Danda op Oudeur. Chris Barnard

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Danda op Oudeur - Chris Barnard страница 2

Danda op Oudeur - Chris Barnard

Скачать книгу

vlak by die werfhekkie tot stilstand kom. Vlooi begin blaf en Danda is nie meer seker of hy die hond moet stilmaak nie. Die man vroetel in sy sakke rond en haal vuurhoutjies uit. “Toe maar, hondjie,” sê hy, nog steeds sangerig, “toe maar, my brak. Toe maar.” Hy sukkel om ’n vuurhoutjie aan die brand te kry; die goed breek of is almal al klaar gebruik, want hy gooi die een ná die ander weg. Vlooi word al kwater en spring teen die hek op, maar deins terug toe die soveelste vuurhoutjie skielik vlam vat. Die man hou die vuurhoutjie by die nommer op die hekkie en bring sy gesig nader – en Danda voel hoe sy vel skielik yskoud word. Die hand wat die vuurhoutjie bewerig vashou, is gebreklik; dit lyk soos ’n valk se poot. En die gesig wat langs die vlammetjie verskyn, is vol stoppelbaard en moesies, en die neus is benerig en baie krom en vol donker aartjies.

      “Wat wil jy hê?” vra Danda.

      Die man laat val die vuurhoutjie. “Ha!” sê hy. “Hier is men­se!”­ Dit klink byna asof hy deur daardie krom snawelneus van hom praat.

      Danda klim van die drom af en beweeg nader na die hekkie toe, maar Vlooi sorg dat hy tussen hulle bly. “Wat soek jy?”

      Die man leun vooroor en trek sy klein ogies nog kleiner. In die bietjie lig wat van die agterdeur af oor die werf lê, kan Danda sien daar sit ’n breë litteken oor die man se ken.

      “Ek soek vir jou,” sê die man. “Sê jou hond hy moet stilbly. Netnou is die hele wêreld wakker.”

      “Af, Vlooi!” sê Danda saggies. “Wag nou! Af!”

      Die hond bedaar, maar hy bly agterdogtig en knorrig en ál tussenin. Die man kom dit agter, want hy maak nie die hekkie oop nie en sy klein ogies boer maar heeltyd op Vlooi.

      “Het jy al ooit gehoor van iemand met die naam Kal­koen?”

      Danda knik, want hy hét die naam al gehoor, maar hy kan nie onthou waar nie. Was dit in die hawe? By die skool? By sy pa? Hy weet nie meer nie.

      Die man lag ’n snaakse laggie en voer skielik ’n blitsige dans­passie uit. “Dis ek,” sê hy byna triomfantelik. “Kalkoen Viljoen!” Hy loer om hom rond, kyk straat af, straat op. “Slaap jou pa al?”

      “Nee,” sê Danda teen sy beterwete, want sy pa is teen dié tyd seker al lankal in droomland.

      “Hy mag nie weet ek was hier nie, gehoor? Niemand mag weet nie. En as iemand jou vra of jy al ooit vir Kalkoen Viljoen gesien het, dan sê jy jy’t nog nooit eers sy naam gehoor nie, gehoor?”

      “Ja,” sê Danda.

      Kalkoen Viljoen loer weer straat toe. “Weet jy waar’s die Rooi Haan?”

      “Jy meen die kantien? Onder by die dokke?”

      “Einste.”

      “Ek was nog nie daar nie,” sê Danda, “maar ek weet so min of meer waar dit is.”

      “Eersteklas.” Kalkoen leun oor die hekkie, amper asof hy in Danda se oor wil fluister. “Môremiddag. Vieruur. By die Rooi Haan. Maar jy kom nie voor in nie. Kom met die agterste straat. Houtstraat. Daar is ’n groot skuur agter die kantien. Wag vir my agter in die skuur se jaart. Vieruur op die kop.”

      Vlooi hou nie van die skielike gefluister nie en hy knor weer en sy rughare staan penorent.

      “Wat moet ek daar gaan maak?” vra Danda.

      “Jy sal sien.” Kalkoen lag weer sy eienaardige laggie. “Jy sal bly wees jy’t gekom. Vieruur op die kop, onthou!”

