Kringe in 'n bos: Skooluitgawe. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kringe in 'n bos: Skooluitgawe - Dalene Matthee страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Kringe in 'n bos: Skooluitgawe - Dalene Matthee

Скачать книгу

sy ma se tyd haar oorval het op pad Brandrug toe waar haar mense gekap het. Hy was die tweede seun. Jozef was toe twee jaar oud en sy pa moes hom in die fynruigte wegsteek totdat alles verby was.

      Sy ma kon lees en skryf. Hulle had ’n Bybel en sy het vir hom en Jozef ook leer lees en skryf. Sy pa kon nie lees nie. Hy het gesê ’n man hoef nie te kan lees en skryf om hout te werk nie. En soos die ou olifantbulle die jong bulle leer, het hy hulle die dinge van die Bos geleer. Van die bome. Die verskil tussen ’n kalander en ’n upright, van die witpeer, die vlier, die rooi-els, die wit-els; van assegaai en hardepeer, ysterhout, kershout en kamassie. Sommige leer jy aan die lyf ken en ander aan die blaar. In die begin lyk ’n jong stinkhoutboom en ’n saffraan na dieselfde ding, totdat jy geleer het om steelkant van die stinkhoutblaar die twee harde knoppies te soek. Hulle het die struike van die onderbos leer ken, wat medisyne is en wat nie. Watter bessies jy kan eet, watter nie.

      Hulle het die voëls leer ken. Hy en Jozef. Party aan die stem lank voordat hulle hulle in die digtheid van die Bos gesien het. Die kok-kok-kok van die groot loerie het jou ongeduldig gemaak omdat dit ’n roep sonder lyf bly, sodat jy op ’n dag loop wag sit het met jou oë in die bosdak totdat die groot groen voël geruisloos afgesweef het na ’n laer tak en die bloedrooi vere van sy vlerke ’n oomblik in die sonspatsels geblink het.

      Die bosloerie is ’n ander een. Kleiner as die groot loerie, net so mooi, maar dommer. As jy jou lippe tuit om te fluit, maar jy fluit nie, jy hoot-hoot-hoot deur jou lippe, lok jy hom van ver af nader, en as dit nie te ruig was nie en Jozef het reg gemik met die klip, had hulle loerievleis in die pot vir die aand. Soms het jou geluk by ’n bosduif gelê. Die kleinvoëls het met die tyd saam name gekry: lawaaimakertjies, piet-my-vrou, die pikswart byevangers met die swawelsterte, die bontrokkies, die kleinjantjies, die suikerbekkies. Die hele swetterjoel.

      En die bokke. Die bosbok met sy bruin lyf en witspikkel-halsband – ’n ou ram word later amper swart van bruin en as jy een van hulle kwes, moet jy maak dat jy wegkom, want hy sal vir jou inhaal en jou op ’n ongemaklike plek bykom met sy horings. Hulle sê dis hoekom ou Anneries nooit getrou het nie. Jy leer die grysbok in die kruppelbos ken. En die mooiste bokkie van almal: die bloubokkie van die ruie onderbos. So klein, so lig van voet dat jy selde sy stippelspoortjies kry, miskien iewers waar hy oor die dryfsand langs ’n stroompie is of oor ’n sandplek in ’n voetpad. Afgeslag, het hy maar ’n groot hoender se vleis en sy wip moes jy fyn stel; nie net vir die bokkie self nie, maar ook vir die boswagter.

      “Julle roei die goed uit!” is die tyding op ’n dag die Bos in gestuur. “Die man wat ons vang wat ’n bloubokkie vang, is in die moeilikheid!” Maar jy laat nie ’n houtkapper só maklik skrik nie.

      “Die man wat ’n bloubokkie vang, se liksens sal afgevat word!” is ’n beter dreigement agterna gestuur.

      Van toe af is die wippies en die boswagter fyn dopgehou. Sy pa het hulle belet om weer ’n bloubokkiewip in ’n voetpad te stel, al was dit die beste plek vir myle ver. Mens weet nooit watter dag die boswagter kies om rondom die kap van jóú byl te kom spaai nie. Toe het hulle maar in die ruigtes gesoek totdat hulle afkom op ’n hopie mis so groot soos gortkorreltjies, of bloubokkiepaadjie kry. Sy pa het geglo jy moet vir die kop stel, nie vir die pote nie. Jy buig ’n lekker jong boom af en bind ’n bloklynlus aan die punt sodat dit twee handhoogtes bokant die grond sal hang nadat jy die boom se punt geanker het dat dit net-net hou. Nou kom die bokkie wei-wei nader, sy kop is deur die lus voor hy weet waar hy is, die boom skiet terug en ruk die lus om sy gorrel vas, en die boswagter kan maar kom. Die bokkie sal bokant sy kop in die Bos verwurg hang en hy sal onder verby en dit nie weet nie.

