Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Huistaal. Riens Vosloo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Huistaal - Riens Vosloo страница 4

Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Huistaal - Riens Vosloo Piekfyn Afrikaans

Скачать книгу

vreemdeling doen dieselfde.

      Van Hunks se breë bors gaan op en af, op en af. Hy begin nou behoorlik stook – gelukkig het hy sy grootste twaksak net die oggend volgemaak.

      Die vreemdeling volg sy voorbeeld. Waar hy sy tabak vandaan haal, kan Van Hunks nie sien nie. Al wat hy weet, is dat hulle pyp vir pyp saam rook en dat die rookwolk om hulle al digter word.

      “Kom ons ruil ’n bietjie pype om,” stel Van Hunks voor.

      Die vreemdeling se oë vernou. Ná ’n rukkie sê hy: “Goed,” en hou sy wit kleipyp na Van Hunks uit. Van Hunks stop nog eers sy kromsteel lekker vol voor hy dit aangee.

      Hy steek die vreemdeling se kleipyp op en trek. Maar niks gebeur nie – hy kan glad geen rook uit die pyp suig nie. Kwaad draai hy na die vreemdeling. “Dis kullery!” gil hy.

      Maar die man kan nie praat nie. Hy het seker te diep aan Van Hunks se pyp getrek en is wit in die gesig. Toe word hy groen.

      “Wat is verkeerd?” vra Van Hunks en vee senuweeagtig oor sy fluweelonderbaadjie.

      Maar die man kry nie ’n woord uit nie. Hy is nou al pers in die gesig en sy oë rek al groter. Hy wil hoes, maar hy kan nie.

      “Wag, laat ek jou help,” sê Van Hunks en gee hom ’n flink klap agter die blad.

      Maar in plaas van hoes, vlieg die man se punthoed af.

      Van Hunks word yskoud. Op die vreemdeling se kop, tussen die welige swart hare, steek twee klein spits horinkies uit!

      “Jou derduiwel!” skree Van Hunks. “Jou satanskind, vat jou pyp, ek sal jou wys!”

      Die duiwel vat sy wit kleipyp by Van Hunks en Van Hunks vat sy kromsteel terug. En toe rook hulle eers! Hoe die duiwel rook uit sy pyp kry, weet Van Hunks nie, maar die hele Windberg is ná ’n ruk toe onder die rook. Die rook kruip later oor Tafelberg ook, maar al wat kopgee, is Van Hunks en die duiwel. Dag ná dag sit en stook hulle daar.

      Jaar ná jaar duur die wedstryd voort. Windberg word later na Duiwelspiek verdoop en die handjievol huise groei tot ’n stad.

      Net in die winter word dit te koud, en dan vat die twee ’n blaaskans. Dan gaan die duiwel terug na sy warm plek. Waar Van Hunks dan vertoef, weet nugter, want ná daardie warm somerdag toe die Kaap nog Hollands was, het niemand hom ooit weer van naby gesien nie.

      Maar as die wit wolke op ’n lekker winderige dag so van Duiwelspiek af sak en oor Tafelberg tuimel, kyk die mense op na die berg en sê: “Ja-nee, vandag sit en stook Van Hunks en die duiwel weer behoorlik.”

      Woordverklarings

      aanmeer – ’n skip voor en agter in ’n hawe vasmaak

      blaaskans – pouse, rustyd; afgelei van die manier waarop ’n mens of dier letterlik ophou werk en diep sug om ’n rukkie te rus

      blad – die skouer se agterkant

      bonkig – groot van lyf, gespierd

      drinkebroers – mans wat gereeld saam alkohol drink

      eenoog-verkyker – verkyker met net een buis

      kaai – ’n plek waar skepe kan aanmeer

      kleinboer – iemand wat op ’n klein stukkie grond met min produkte boer

      loopplank – ’n plank waarop mense tussen die skip en die kaai kan loop

      mynheer – ’n ou vorm van “meneer”, uit Nederlands afgelei

      slonsig – slordig, vuil

      stook – diep en baie rook

      stroef – onvriendelik, somber

      weet nugter – weet niemand

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Wat was Duiwelspiek se naam vroeër en hoekom het dit Duiwelspiek geword?
2.Wie het hierdie rookwedstryd gewen? Hoekom sê jy so?
3.Noem vier beroepe van mense wat op die kaai saamgedrom het met Van Hunks se aankoms.
4.Hoe weet jy dit is nie die eerste keer dat die Kapenaars Van Hunks sien nie?
5.Skryf die sin neer waaruit ons aflei Van Hunks was deftig aangetrek.
6.Hoe weet jy hierdie verhaal het lank gelede afgespeel? Noem twee redes.
7.Noem drie kenmerke van die volksverhaal wat in hierdie verhaal voorkom.
8.In die winter vat Van Hunks en die duiwel ’n blaaskans. Beteken dit elkeen kry dan ’n kans om rook oor die Kaap te blaas? Hoekom sê jy so?
9.Is ’n “satanskind” een van die duiwel se kinders? Hoekom sê jy so? Raadpleeg ’n woordeboek vir jou antwoord.

      Hlaulu en die bosdier

      Corlia Fourie

http://ya020101222180103-7582356.webstarts.com/uploads/Necklace_Chocker_BLACK___RED_Seeds_Ph__7.jpg

      Prelees – groepbespreking

       Die titel handel onder andere oor “die bosdier” maar in die illustrasie is ’n string krale, en net mense dra tog krale. Waarom laat krale en ’n bosdier jou vermoed dit is ’n volksverhaal?

       Kan hierdie verhaal dalk oor Rooikappie gaan? Hoekom sê jy so?

      Die verhaal

      Eendag was daar ’n meisie met die naam Rooikrale Hlaulu, want sy het graag rooi krale om haar nek, haar middel en haar enkels gedra.

      Elke oggend gee Hlaulu se ma vir haar ’n potjie pap om vir ’n siek ou vrou te neem. Die ou vrou woon aan die ander kant van die bos.

      Hlaulu se ma sê nooit vir haar om nie die kortpad deur die bos te neem nie, want sy weet Hlaulu sal nie deur die bos stap nie. Niemand in die dorpie stap deur die bos nie. Nie die groot sterk manne nie, nog minder die vroue en kinders.

      Want almal in die dorpie weet daar bly ’n vreeslike dier in die bos. Hy het ’n naam ook – Kwobu Khuni. Hoewel niemand al ooit vir Kwobu Khuni gesien het nie, kan almal hom hoor. Hy skreeu in die dag, maar hy skreeu veral in die nag. Hy skreeu so aaklig dat die leeus in die veld aan die brul gaan en die honde in die dorpie tjank.

      Dan sê die mense: “Kwobu Khuni is weer baie kwaad vanaand. Pas op vir Kwobu Khuni.”

      En die mans bly in hul hutte. En die vrouens sit naby hulle mans. En die kinders klim op hulle mammas se skote.

      Almal is stil. Almal wag. ’n Mens weet mos nooit wanneer storm Kwobu Khuni uit die bos en val die dorpie aan nie.

      Bedags is dit nie so erg nie. Jy sal Kwobu Khuni kan sien aankom as hy sou besluit om te storm. Jy sal iets kan doen. Iets soos onder ’n bos gaan wegkruip of in ’n boom klim, of die mans kan hul assegaaie gryp en hom almal saam aanval.

      Dis oor sy bang is vir Kwobu Khuni dat Hlaulu die ver pad om die bos stap met die potjie pap op haar kop.

      Dis

Скачать книгу