Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 25

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman

Скачать книгу

te wees nie. Ek haat myself. Ek voel soos ’n skurk. Ek sien nie meer kans om my as Daniela voor te doen nie.”

      “Sjuut, nie so hard nie,” waarsku Martin. “Ons is reeds halfpad. Ek het Koedoeskloof, Bergsig, die Simmentalers en ’n vet klomp kontantgeld. Ek kan jou helfte van die vyf-en-dertigduisend rand nou betaal as dit jou sal help om voort te gaan.”

      “Ek wil nie jou geld hê nie. Ek sal in elk geval geen sent daarvan kan gebruik nie, want dit sal skandegeld wees. Mens kan jou eer en jou selfrespek nie met geld koop nie.”

      Martin lyk peinsend, dan wil hy koel weet: “Het dokter Retief iets daarmee te doen dat jy skielik ’n gewete ontwikkel het?”

      “Nee, natuurlik nie,” jok Ila. “En dis nie skielik nie. Ek wou van die begin af nie by jou gemene plan inval nie. Dis jy wat my omgepraat het. Maar nou wil ek kop uittrek.”

      “Goed,” sê Martin kalm. “Ek sal jou nie weer probeer ompraat nie en ook nie keer nie. Skakel die ketel af en gaan sê vir die ou man jy is Elizabeth Verster, ’n wildvreemde meisie wat toevallig soos Daniela lyk en gedink het jy kan munt uit die transaksie slaan. Sê vir hom Daniela is dood, en sy sal nooit weer terugkom nie.”

      Ila bly met haar hand op die elektriese skakelaar staan. Martin het gewen, besef sy. Hy is baie slim. Hy weet as sy so iets doen, sal die skok te veel vir die ou man se hart wees. En wat sal dit haar baat? Johan Retief sal nie meer van haar dink as sy skielik in hierdie laat stadium ’n eergevoel ontwikkel het en nie meer saam met Martin Niehaus wil konkel nie. Dokter Retief sal haar nog steeds verag, nog steeds niks met haar te doen wil hê nie.

      Martin hou Ila dop, hoewel hy nie uitermatig bekommerd is nie. Ila se gesig is ’n spieël van wat in haar gedagtes omgaan. Reeds toe haar hand uitgegaan het om die ketel af te skakel, het hy geweet sy sal dit nie regtig doen nie. Daarvoor is sy te sag, te jammerhartig, te bang om die ou man seer te maak. Dis hierdie karaktertrek in Ila waarop hy van die begin af staatgemaak het. Dis hoe hy haar in die eerste plek omgepraat gekry het. Hy het daarop gehamer dat sy aan ’n sterwende ou man sielerus sal gee, dat Daniela se tuiskoms ’n eensame ou man gelukkig sal maak. Dit was Ila se jammerhartigheid wat die deurslag gegee het, veel meer as die vyf-en-dertigduisend rand wat hy belowe het om haar te betaal.

      Ila skakel die ketel af. Sy stap egter nie voorstoep toe nie. Sy laat haar gesig in haar hande sak en begin huil. Toe Martin haar wil troos, stoot sy hom weg.

      “Ek g-gaan kamer toe. Sal jy die tee maak?”

      “Ek sal Mieta roep. Ek dink jy moet een van die ou man se kalmeerpilletjies drink, liefste. Jy het ’n noue ontkoming gehad en dit het jou ontstel. Drink ’n pilletjie, my skat.”

      “Nee. Ek wil net in my kamer wees – al-alleen wees. En moenie my liefste noem nie.”

      “Hoekom nie?” wil Martin weet. “As ’n man op ’n meisie verlief is, is dit die natuurlike aanspreekvorm. Hoekom mag ek jou nie so noem nie, my liefste?”

      Dog Martin praat met homself. Ila het uit die kombuis gehardloop en hy hoor hoe sy haar kamerdeur agter haar toemaak.

      Ila het langer as ’n uur op haar bed in die kamer gelê, haar kop onder die kussing ingedruk om haar snikke te demp. In die laatmiddagstilte kon sy hoor hoe die Simmentalers bulkend kraal toe kom. Daar was die klank van hoenders wat slaapplek vir die nag soek, en een keer het die rifrug gegrom en skerp getjank. Toe was daar weer stilte. Net die stemme onder op die voorstoep was hoorbaar waar Daniel Niehaus en dokter Retief nog sit en gesels.