      En die grootmense het jou nog ’n ander ding van die bloubokkie geleer: hulle is anders as al die ander bokke in die Bos omdat hulle gal in hul koppe sit. Sowaar. Daarom is hul naam ook galkoppies. En dit sou ’n bloubokkie wees wat die eerste dink in Saul laat loskom het.

      Maar voor dit alles en bo dit alles het hy en Jozef van die groot vrees wat in die Bos wandel, geleer. Van die olifante. Hy was klein toe hy vir die eerste keer die verskriklike bol mis gesien het. Seker so vyf jaar oud. Hy en sy pa en Jozef en oom Anneries was op pad na waar daar stinkhout gewerk moes word, en dit was die eerste keer dat hy volwaardig saamgeneem is om die eerste take van ’n boskind te leer: die werk om die skerm. Water aandra, vuurhout kap, vuur maak, die vuur oppas, die patats onder die as bak en uithaal voordat die olie uitkook, koffie maak.

      Die bol het in die voetpad gelê.

      “Is dit één olifant s’n, Pa?” Hy het verskrik vasgesteek; dit was so groot soos ’n jong os se kop!

      “Stil!” het sy pa vinnig gekeer. “Jy noem nie sy naam in hierdie bos nie! Hy hoor vir jou en dink jy roep hom. Kom!”

      Maar hy sou bo-oor die grote bol moes trap en hy was te bang om dit te doen. Oom Anneries het eendag gesê tien osse saam is een groot olifant se lyf.

      “Hy gaan ons trap, Pa!” het hy begin huil en agtertoe gestaan.

      “Jy’s dom, man! Die mis is ten minste twee dae oud en teen dié tyd is hy seker al bo by Jonkersberg as jy my vra. Kom!”

      Van ou grootvoete of ou dikbene of van onse voorouers mag jy gepraat het, maar nooit van ’n olifant nie. Net vreemdes het só onverskillig in die Bos kom praat.

      En hulle het van die eerste wapen teen die groot vrees van die Bos geleer: die wind. Al roer daar nie ’n blaar om jou nie, soek jy ’n skerf blou lug bokant jou deur die blaredak en wag dat ’n wolkie verbytrek sodat jy kan weet watter kant toe om te hol as die takke Bos in breek.

      Hy was nege toe hy vir die eerste keer alleen voor die groot vrees moes staan. Hulle het getrek en by Groot Eiland gaan huismaak. Sara en Magdalena was toe klein en Izak is kort daarna gebore. Wanneer daar ver van die huis af gekap is, het hulle ’n skerm gemaak en in die Bos gebly totdat die hout klaar was. Soms drie weke en langer. As hulle nie te ver van die huis af gekap het nie, het hulle donkervoordag opgestaan om ligdag by die hout te wees, heeldag gekap en laatmiddag weer teruggestap. Baie moeg.

      Hulle het daardie keer by Witplekbos waenhout gemaak en alhoewel dit maar so twee uur se stap van die huis af was, het sy pa aan die einde van die eerste week besluit om skerm te maak en te bly tot die hout klaar is; die suiker was op, die koffie en twak was min en by die huis was die meel ook aan die opraak. Die hout moes uitgesleep en reggemaak word en op die dorp kom. Saul was toe nog nooit op die dorp nie en sy idee van die plek was taamlik vaag.

      Teen die einde van die derde week het dit egter begin reën en dit was te nat om te kap of te saag. Al wat hulle kon doen, was onder die skerm sit en hoop dit klaar op. Oom Anneries was darem bly oor die reën; dit het hom kans gegee om voor te kom met sy speke. Ses wa-speke het vir die ou ’n bottel brandewyn, Cape Smoke, op die dorp geruil en hy kon die netjiesste speke met ’n dissel uit ’n stuk assegaaihout kap. Later jare het Saul dikwels gewonder hoeveel waens oor dié land kreun met ou Anneries se brandewynspeke in die wiele.

      Ou Anneries. Toe Saul op ’n dag uitvind dat sy regte naam eintlik Andries van Huysteen is, het dit soos ’n vreemdeling geklink. Vandat hy sy verstand gekry het, het die ou maar by hulle gewoon en in sy pa se span gekap.

      Dit het vyf dae lank gereën. Toe dit opklaar, was die kos so te sê op. Een van hulle sou moes huis toe om kos te haal. Hy of Jozef. Maar Jozef kon teen daardie tyd al sterk help by die hout en elke hand had net sy vat.

      Die volgende dag het Saul se pa hom tot by die naaste voetpad geneem.

      “Jy steel nie napad nie,” het hy die orders afgegee. “Jy hou met hierdie voetpad aan tot by die sleeppad en dan hou jy wes – sononder se kant toe, tot by die ou skerm, en daarvandaan vat jy weer die voetpad.”

      “Ja,

Скачать книгу