Eiland van drome. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eiland van drome - Malene Breytenbach страница 4

Eiland van drome - Malene Breytenbach

Скачать книгу

hulle te flankeer. Irene weet egter dat hy diep versteurd is en dat hy die een vrou ná die ander gehad en gelos het.

      “Ek maak hulle bang,” spot hy. “Hulle soek my lyf, maar ek skree in die nag.”

      Sy haal Lindt-sjokolade uit haar laai en breek ’n blokkie af. Dit gee haar energie, glo sy. Eintlik is dit haar verslawing. As sy so gedurig lus kry vir iets wat vet maak, en haar die plesier nie ontsê nie, laat dit haar verstaan hoe mense aan ander goed verslaaf kan wees. As student kon sy nooit geld op sjokolade mors nie. Nou gaan sy oorboord.

      Sy maak haar e-pos oop en sien dat daar ’n boodskap van professor Mears is. Terwyl sy die soetigheid geniet en bietjie agteroorsit, maak sy dit oop. Verstik dan amper.

      “Ek sien jy het sonder my medewete of toestemming ’n artikel oor posttraumatiese stres in die Medical Journal gepubliseer. Dit grief my werklik dat jy my nie eens daarvan in kennis gestel het nie.”

      Woede stoot vuurwarm deur haar wese. Dit is nou wragtig die laaste druppel wat die emmer laat oorloop! Verwag die man dat sy sý toestemming moet vra wanneer sy enigiets wil publiseer? En die artikel gaan nogal oor haar eie pasiënte wat niks met hom te doen het nie!

      Tandeknersend antwoord sy. Vandag breek sy bande tussen haar en haar voormalige dosent.

      Sy is so verwoed aan die tik dat sy nie hoor hoe iemand aan haar deur klop nie. Toe sy sien, staan die persoon voor haar lessenaar.

      “Klop jy nie … ?” bars sy uit, maar skrik toe sy sien dit is dokter Nicholas Barton.

      “Jammer, ek hét geklop, maar jy het nie geantwoord nie. Toe kom ek maar in. Ongelukkig is ek haastig terug Griekeland toe. Het jy al besluit of jy die pos wil hê?”

      Sy staan op. Hy klink dwingend en kortaf.

      “Nee … nog nie … ”

      “Ek het reeds twee aansoeke van personeellede hier gekry, en hulle is goed. Ek het net gedink ek gee jou die eerste opsie.”

      Hy kyk haar fronsend aan en oorheers die kantoor met sy groot gestalte en persoonlikheid. Sy is gevlei dat hy haar werklik wil hê.

      Dié professor Mears het haar nou weer so kwaad gemaak. Dalk moet sy tog nuwe weivelde gaan opsoek en afstand tussen hulle sit. Buitendien is daardie salaris nie te versmaai nie … “Goed, ek neem die pos,” hoor sy haarself sê.

      Hy knik tevrede. “Jy sal nie spyt wees nie. Ons tref die reë-lings. Kry jou dinge in orde. Nou moet ek lughawe toe jaag, totsiens eers, dokter Basson.”

      Irene kyk hom effens verdwaas agterna. Sy het haar verbind! Sy weet meteens nie of sy jammer of bly is nie. Nee, sy voel regtig gevlei. Maar dit gaan ontwrigting meebring … Sy kom agter dat haar hart aan’t rumoer is. Dié man laat haar dans. Sy, wat nog nooit toegelaat het dat enige man haar manipuleer nie.

      Maar Nicholas Barton is nie énige man nie!

       3

      Irene se ma neem haar na Kaapstad Internasionaal. Toe hulle mekaar omhels en soen, is daar trane in albei se oë. Irene moet gaan na waar die Nikos Trust se Lear Jet wag om die passasiers na die eiland Corfu se Ioannis Kapodistrias Internasionale Lughawe te vervoer. Van daar haal hulle ’n vliegtuig van Nikos Sea Lines na Manos wat suidoos van die groot eiland lê. Op Manos is daar ’n hawe waar die seevliegtuig land. Hulle moet deur paspoortbeheer op Corfu gaan. Die reëling van alles, werkpermitte ingesluit, is vinnig en glad deur die Nikos Trust afgehandel.

      “Ek hoop jy werk baie lekker daar oorkant, my kind,” sê Lea, en vee haar oë af. Sy glimlag dapper deur haar trane.