      Ila het kort-kort deur die badkamervenster geloer of die donkergroen motor nog onder die frangipaniboom staan. Toe sy pas na sesuur aan die stemme hoor dat dokter Retief aanstaltes maak om te vertrek, spoel sy gou haar gesig onder die kouekraan af. Sy drink ’n glas koue water, vee haar hare plat en glip met die trap af en by die agterdeur uit. Sy volg ’n dowwe voetpad agterom die melkery, by die hoenderhokke verby en tot by die laning seringbome weerskante van die motorpad. Die stamme van die bome is dik en breed genoeg dat niemand haar uit die huis sal kan dophou nie.

      Ila het vinnig gehardloop. Sy het gehoop om eerste by die brug te wees sodat sy tyd kan hê om haar sinne netjies te formuleer en haar gedagtes agtermekaar te kry, dog sy het haar met die snelheid van die Mercedes misgis. Toe sy om die laaste draai kom, is die motor byna bo-op haar. Sy gooi haar arms in die lug en beduie dokter Retief moet stilhou.

      Die sykant van die motor mis Ila rakelings. Die bande skree en die Mercedes kom wiegend in ’n stofwolk tot stilstand, die voorwiele op die brug en die linkervoorste buffer gevaarlik naby aan die relings.

      “Vroumens!” roep Johan woedend uit. “Maak jy ’n gewoonte daarvan om voor motors in te storm? Wil jy hê ek moet van roekelose bestuur of van moord aangekla word?”

      Ila steur haar nie daaraan dat Johan Retief haar ’n tweede keer amper doodgery het nie. Sy is net dankbaar dat hy wel stilgehou en haar die geleentheid gegee het om met hom te praat.

      “D-Dankie,” sê Ila uitasem.

      “Waarvoor? Omdat ek jou hierdie keer wéér nie morsdood gery het nie? Dit sou jou verdiende loon gewees het.”

      “Ek weet, maar … maar ek moes jou stop. Ek moet met jou praat. Daar is iets wat ek wil verduidelik.”

      Johan klim nie uit sy motor nie en hy skakel ook nie die masjien af nie. “Dit moet belangrik wees, want jy het so te sê jou lewe daarvoor gewaag. Maar jammer, ek stel nie in ’n verduideliking belang nie. Bere dit vir Martin Niehaus,” sê hy koud.

      Die brug is smal en Ila staan reg in die middel daarvan, sodat Johan Retief nie kan ry nie.

      “Ek wil jou vertel dat my naam Daniela Niehaus is,” sê sy desperaat. Asseblief, stuur sy ’n skietgebedjie op, laat hy haar glo. Laat hy nie dink sy en Martin is kop in een muis om die ou man te bedrieg nie.

      “Dit het jou vader reeds gedoen en jou stiefbroer het dit beaam. Gee asseblief pad, juffrou. Ek het spreekure by die hospitaal en ek is laat.”

      “Ek het gejok toe ek gesê het my naam is Elizabeth Verster,” hou Ila vol.

      Johan is opnuut kwaad vir hierdie meisie omdat sy hom vir die gek gehou het. Hoekom sy vir hom so ’n spul leuens vertel het, weet hy nie, maar hy is ook vir homself kwaad omdat hy alles geglo het. Kastig Elizabeth Verster van Johannesburg … Was nog nooit op Nelspruit nie. Alles leuens, en hy was dwaas genoeg om dit vir soetkoek op te eet.

      “Gejok? Ja, dit het ek agtergekom. Oppas, juffrou, jy gaan van die brug afstort as ek vorentoe ry.”

      Die masjien brul en die Mercedes beweeg ’n entjie vorentoe, dog Ila gee nie pad nie. Gelukkig kan sy nie hoor wat Johan Retief sê toe hy weer die rem moet trap nie.

      “Ek wil verduidelik hoekom ek gejok het. Ek was bang vir …”

      “Ek gee nie om vir wié jy bang is nie, juffrou Niehaus. Ek sal verkies dat dit vir mý moet wees, want ek gaan nie huiwer om jou plat te trap wanneer ek oor die brug ry nie.”

      Ila skrik. Hy lyk so kwaad dat hy heeltemal in staat sal wees om hierdie keer sy dreigement uit te voer. Sy gee ’n bietjie pad en hou aan een van die stukkende relings vas.

      “Dis omdat ek vir Martin bang was,” verduidelik Ila. “Hy …”

      Weer kry sy nie kans om haar sin te voltooi nie. “Bang?” val Johan haar minagtend

Скачать книгу