banger vir die sagte ligte van die Orchid Room voor my. Waarvoor wag ek nou eintlik? Vir die werklike lewe om in ’n sprokie te verander?

      “It’s not gonna happen, Jacki, my dear!” spreek ek myself streng aan. My stem eggo tussen die geparkeerde motors deur. O gorrelgat, ek raak net so cuckoo soos my ma. Ek haal ’n slag diep asem voordat ek nader stap. In die stilte klink my voetstappe soos dié van ’n wyfie-olifant in ’n paar stiletto’s wat nie behoorlik pas nie.

      Die maître d’ staan dadelik nader toe ek by die deur instap. “Good evening, welcome to The Orchid Room.” Deftig. Nes ek daarvan gedroom het. Behalwe natuurlik dat ek in my droom nie alleen hier gestaan het nie, veral nie met bewende bene en my aandsakkie styf onder my arm vasgeknyp nie.

      My oë beweeg oor die restaurant. Waar ís hy? Waar ís die bliksem? Die maître d’ wil weet of hy my kan help, of ek na iemand op soek is, of ek bespreek het. Sy stem sag soos fluweel, maar die uitdrukking op sy gesig nie meer heeltemal so verwelkomend nie. Wat het hy hier? ’n Vrou van die nag? Sy met haar swart mini en die verlore uitdrukking op die gesig? High-class genoeg as hy mooi na my Jimmy Choos sou kyk en my Franse parfuum sou ruik, maar nogtans nie noodwendig welkom hier tussen die A-lys-gaste nie.

      Ek dwing my oë terug na hom toe. Jeffrey Burgess, lees ek op die kopernaamplaatjie teen sy bors.

      Yes. Ja. Nee, hy hoef nie te worry nie. Ek . . . daar ís plek vir my. Bespreek, ja. Onder wie se naam? Onder

       . . . wel, seker onder Gary se naam? Van Heerden, ja, dis reg. Gary van Heerden, sy ma is Afrikaans, you know?

      Die arme Jeffrey Burgess kyk my aan asof ek ’n taal praat wat nog nie voorheen hier in Suid-Afrika gehoor is nie. Maar Gary se naam maak darem vir my die deur oop. “Ah! Miss Sally Smith, I believe.”

      So, ek het eintlik nie gelieg nie. Daar ís plek vir my bespreek, vir my, Sally Smith, Gary van Heerden se skelmpie.

      “Mister van Heerden asked me to look out for you. Please come with me.”

      Maar ek wil nie soos ’n mak lammetjie agter die maître d’ aanstap tot by Gary nie. Ek wil soos ’n leeu daar aankom, hom tref soos ’n onverwagte weerligstraal, gevolg deur ’n donderslag.

      “Nee, nee,” keer ek. “Wys net vir my waar hy sit. Ek wil hom verras.” Ek weet ek is veronderstel om Engels te praat, maar dis asof ek nie aan ’n enkele Engelse woord kan dink nie.

      Jeffrey Burgess glimlag, hy wys tande, gelerige tande, maar die res van sy gesig glimlag nie saam nie. “Just around the corner to your left,” beduie hy strammerig.

Скачать книгу