      “As ek nie daarvan hou nie, kom ek summier terug,” sê Irene wat swaar afskeid neem, al het haar ma belowe om binne­kort te kom kuier. Wat haar die meeste pla, is dat haar ma eensaam sal wees en haar sal mis, al het sy ’n groot vriendekring.

      “Dis nou hoog tyd dat jy jou van my rokspante losmaak,” probeer haar ma nog terg. “Jy’s mos nou mooi groot.”

      Irene wil lag, maar kry dit nie reg nie. “Ja, dis hoog tyd dat ek my vlerke sprei en vlieg. Maar ek sal Mams so mis. Ons sal maar moet skype, dan kan ek Mams alles vertel en wys.”

      Sy wuif vir oulaas toe sy haar tas wegsleep. Ondanks die afskeid, sien sy uit na die avontuur. Sy was al in Europa maar nog nie in Griekeland of op enige van die blykbaar wonderlike eilande nie, en sy is nuuskierig om alles te sien.

      Toe sy uiteindelik by die Lear Jet aankom, sien sy ’n groepie mense daar staan, op die punt om die trap te bestyg. Daar is Suzette Horn en Roelof Schutte, en Irene is verwonderd toe sy Nancy Dewar ook herken. Benewens hulle vier is daar ’n sielkundige wat sy al ontmoet het, maar nie goed ken nie. Sy weet net sy naam is Lodewyk Seegers.

      Iemand kyk by die vliegtuig se deur uit. Nicholas Barton self! Sy het hom nie weer by die kliniek gesien nie en het geglo hy is in Griekeland. Hy kyk rond en verdwyn weer. Die mense begin die trappe klim. Suzette en Roelof wuif vir haar en sy wuif terug.

      “Jy’s laat!” roep Roelof. “Jy kan nie die vlug verpas nie, dis spesiaal vir ons gereël. Ons word soos BBP’s behandel.”

      “Ons kan bly wees ons vlieg nie ekonomiese klas op Olympic Air nie,” lag Suzette. “Dis so goed of ons vlieg eersteklas. Ek hoop hulle gaan vir ons sjampanje en kaviaar gee. Of minstens lekker Griekse kos.”

      Die bemanning is twee mooi Griekse waardinne, ’n loods, navigator en twee manlike kelners. Irene bekyk die binnekant van die vliegtuig. Oral is die Nikos-logo, alles in blou en grys, die Nikos-kleure. Die bemanning dra ook blou uniforms. Aan die agterkant van die binneruim is ’n deel met glasmure afgeskort. Nicholas Barton en ’n vrou sit daar. Dit lyk asof hulle werk, want hulle het rekenaars en fone.

      Irene sit langs Suzette en Roelof kom sit naby hulle. Die vliegtuig is ruim en die sitplekke is nie teen mekaar nie. Nancy Dewar en Lodewyk Seegers sit langs mekaar en gesels. Die waardinne neem hulle handbagasie en bêre dit in kaste. Irene bly intens bewus van Nicholas Barton, wat nie te ver van haar af is nie. Hy lyk so besig daar agter sy glasafskorting dat hy glad nie in hulle rigting kyk nie.

      “Moet ons die grootbaas gaan groet?” wonder sy hardop.

      “Jy kan, maar hy het sy persoonlike assistent by hom en hulle werk nog eenstryk deur,” sê Roelof.

      Irene besluit om liewer te bly sit en kyk na die mense in die vliegtuig. Benewens die bemanning en die vyf personeellede van die kliniek, is daar twee mans met donkerbrille.

      “Ek dink daardie twee ouens is lyfwagte,” fluister Suzette, wat ook na hulle omkyk. “Mans in pakke met sulke spieëlbrille is gewoonlik lyfwagte of spioene. Onder daai baadjies is spiere en vuurwapens, dink ek. Dis nou ’n ekstra bate om so veiligheidsbewus en in sulke weelde na Griekeland vervoer te word. ’n Ander werkgewer sou ons net saam met die beeste gestuur het. Ek knyp my elke keer wanneer ek aan ons salaris­verhogings dink. Ek het uitgewerk, ek sal so baie kan spaar, want ons bly en eet verniet. Ek sal binne ’n jaar ’n windmaker­motor kan bekostig.”

      “Ek wou vir my ’n meenthuis en nuwe motor gekoop het en ek het gewonder hoe ek alles sal bekostig,” sê Irene. “Nou sal ek genoeg kan spaar om dit reg te kry. My ma het gekla oor ek nog met my ou studentekarretjie rondgery het. Ek het hom nou aan ’n student verkoop vir tienduisend rand.”

      Sy

Скачать книгу