      “Ja, maar …”

      Iewers in die straat is daar weer voetstappe en Danda kan sien hoe verstrak Kalkoen. Albei luister, Vlooi ook. En die volgende oomblik is Kalkoen skoonveld. Danda hoor net sy skuifelpassie iewers agter die sinkheining – slof-slof, slof-slof, en die yl stem wat neurie, al verder en verder, totdat die ­deuntjie wegraak in die donker.

      Die ander voetstappe het intussen stil geword. Danda wag en luister, en Vlooi luister saam met hom. Maar die straat is dood­stil. Hy hoor net die sleepboot wat toet, en ’n kriek ie­wers.

      Danda staan nog ’n hele ruk doodstil voordat hy omdraai en terugstap tot by die ogiesdraadhok. Ratel en die nagapie wag vir hom. Hy gaan sit langs hulle en druk sy vinger ingedagte deur die draad, krap Sindo se rug, kielie vir Ratel in die oor.

      Kalkoen Viljoen?

      Wie is hy?

      En hoekom wil hy hom môre vieruur by die Rooi Haan hê?

      Môre is Woensdag, en miskien is Rosina môremiddag op die strand. Hy sou baie liewer saam met Rosina en die diere langs die water wou gaan stap – sy mag immers net een maal ’n week in die middag van die koshuis af weg.

      En die Rooi Haan is ’n berugte plek. Dis waar al die matrose en die loslopers – Dons de Waal en Pontak se mense – saans uithang. Miskien moet hy maar eers die saak met sy pa bespreek. Maar aan die ander kant: hy weet wat sy pa sal sê – hy sal hom verbied om te gaan. En buitendien het Kalkoen hom laat belowe hy sal vir niemand vertel nie.

      Hoekom nie? Hoekom is dit vir Kalkoen so belangrik dat niemand weet nie? Sê nou die vent is ’n opperste skurk? Hy en sy trawante kan hom vang en hom iewers toesluit en niemand sal weet waar om na hom te gaan soek nie.

      Danda glimlag. Nou oordryf hy darem seker. Hoekom sal hulle hom wil kwaad aandoen? Hy het húlle nog nooit te na gekom nie. Behalwe natuurlik – en hy kom orent en kyk onseker huis se kant toe – behalwe as hulle iets teen sy pa het en hom op dié manier in ’n hoek wil jaag.

      Danda neem afskeid van die diere en klim teen die trap op huis toe. Sy pa slaap al. Hy maak die kamerdeur toe, draai die lamp op die kombuistafel effens hoër en haal sy skoolboeke uit. Maar dis moeilik om te konsentreer. Kort-kort betrap hy sy gedagtes by Vetvoet, by Rosina, by Kalkoen Viljoen en die Rooi Haan …

      Hy worstel deur sy Wiskunde, probeer sy Engelse spelling in sy kop kry, blaai lusteloos deur sy Geskiedenisboek. Miskien moet hy maar liewer môreoggend vroeg opstaan en die res van sy tuiswerk doen, want vanaand mors hy net tyd.

      Hy bad, sluit die agterdeur, draai die lamp dood en gaan kruip onder die komberse in. Sy pa haal rustig asem; hy slaap soos ’n klip, sy groot hande twee donker hompe op sy bors.

      Vlooi is nog steeds onrustig in die agterwerf. Hy blaf kort-kort. Môre kla tant Let weer.

      Ken sy pa vir Kalkoen? Tog seker. Die Rooi Haan is bý die dokke. En daar ken almal vir almal.

      ’n Ander gedagte duik skielik op: dié ding dat sy pa deesdae stiller is as gewoonlik – is dit regtig net omdat hy moeg is saans? Of bekommer hy hom dalk oor iets?

      En dan weet Danda ineens hy moet sy afspraak nakom. Hy sal dit nie vooraf met sy pa bespreek nie. Niemand mag weet nie. Hy sal klokslag vieruur by die Rooi Haan wees. Maar voor die tyd sal hy vir sy pa ’n briefie skryf, hom vertel van Kalkoen en van sy afspraak by die kantien, en hy sal die briefie onder sy kopkussing bêre. As hy dan iets oorkom en hulle soek na hom, sal iemand wel die briefie kry. Kom hy niks oor nie – goed.

      Wie weet, dalk kom hy op dié manier agter wat aangaan.

      Die volgende dag sleep die ure te stadig na sy sin verby. En boonop kry hy streepsuiker omdat hy nie sy Geskiedenisles

Скачать книгу